Hulde aan prof Attie

Prof Cas Vos skryf:

Op 12 Oktober het ek van die afsterwe van ’n geliefde vriend, kollega, departementshoof en voorsitter van die Psalmhersieningskommissie gehoor. Om te dink: Die wonderlike vriend en kollega is weg. Al wat oorbly, is onthousels. Sy stem, sy warmhartige en unie­ke persoonlikheid, sy akademiese leierskap en bydrae, sy besondere vriendskap.

Ek is as jongeling uit ’n aangrensende deel van die Teologie, naamlik Dogmatiek, in 1989 as medeprofessor beroep. Ek het hoë agting vir prof Barnard gehad. Sy menslikheid, hartlikheid, integriteit en spitsvondigheid het my dadelik tuis laat voel. Veral sy akademiese vernuf en toewyding het my diep beïndruk.

Sy boek, Die Erediens, is welverdiend met die Andrew Murray-prys bekroon. Dit is ’n werk van hoogstaande gehalte. Prof Gerben Heitink, bekroonde Nederlandse teoloog, het die boek as een van die heel beste ten opsigte van die geskiedenis van die liturgie beskou. Dit was nie net vir akademiese inligting bedoel nie, maar vir studente, predikante en die kerk.

Prof Attie Barnard was ’n uitnemende akademikus. Hy het altyd op primêre bronne gesteun. Sekondêre bronne was net nie goed genoeg vir hom nie. As dosent het hy die allerbeste gegee en daarom het hy ook van studente net die beste verwag. In ’n eksamen by prof Barnard moes studente alles baie goed ken.

Ek was uitermate bevoorreg om prof Barnard vir die grootste deel van die negentigerjare as voorsitter van die Psalmkommissie en as ondervoorsitter van die Gesangekommissie grondig te kon leer ken. Ons het boesemvriende geword. Met wysheid en deeglikheid het hy leiding in die Psalmkommissie gegee. Hy het met aandag na ander geluister en sake met oorleg bestuur. Ek sal sy spitsvondigheid nooit vergeet nie. Dit was nie altyd maklik om teoloë en musikoloë se gedagtes te versoen nie. Maar oom Attie het dit met grasie en humor reggekry.

Ek dank die Here vir so ’n vriend, akademikus en mens soos Attie Barnard. Soli Deo Gloria.