Stortvloed omgee-pakkies vir brandslagoffers

Na ’n vlaag brande wat in die Wes- en Suid-Kaap verwoesting gesaai het, het die NG Kerk op ’n betekenisvolle manier hoop gebring.

Hulle het hande gevat met ander hulpondersteu­ners en die hulpketting sterker gemaak.

In die tydperk van 20 tot 27 Oktober het verskeie bran­de mense dakloos en sonder enige besittings gelaat.

Net in Khayelitsha is 695 volwassenes, 604 kinders en 56 babas geraak. Philippi, Vrygrond, Vermaaklikheid buite Riversdal en Blanco buite George het ook onder ’n vlammehel deurgeloop.

Daar het ook op 1 November in die Plettenbergbaai-omgewing by Buffelnekbosboustasie ’n reuse-brand as gevolg van weerlig ontstaan.

En ná die verwoestende Suid-Kaap-brande in 2017, was die NG gemeentes, met die hulp van ds Nioma Venter en Diaconia, dié keer meer voorbereid.

Venter sê daar is ernstig besin oor ’n strategie vir rampondersteuning.

“Baie lesse is in die proses geleer en talle uitdagings is raakgesien,” sê Venter.

Deel van Diaconia se strategie is om hulpverlening te koördineer omdat daar baie oorvleueling plaasvind as die kerk geïsoleerd van die gemeenskap optree. Dia­conia wou ook gehad het NG gemeentes moet proaktief optree.

So het die NG gemeente Plettenbergbaai met ’n ­R10 000-skenking van Diaconia se rampfonds twee Buffels gekoop wat met ’n watertenk en waterslange in­gerig is. Só kon die kerkraadvoorsitter, lidmate en men­se uit die gemeenskap ander brandbestryders help.

Ds Chris du Preez, leraar van die Noorderkruiswyk in Plettenbergbaai, sê behalwe vir dié brandbestryding het hulle ook gehelp om 98 dakloses te huisves, kos te gee en die nodige artikels te verskaf.

Hy vertel die skoolhoof van Wittedrift, Jeremy Marallich, het hulle koshuis aangebied as huisvesting.

Du Preez sê sy noodroep op ’n gemeenskap-Whats­Appgroep het gebraaide wors, lekkers, beddegoed, matrasse, speelgoed en vele ander artikels vir die slag­offers tot gevolg gehad.

“Die mense was absoluut ongelooflik. Ook mense wat ek nog nooit gesien het nie, het opgedaag en gegee.”

In Khayelitsha het talle nie-winsgewende organisasies (NWO’s) en ander uitreikaksies, soos Gift of the givers, onmiddellike ondersteuning in plek gesit.

Leraars van die Kaapse Metropool, wat met gemeentes in Khayelitsha verbind is, het dié leraars gekontak om te hoor hoe hulle kan help, verduidelik Venter.

Venter sê: “Ons het omgeepakkies van nie-bederfbare kos en sanitêre ware ter waarde van R132 090 ’n week na die ramp gaan uitdeel. Die waarde van die pakkies, hoop ons, word egter glad nie aan die monetêre waarde daarvan gemeet nie, maar die omgeewaarde.”

Volgens Venter het hulle ’n stortvloed omgee-pakkies vanaf gemeentes ontvang. Die belydenisklas van Vredenburg en die gemeentes van Helderberg, Saldanha, Kenridge, Welgemoed en La Rochelle het ook pakkies gestuur om net ’n paar te noem.

’n Groot uitreikspan het op Saterdag 27 Oktober by ds Aaron Mhkili, president van die Great Commission, met wie die NG Kerk ’n interkerklike geestelike leierskapforum het, se gemeente in Khayelitsha ontmoet om die pakkies te gaan afgee.

Venter het dié uitreik as ’n “onbeskryflike ervaring van eenheid” beskryf. Diaconia, wat deel vorm van die interkerklike rampondersteuningsgroep, RESPOND, het dié uitreik na Khayelitsha gekoördineer. Die nie-bederfbare pakkies wat oorgebly het, is weer deur RESPOND tydens ’n uitreik na Vrygrond uitgedeel.

Ander kerke het ook hoop gebring. Hillsong se bakkie het met 100 bottels 5 liter-water by die versamelpunt ’n bietjie lafenis gebring. Vrywilligers van die Antioch Community Church in Soutrivier het weer kom vra waar hulle kan help.

Die NG gemeente Riversdal-Wes het ook hulle omgee aan mense in die Vermaaklikheid-omgewing betoon.

Ds Deon Beyers, leraar van dié gemeente, sê hulle was maar “’n rat in die groot proses”. Volgens hom het hulle hulp aan hulle gemeente se lidmate, wat deur die brand geraak is, verskaf. Dan het hulle ook ’n finansiële bydrae aan ’n gemeenskap-trustfonds geskenk, wat verligting aan brandslagoffers bring.

Teen druktyd was die brand steeds aan die woed in ’n omtrek van 250 km in die rigting van Heidelberg, Albertinia en Oudtshoorn, volgens die Hessequa-munisipaliteit.

(Lees ook Troos te midde van die vuur.)