Om God te ken

Advent is om die draai. Dit is die seisoen van verwagting.

As agtergrond van dié verwagting kan ’n mens dink aan die ou tradisie dat God eintlik onkenbaar, onbegryplik is.

Moses ontmoet Hom in die woestyn as ’n stem uit ’n brandende bos wat Homself bekendstel met die kriptiese woorde “Ek is”. Vir Elia is God nie in die sterk wind, die aardbewing of die vuur nie, maar in ’n fluistering in die windstilte. Job hoor God se stem uit ’n stormwind. Dié stem vra vrae wat Job iets van die onbegryplikheid van God laat snap.

Ons leef vandag steeds met die wete dat God groter as ons gedagtes is, dat God in ’n sin onbegrypbaar is.

Maar dan kom Kersfees. Dan kom openbaar God Hom­self vollediger as ooit tevore deur die mens Jesus van Nasaret. Deur Jesus Christus.

Self sê Jesus volgens die Evangelie van Johannes: wie Hom sien, sien die Vader; wie Hom ken, ken die Vader.

In Jesus leer ons God op verrassende maniere ken. Hy is die Een wat in weerloosheid na ons toe kom, as ’n babatjie wat in doeke toegedraai word.

Hy is die Een wat liefde sentraal stel in die verstaan van die wet.

Hy is die Een wat grense oorsteek na almal wat buite die kring van sosiale aanvaarbaarheid is.

Hy is die Een wat helend teenwoordig is by mense.

Hy is die Een wat besorg is oor die minstes, die weerloses, die armes.

Hy is die Een wat dien.

Hy is die Een wat kom om Homself te gee.

Advent is die seisoen van verwagting. Mag dit by ons ook die verwagting wees om die onbegryplike God beter te leer ken, dieper te leer ken, om nader aan dié God te kom.