“Pas op, hier kom die NG Kerk!”

Johan van der Merwe

Die mense van Suid-Afrika verskeur mekaar omdat hulle kwaad is! Kwaad oor die verlede, kwaad oor wat tans aan die gebeur is en miskien sommer reeds irrasioneel kwaad vir die toekoms ook.

In hierdie woedende samelewing is een van die grootste uitdagings aan die NG Kerk om nie sy roeping tot versoening te versaak nie. In elke gemeente moet elke lidmaat voortdurend daaraan herinner word! Dit is nie net die kerk se Bybelse opdrag nie, maar ook deel van ons getuienis uit die verlede.

Op 19 November 1997 het ds Freek Swanepoel die NG Kerk tydens ’n openbare getuienisgeleentheid van die Waarheid-en-Versoeningskommissie in Oos-Londen verteenwoordig. Ten spyte van die feit dat verskeie lede van die ASM ’n sterk voorbehoud oor die kerk se betrokkenheid gehad het, het ds Swanepoel volgehou dat die kerk nie moes gaan bieg nie, maar moes gaan getuig! Met toestemming van die ASM moes ds Swanepoel sy eie getuienis opstel.

In sy getuienis het ds Swanepoel beklemtoon dat die NGK verbind was tot versoening en dat die kerk dit saam met ander wou aanpak. Hy het versoening as die opbou van mense gedefinieer. In praktyk het dit beteken dat die verkondiging van die evangelie steeds voorrang moes geniet maar dat dit ook moes lei tot die ontwikkeling van mense en hulle praktiese lewensomstandighede.

Hy het verder beklemtoon dat persoonlike kontak ’n voorvereiste vir versoening is en dat die NG Kerk bereid sou wees om sy lidmate aan te moedig om oor kleurgrense heen verhoudings te bou.

Ds Swanepoel het sy getuienis afgesluit met Hebreërs 12:14: “Beywer julle vir vrede met alle mense.”

Nadat baie vrae gevra is en ’n lang bespreking gevolg het, het aartsbiskop Desmond Tutu in sy reaksie op die getuienis gesê: “Ek het lus om vir die duiwel te sê: Pasop, hier kom die NG Kerk! Dit is geweldig om julle hier by ons te hê. ’n Groot stuk genesing het reeds hier begin plaasvind. Ek is bly julle is deel van hierdie proses van versoening.” Ná ’n gebed deur ds Swane­poel, het Tutu opgestaan en hom omhels!

Wanneer ons op soek na antwoorde terugblaai deur die geskiedenis, het die NG Kerk as kerk die eise van die roeping tot versoening ná 19 November 1997 miskien duideliker verstaan soos wat gemeentes dit in Coligny in 2018 duideliker verstaan en soos wat honderdduisende lidmate van die NG Kerk dit elke dag duideliker moet verstaan.

Dit is nie maklik nie. Versoening is egter die enigste salf wat die wonde wat deur woede veroorsaak is, genees. Kry ons dit beter reg, word Desmond Tutu se woorde dalk waar!

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.