Lesse uit die ontvangkant van hospitaalbesoek

Begin verlede jaar het prof Johan van der Merwe ernstig siek geword. Tydens die siekte en die lang pad van beter word, het hy – van die ontvangkant af – baie ge­leer oor siekebesoek. Hy het vir NEELS JACKSON daarvan vertel.


Hulle het teruggekom van vakansie by die see, vertel Johan. Hy het siek geword, gehoor daar is ’n kwaadaardige gewas, kanker met ander woorde, en hy is geopereer. Toe hy hom weer kry, is hy halfpad verlam en in ’n rolstoel.

Strome mense het hom in die hospitaal kom besoek. Dominees, lidmate, vriende … Aan die een kant het hy waardering vir die moeite wat mense gedoen het en vir hulle belangstelling, maar aan die ander kant was dit alles ’n bietjie oorweldigend. En daar was dui­delik besoeke wat hom gehelp het en ander wat hom nie gehelp het nie.

As hy terugdink daaroor, sê Johan, sou hy die besoekers in drie kategorieë kon indeel.

Die eerste kategorie noem hy die kom-kykers. Dit is die mense wat uit nuuskierigheid of uit pligbesef kom kuier. Hulle vra dik­wels nie eens vir jou hoe dit met jou gaan nie. Hulle vertel net hulle eie storie. Hulle vertel byvoorbeeld vir jou hoe gelukkig jy is dat jy oorleef het. En dit is waar, maar dit is nie wat jy in daardie situasie wil hoor nie. Hy was besig met ’n worsteling om sin te probeer maak van dit wat met hom gebeur het.

Daar was ander wat vertel het dat hy goeie sorg het en dat dit iets is om voor dankbaar te wees – wat ook waar is. Of mense vertel vir jou van ander wie se siektes erger is as dit wat met jou gebeur het. En dit is alles met goeie bedoelings ge­doen. Mense kom kuier tog nie by jou in die hospitaal met slegte bedoelings nie. Maar sulke besoeke mis die punt.

Daar was ’n tweede kategorie: diegene met kitsoplossings. Dit het gewissel van mense met rate oor daggaolie of pampoenpitte, tot by diegene wat net kom om vir jou ’n Bybelversie te lees en te bid. Dit is asof hulle wegkruip agter die Bybel. Johan noem dit ’n Bybel-hit-and-run. Hy het dit waarskynlik self so gedoen, sê hy. Maar daar is geen regte persoonlike kontak nie, geen regte verstaan nie. Jy dink jy verstaan, maar jy verstaan nie eintlik nie.

As jy daar in jou hospitaalbed lê, dan kom jy agter dit werk nie. Jy voel nie eintlik beter nie, al lees iemand vir jou ’n Bybelversie. Daarom sê hy nou uit dure ondervinding: Pasop vir kitsoplossings, of dit nou op mediese of geestelike vlak is.

Die derde kategorie besoeke was dié wat die meeste vir hom beteken het. Dit was mense wat sommer net by hom kom sit het, wat net daar was. Dis mense wat tipies sou sê: “As jy nie kan bid nie, is daar iets waarvoor ek vir jou kan bid?” Dit was vir hom baie werd. Hy was bekommerd oor sy familie en oor sy werk, maar hy het nie die energie gehad om self te bid nie.

Dit was vir hom baie werd as mense net kom sit het om te luister, en gesit het al luister hulle na niks. Hy het nie lus gehad om te praat nie, en dan sit hulle net, vertel Johan.

Hy verwys na iemand wat ingekom het en by hom kom sit het. Die persoon het eers net geluister, en toe op die regte oomblik iets gesê. So ’n besoek kan nie ’n vinnige in-en-uit wees nie.

Hy verstaan die bedoelings van mense, ook later met opmerkings oor sy hare wat weer groei, maar dit het hom nie gehelp nie. By tye het dit by sy hospitaalbed ook ’n bietjie soos ’n dieretuin geword. Daar was strome besoekers en dit het hom net moeg gemaak.

Die verskriklikste ding wat mense vir hom kon sê, was: “Ek weet hoe jy voel.” Dít terwyl hyself nie eens altyd geweet het hoe hy voel nie.

So, wat is sy raad nou aan mense wat siekes in die hospitaal wil besoek?

Een ding is, dink eers wat jy daar wil gaan doen.

Nog iets is dat ’n mens luister voor jy praat. En as daar niks gesê word nie, sit ’n bietjie en loop. Moenie agter die Bybel wegkruip as jy niks het om te sê nie.

Eintlik, sê Johan, kan hy nie ’n resep vir hospitaalbesoek gee nie, maar hy meen empatie is die sleutel. Jou blote teenwoordigheid. En herhaalde teenwoordigheid. En luister. Moenie trooswoordjies sê nie. Die Liewe Here het jou twee ore en een mond gegee.

Hoe gaan dit nou met hom?

Heelwat beter, sê hy. Aanvanklik het hy met ’n rolstoel oor die weg gekom. Toe met twee krukke, later net een, en nou met ’n kierie. Hy bestuur ook weer. Hy het baie genade gehad, en ’n goeie fisoterapeut. Die stryd is nog daar, sê hy. Dit word beter, maar dit gaan nie weg nie.

En, weet hy ook, sonder sy vrou Hannie kon hy nie daardeur gekom het nie.