Die reis met Familiekerk Bottelary is ’n geloofsverhaal

Enel en Francois Lambrechts is vanaf Januarie 2018 die ­leraars by die nuwe gemeente Familiekerk Bottelary wat in 2017 deur die NG gemeente Vredelust geplant is. Dit het hulle onder meer geleer om in afhanklikheid van God te leef. JACOBIE M HELENA het na hulle geloofsverhaal geluister.


“Baie mense het die wanindruk dat die plant van nuwe kerke in die NG Kerk lidmate van bestaande gemeentes weg­neem. Dít is allermins die geval. In die nuwe gemeentes bedien ons mense wat nié by NG gemeentes ingeskakel is nie.”

Só gesels Enel en Francois Lambrechts oor hul roeping van kerkplanting in die NG Kerk.

Enel vertel sy en Francois het albei teologie studeer en is onderskeidelik in 2010 en 2011 gelegitimeer. Sy is haar legitimasie na die NG gemeente Dalpark in Brakpan beroep en Francois het sy gemeentejaar daar gedoen.

“Ons loopbane was nog altyd vir ons ’n geloofstorie, want dis ’n uitdaging om as predikante albei werk in dieselfde dorp te hê. Ons het ses jaar lank by twee verskillende gemeentes in Brakpan bedien. En alles het baie goed met ons gegaan.”

In 2014 het hulle pad met dié van Vredelust en ­dr Leon Oosthuizen, predikant van Vredelust, gekruis. Vredelust het ’n mentorskapprogram vir jong leraars gehad en Enel en Francois het begin 2014 ’n pad met Vredelust begin stap. “

Maar weens die geboorte van hulle dogtertjie kon hulle eers weer in 2017 by die mentorsprogram inskakel,” vertel Enel.

In 2017 het hulle ’n byeenkoms van die Assemblies of God in Durbanville bygewoon.

“Dis waar die Pinksterkerke se pastore en geestelike leiers van die land bymekaar kom. Dis basies die Pinksterkerke se sinode. Hulle het verskillende internasionale en plaaslike sprekers gehad,” vertel Enel.

Aanbidding by Familiekerk Bottelary.

Een spreker het die gehoor gevra om vir hulleself af te vra wat hulle moet doen wat hulle weet die beste vir die koninkryk gaan wees. Wat is dit wat hulle weet wat hulle moet doen, maar wat hulle nog nie die moed het om te doen nie? Hy het gevra: “Hoekom stel jy dit uit? Hoekom doen jy dit nie nou nie?”

Enel vertel sy het in ’n boekie aantekeninge gemaak en neergeskryf dat sy en Francois by een gemeente saam moet werk. Sy het dit omkring, vir Francois ge­wys en hy het dadelik instemmend geknik.

“Ons het daardie aand met mekaar gepraat en verskillende opsies oorweeg, want ons het gevoel dat ons gelei word om dié geloofstap te neem,” vertel Enel.

Saamstap

Francois sê dit was nog altyd ’n droom van hom en Enel om saam in een gemeente te bedien.

“Ons het ’n gesamentlike huiskerk gehad en saam beleef dat dit vir ons beter is om saam te werk. Ons het ongelooflike groei in ons huiskerk ervaar en toe net besef dat waar ons saam in die bediening is, daar werklike groei plaasvind.”

Enel beaam Francois se woorde. “Ek en Francois het al lankal gesê wanneer ons sáám in ’n bediening is, gaan dit baie beter as wat ons apart is. Dit is nie net vir een van ons so nie, maar vir beide van ons,” vertel sy glimlaggend. “Ons het lankal gesien dat wanneer ons saam in ’n bepaalde bediening is, is dit soveel meer effektief.”

Die logiese ding vir hulle sou wees om hierdie gesamentlike stap eers in 2020 te neem, want dan sou hulle finansies agtermekaar gewees het. Maar, verduidelik Enel: “Dit is asof die Here met ons gepraat het om dit nóú te doen en nóú die geloofstap te neem. Ons bid toe en ons ervaar vrede daaroor dat die Here vir ons sê dat ons in Januarie 2018 saam by een gemeente gaan wees. Maar die énigste manier wat dit moontlik sou kon wees is as ons vir een salaris werk.”

Enel vertel meer: “Ons bid toe daaroor en vra vir die Here wie van ons twee moet bedank. Dit was ook kompleks met die ringsverhoudinge in Brakpan. Die een gemeente waar ons was, is meer welaf en die ander een is ’n armer gemeente. Ons het nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie.”

In April 2017 het Enel en Francois albei sabbatsverlof gehad en hulle het besluit om in daardie tyd by verskillende gemeentes te gaan kuier.

Jaco Bronn (links) en Antuan Nel dra hulle deel as vrywilligers by deur parkeerplekke aan te wys by Familiekerk Bottelary. Vrywilligers speel ’n belangrike rol in dié gemeente.

“Ons gaan toe Doxa Deo in Pretoria toe en ons het daar ’n week saam met hulle gereis. Ons besluit toe ons gaan ook Vredelust-gemeente toe kom en ook vir ’n week saam met hulle werk. En ons nooi toe my kollega van Brakpan saam, want ons wou hê hy moet sien hoe dit hier werk. Ons het by Vredelust gekyk hoe doen hulle jeugbediening en hoe werk selgroepe en so die verskillende bedieninge ondersoek.”

