Die olyfboom sal altyd daar wees

Daar word ’n storie vertel van ’n sewejarige seuntjie wat op Kreta, een van die Griekse eilande, woon.

Kreta se ekonomie steun swaar op olyfbome. Nadat die oes die een jaar voltooi is, besluit die seuntjie om die olywe wat agtergebly het en op die grond lê, op te tel en bymekaar te maak vir ’n paar skoene, omdat hy nie skoene gehad het nie.

Nadat hy die heeldag hard gewerk het om ’n groot sak vol te maak het hy dit teen een van die bome gesleep en toegemaak onder takke. Hy het toe huis toe gehardloop om sy ouer broer te vra om hom te kom help met die terugdra dorp toe.

Die broer het opgewonde met ’n kruiwa gekom om te kom help. Daar aangekom sien die seun dat die takke verwyder is en die sak weg is. Hy was woedend en het hard gehuil en die boom met sy vuiste geslaan.

Die ouer broer het hom probeer kalmeer met die volgende woorde: “Moenie bekommerd wees nie. Die olyfboom sal altyd daar wees.” Die ouer broer het met die woorde ook sy eie paar skoene uitgetrek en vir sy jonger broer aangetrek. Die jonger broer is toe binne die kruiwa gelaai en deur sy ouer broer terug huis toe gestoot.

“Die olyfboom sal altyd daar wees.”

As jong leraar is dit trooswoorde, veral waar ’n mens maklik moedeloos kan raak, broos voel, wil huil en die boom wil slaan weens verskeie onregverdig­hede. As diensknegte van die lewende Here moet ons onsself daagliks herinner aan die groter storie: die wil­de takke van Romeine 11 wat ingeënt is in die mak olyfboom. So het ons deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel met die wete dat dit nie ons is wat die wortel dra nie, maar die wortel dra jou.

Mag ons as die bruid van God in al sy diverse vorme in afhanklikheid van die bron leef, met die wete dat God sy kerk in stand hou. Ons is juis geroep in ’n tyd soos dié om in afhanklikheid van God die Vader te leef.

Mag dit ’n tyd met hoë vlakke van inkarnasie en innovasie wees gevul met ’n positiewe ingesteldheid en bou van vennootskappe waar ons tuiskom in Afrika. Mag Jesus ons skoene gee om aan te trek. Mag Hy ons huis toe terug stoot in die kruiwa met die trooswoorde: “The olive tree will always be here”.

Gaan kyk gerus na “The olive tree will always be here” op YouTube:

Ds Johan Visser is predikant van die NG gemeente Woodland Hills in Bloemfontein.