Die geskenk van die dood

In die Zeitz MOCAA, die kunsmuseum in Kaapstad, vertoon ’n aangrypende kortfilm deur die Zimbabwiese kunstenaar Kudzanai Chiurai, genaamd Moyo (2013). In hierdie fliek word Michelangelo se klassieke Pieta-standbeeld geherinterpreteer: sowel Maria as Jesus word daarin as swart vroue uitgebeeld. Terwyl Maria na Jesus se kruisigingswonde omsien, sing sy ’n tradisionele Xhosa-begrafnislied: Wakrazulwa ngenxa yam (hy is uitmekaar geskeur ter wille van my).

Dit het my daaraan herinner dat die dood opgeskryf staan in die hart van die kerk se geloofsbelydenis. In die hart van die evangelie, die goeie nuus wat die kerk ontvang het om te verkondig, word ons aan die dood – God se dood – herinner. Ons bely immers dat ons glo in Jesus Christus, wat gekruisig, gestorwe, en begrawe is. Ons is by die hart van ons tradisie wanneer ons nadink oor die dood.

Dit is egter nie maar énige dood wat ons kan troos nie, maar in die besonder Christus se dood. Christus – die vleesgeworde God – se dood is vir die kerk se selfverstaan deurslaggewend. Dit is opvallend dat dit juis wonde is – die tekens en letsels van pyn, lyding en dood – wat die dissipels oortuig dat die opgestane Christus dieselfde Christus as die gekruisigde Christus is. Ons lees dat Thomas skepties is jeens die opgestane Christus totdat hy Jesus aan sy wonde herken. God se dood is die saad van die kerk. In Godsdood en uit Godswonde word die kerk gebore.

Sonder God se dood is daar geen kerk nie. Buite om God se dood is daar geen kruisigingsgebeure, geen verlossing, geen goeie nuus vir ons nie. Sonder God se dood is daar geen opstanding, geen hemelvaart, geen toekoms vir ons nie. Vir talle teoloë sou Godsdood onlosmaaklik ingebed wees in wie en wat die kerk is. Die kruis alleen is ons teologie, skryf Martin Luther. Slegs die verwonde, verwondbare God kan ons help, skryf Dietrich Bonhoeffer. Daar is geen Christelike ­teologie wat nie ’n teologie van die kruis is nie, skryf Theodore Jennings. Ons verkondig Christus wat ge­krui­sig is, skryf Paulus. Oor en oor, weer en weer, weer­klink hierdie refrein binne die Christelike tradisie: God is die gekruisigde God.

In die kerk bind God se dood ons aan mekaar. God se dood is ’n sakrament – ’n heilsmiddel; ’n teken of simbool van die heil wat ons met Godsdood ontvang – in die kerk se gebruike en geheue. Ons drink wyn en eet brood om mekaar te herinner aan God se gebreekte, gestorwe, uitgestorte liggaam. Daarom kan geen kerklike skeiding geregverdig word nie; kan geen sinodale besluite, geen regstegniese punte, geen demo­kratiese stemprosesse in die kerk ons behoort aan mekaar ophef nie. Christus se vergote bloed en gebreekte liggaam heg ons vas aan mekaar.

In die kerk skram ons daarom nie weg van die dood nie. Wanneer ons gekonfronteer word met ons tekortkominge, die grense van ons vermoëns, die gebrek aan verdere kapasiteit, kán ons verbete vasklou aan lewe; maar ons kán onsself ook oorgee, toegee, weggee en daarmee te kenne gee dat ons worstel, sukkel, bloei, breek, sterf. Dit is vir ons egter besonder moeilik om die dood in ons midde te óntvang. Dit kan beteken dat ons gewoon tot rus kom, en toelaat dat sekere dinge en sekere verhoudings doodloop. Dit kan beteken dat ons vir onsself, of mense vir wie ons lief is, of dinge wat vir ons belangrik is, die dood laat kom – en ons weerhou daarvan om enige iets te doen om dit te keer.

Ons kan vrede maak met die dood. Ons kan vriende raak met die dood. Daarom kan ons “ons na vaster, strakker dieptes wend”; kan ons ons “tussen die grafte” meer tuis voel; kan ons leer sien “uit die wond in my sy”; want “op pad na die dood loop jou naam, Christus” (Ingrid Jonker).

Dit is immers die heilsame Godsdood wat vir ons op die pad na die dood die diepste troos en verseke­ring bied. Die dood van God is diep en wyd en breed genoeg om ook óns dood daarin te ontvang. Ook dít staan in ons geloofsbelydenisse: ons énigste troos is dat ons aan Christus behoort. Ook in ons dood behoort ons aan Christus. Elke vorm van dood – selfdood, genadedood, aborsie, skielike dood, uitgerekte dood, siektedood, ongelukdood, berekende dood, onverwagse dood, maklike dood, moeilike dood – hoort binne Christus. Ons hou nie op om aan Christus te behoort met ons dood nie. Ook ons dood is welkom by God. Elke soort dood word in Christus ontvang. Dit is Christus se dood wat die basis vorm van ons troos, verlossing, heil – nie ons eie dood wat ons daarvoor kwalifiseer nie. Ons dood is ’n tuiskoms in God, want in hoe ook al ons sterf, hoort ons by Jesus Christus.

Die goeie nuus van Godsdood maak van ons dood ’n geskenk.

Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.