Die laaste aand wat haar kollega daar is, sê Leon dat hulle ’n leiersvergadering by Familiekerk Bottelary het en dat hulle dit moet kom bywoon. Familiekerk is in 2017 geplant en is toe nog net ’n paar maande oud.

“Ons sit toe hier in die gebou waar ons nou sit en hulle deel die storie van Familiekerk.”

Die leraarspan het besef dat Familiekerk ’n gesig moet kry. In daardie stadium was Familiekerk die verdeelde pligte van die predikante van Vredelust. So, as iemand van die span se program op ’n Sondag oop was, het daardie persoon by Familiekerk gaan bedien. Hulle het besef dat die behoefte daar is aan iemand wat Familiekerk eet, slaap en droom, anders gaan dit nie werk en momentum kry nie.

“Ons kollega van Brakpan sê toe dat hy weet wat moet gebeur. Hulle moet vir my en Francois aanstel. Ek en Francois het so vir mekaar gekyk. My hart het vinnig geklop, want ons is toe besig met hierdie beslui­te en weet nog nie wat ons gaan maak nie. Ek wonder toe: Is dit nou die stem van die Here? Is dit nou ons volgende stap? Francois was meer skepties. Ek het gevoel ons moet voluit deel van dié kerkplanting word. Maar die volgende maande was dit maar ’n gewik en geweeg, want daar was reeds planne vir Francois by Dalpark en hulle het al begin praat oor wat sy rol daar sou wees. Ons sou daar ook by kerkplanting betrokke wees,”Enel.

“By Doxa Deo en by Vredelust het die moontlikheid van kerkplanting vir ons baie duidelik geword en ons het geweet dit is wat ons moet doen. Toe Leon by Vredelust vir ons sê dat hulle nie genoeg geld het om vir ons albei ’n salaris te betaal nie, was ons reeds ge­reed om te sê dat ons vir een salaris sal werk. En ons kan tot dusver net van God se oorvloed en voorsie­ning getuig,” vertel Francois.

Enel vertel hoe alles in plek geval het. “Vredelust het nie geld gehad vir nog ’n volle salaris nie en die sinode betaal nou die een helfte en die ander helfte word deur Vredelust betaal. Ons sou ook nie behui­sing kon bekostig nie, maar ons behuising word ook deur iemand betaal wat ons daarmee wil seën. Die hele ervaring is werklik ’n geloofsreis,” getuig Enel in verwondering.

Vrywilligers en verhoudings

Begin 2018 het Enel en Francois baie hard in Familiekerk gewerk om strukture in plek te kry. Vredelust-gemeente en Familiekerk steun baie sterk op die gebruik van vrywilligers en die skep van huiskerke. Al Familiekerk se lidmate is in huiskerke wat elkeen hul eie struktuur en leierspan het. Die groei is nou so goed dat hulle nie kan voorbly met huiskerkleiers nie, vertel Francois.

Enel vertel dat hulle van die begin af baie aanklank gevind het by Vredelust se styl. Daar is baie maniere van kerkwees wat hulle wou uitleef, maar hulle het nie geweet hoe om dit te doen nie.

“Ons het maniere gesoek om die vernuwing wat ons by Vredelust gesien het, uit te druk. Die hart van Vredelust-gemeente was nog altyd evangelisasie. Ek dink die rede hoekom Vredelust besig is met kerkplanting is omdat hulle sterk fokus op evangelisasie. Daar is ’n groep mense wat voorheen dalk NG lidmate sou wees, maar wat tans nie bereik word nie. Dis ’n nuwe groep binne die Afrikaanse konteks, wat multikultureel is, en ons voel geroepe om daardie groep te bereik en by hulle lewe betrokke te wees.

“Evangelisasie is nie vir ons iets wat jy in ’n ander land of ’n informele nedersetting gaan doen nie. Dis om na die mense in jou eie gemeenskap uit te reik,”Enel.

“Die afgelope jaar was werklik ’n jaar van leer en van oop wees voor God sodat Hy vir ons wys wat die volgende stappe is. Ons was op soveel plekke totaal en al uit ons gemaksone. Om die Here te volg het die afgelope jaar vir my tot ’n eenvoudiger lewe gelei. Dis ’n eenvoudiger lewe van in afhanklikheid van die Here lewe.

“Ek gee my hele lewe vir Hom. God voorsien vir elke dag. Ek het geleer om nie meer oor al hierdie groot goed bekommerd te wees nie, want God voorsien werklik. God gee vir ons elke dag wat ons nodig het,” getuig Enel.

Francois dink na oor 2019. “Ons het die afgelope jaar baie hard gewerk om die strukture van Familiekerk te vestig, maar ons doel vir 2019 is om die breër gemeenskap te bereik. Ons het verlede week ’n braai gehou en bloot mense aan mekaar voorgestel. Ons doel was nooit om mense na ’n kerk toe te nooi nie, maar om bloot te fokus daarop om verhoudings en netwerke in ons gemeenskap te bou.

“Ons ervaar verder ’n groot behoefte aan ’n bedie­ning vir enkelouers in Brackenfell. Ons wil in 2019 spesifiek ’n enkelouerbediening op die been bring omdat dit ’n groot realiteit in ons konteks is. Die bou van verhoudings in ons onmiddellike gemeenskap is ons hoofdoel vir 2019,” vertel Francois.