’n Tegniek om trauma vinnig en permanent te ontlont

DS JAN VILJOEN het in sy loopbaan as weermagkapelaan dikwels te doen gekry met mense wat ernstige emosionele trauma ervaar het. Hy was gereeld gefrustreerd omdat hy gevoel het dat hy nie daarin kon slaag om hierdie mense regtig te help nie. Teen die einde van sy loopbaan ontdek hy egter ’n praktiese tegniek om trauma vinnig en permanent te ontlont, naamlik Traumatic Incident Reduction (TIR). In sy boek wat pas vrygestel is: Anderkant trauma verby, beskryf hy onder meer twee insidente. Hy vertel verder.


Rita Oberholzer se man is op 5 September 2012 tydens ’n plaasaanval in die Brits-omgewing ver­moor. Vyf maande ná die voorval het sy by my uitgekom vir traumaberading. Met behulp van TIR (Traumatic Incident Reduction) het sy in net meer as ’n uur verligting gekry en die negatiewe effek van die trauma is sodanig geneutraliseer dat sy weer haar ou self kon wees. Die vreesagtigheid en angstigheid het ver­dwyn. Mense het haar gevra hoe die ver­andering plaasgevind het, want haar lag en die huppel in haar stap het weer teruggekeer soos voor die traumatiese insident. Alhoewel TIR nie haar rousmart kon verkort nie, kon dit weer haar lewensbestaan normaliseer.

Anne-Marie du Toit van Plettenbergbaai se seun is 16 jaar tevore in ’n motorongeluk oorlede. Sy kon sy dood nooit verwerk nie en het in ’n erge depressie verval. Sy is verskeie kere in en uit psigiatriese inrigtings. Ons het twee TIR-sessies gehad en sy het genesing gekry. Met haar tuiskoms het haar man dadelik opgemerk dat daar ’n wonderbaarlike verandering in haar lewe plaasgevind het, en sy het weer voluit begin lewe. Sy kan die uitdagings van die lewe weer in die oë kyk, verby die plek ry waar die ongeluk was sonder om ineen te krimp en kan weer na baie jare sosiaal inskakel. Vandag, twee jaar later, bedryf sy ’n ondersteunings­groep vir traumaslagoffers in Plettenbergbaai.

TIR is ’n Toegepaste Metasielkundige (TMS) direktiewe en persoonsgerigte tegniek. Dit is ’n fasiliterings­tegniek waar die berader/fasiliteerder die kliënt herhaaldelik deur die trauma-insident lei totdat verligting intree. Hierdie verligting is permanent.

TIR- en ander TMS-tegnieke is in die VSA vir oor­logs­veterane met posttraumatiese stres deur ’n psigiater, dr Frank Gerbode, en ’n sielkundige, Gerald French, ontwikkel. Laasgenoemde het ’n werkswinkel in Suid-Afrika kom aanbied en ’n berader van Famsa, Yvonne Retief, het dit bygewoon. Sy was begeesterd en het gevorderde werkswinkels oorsee bygewoon en het begin om persone in Suid-Afrika op te lei. Vandag is daar al meer as 1 000 predikante, maatskaplike wer­kers, sielkundiges en ander beraders as TIR-fasili­teer­ders opgelei.

Toegepaste Metasielkunde (TMS) berus op die reëls vir fasilitering en op agt kommunikasie-oefeninge. Dit is nie ’n vereiste om opgelei te wees as ’n psigiater of sielkundige om die tegniek suksesvol te kan toepas nie. Met hierdie tegniek lei ’n goed opgeleide fasiliteerder die getraumatiseerde deur ’n proses waar die kliënt die werk (weergee van die traumatiese gebeure) doen, deur telkens na binne te kyk. In TMS vra jy nie: “Wat makeer jou?” nie. Jy vra: “Wat het gebeur?”. Die fasiliteerder word gebind deur ’n neergeleg­de protokol van vasgestelde vrae en die genoemde reëls vir fasilitering en kommunikasie.

In TIR word slegs een traumatiese item/insident op ’n slag hanteer en deurgetrap tot dit op ’n suksesvolle uitkoms uitloop. Sulke sessies duur as ’n reël tussen ’n uur en drie ure, afhangende van die kompleksiteit daar­van.

In die basiese werkswinkel leer die berader drie tegnieke, naamlik ontblokking, basiese TIR en tema­tiese TIR. Ontblokking is ’n tegniek waar ’n stel gene­riese vrae repeterend gevra word om ongemaklike, stresvolle en gelaaide verhoudings en situasies tot rus te bring. Basiese TIR word gebruik om ’n geïdentifiseerde enkele trauma te ontlont en tematiese TIR is handig om stresvolle gevoelens, emosies, sensasies, houdings en pyn aan te spreek.

TIR is ’n relatief vinnige en eenvoudige proses in vergelyking met ander tegnieke en as dit volgens protokol gebruik word, bring dit permanente verande­ring. TIR- en ander TMS-tegnieke is beide baie effektief om verligting te bring kort na ’n traumatiese in­sident plaasgevind het, asook om jarelange post-traumatiese stres te verlig.

Die TIR-werkswinkel is die enkele kort kursus wat die meeste waarde toegevoeg het tot my pastoraat.

Die aantal gebruikers van TIR in Suid-Afrika het in die laaste aantal jare so toegeneem dat dit noodsaaklik geword het om die TIR-praktisyns binne die land te organiseer in ’n liggaam. Internasionaal bestaan die TIR Association (TIRA) en nou is die plaaslike TIRA-SA gestig wat internasionaal onder Applied Metapsychology International sorteer. Benewens die registrasie van TIR-praktisyns in die land, reël TIRA-SA ook simposiums en seminare met trauma as tema. ’n Forum is geskep waar lede hul ervarings kan deel.

Die bestuur van TIRA-SA sluit Yvonne Retief en ’n aantal predikante, waaronder Jan Viljoen, Louis Hough, Henning Mostert en Petri Coetzee asook twee TIR-praktisyns Ansie Joubert en Kobie van den Berg in.

Alle persone wat die TIR-werkswinkel asook gevorderde werkswinkels bygewoon het, kan aansluit. Kry by www.tirasa.co.za meer inligting.

– Anderkant trauma verby is die eerste boek in Afrikaans oor Toegepaste Metasielkunde en is verkrygbaar by Bybel-Media en Protea Boekhuis, en kan ook direk by die uitgewer by items5050@gmail.com bestel word. Die e-boek is beskikbaar by Amazon.