Troos te midde van die vuur

In vergelyking met Knysna verlede jaar, het George vanjaar lig daarvan afgekom toe dit in hulle omgewing begin brand het. En tog was daar ook die harde werklikheid van vrees, verlies en verslaentheid, skryf DS FRANCOIS MULDER, predikant van die NG gemeente Blanco.

Reeds vroegoggend het my kollega, ds Cornie Pretorius ons gemeentelede via WhatsApp opgeroep tot gebed én mobilisering om te help waar hulle kan, maar ook om ons te laat weet as daar van hulle is wat self hulp benodig.

Later die oggend het ek skoliere gesien in die greep van angs- en asma-aanvalle as gevolg van die rook oor George, wagtend op ouers om hulle te kom haal.

Ek het ’n oproep ontvang van ’n ma wat histeries vertel dat hulle aangesê is om te ontruim, maar dat haar kind nog by die skool is en of ons haar kan gaan optel.

Ons het my skoonsus gehelp om te ontruim – foto-albums, belangrike dokumente, rekenaars en ’n naaimasjien.

Ons vorige huishulp se nuwe TV en ’n paar sakke vol klere is gelaai in ons kattebak en afgelaai in ’n werkgewer se garage.

Ons huishulp, haar dogter en drie buurkinders het die middag en aand spandeer in die “veiligheid” van die pastorie – met Toy Story 1 tot 3 op die groot­skerm-TV.

Waar die werklikheid van alles my skielik getref het, is toe my matrikulant-seun saam met ons huis­hulp met ’n paar sakke klere aangestap kom na ons voertuig, en ek die vrees in my seun se oë kon sien. Hy het toe sopas die eerste vlamme oor die koppie sien aankom in die rigting van ons woonbuurt.

’n Verpleegster het huilend langs ons kar gestaan. Toe ek haar troos, wys sy in die rigting van die vuur en waar haar huis staan. Skielik kon ek my eie trane nie keer nie.

Toe ons self begin dink oor wat ons moet inpak as die bevel vir ontruiming sou kom, beleef ek dit as ’n onwerklike gevoel. Foto’s? Elektroniese toerusting? Klere? Belangrike dokumente?

Inwoners van George sit op ’n veilige plek terwyl die rookwolke van die brande oor hulle spoel.

Dadelik het die Ierse rockers U2 se onlangse titel by my opgekom: “All that you can’t leave behind.” Wat is werklik onvervangbaar? Wat is werklik belangrik? Uiteindelik is dit beslis eerder ’n wie- as ’n wat-vraag: my liefling Karina, my seuns Roshai en Theo en my meisiekind Marize.

’n Diepe dankbaarheid hang vandag, ’n dag later, oor groot dele van ons dorp, want dit kon soveel erger gewees het. Gelowiges regoor George het gebid, en teen 16:00 het die wind gedraai en ’n paar druppels het geval. Teenoor Knysna verlede jaar het ons lig daarvan afgekom. En steeds ontvang ons berigte vanaf die stadsraad via sosiale media rakende areas waar die vuur nog ’n gevaar inhou.

Ek is opnuut bewus van die broosheid van menswees. Ons dink ons is so sterk en dat ons tegnologie en wetenskap en kennis ons onaantasbaar maak. En dan verskyn die krag van wind, water, vuur, siekte en dood soms op die toneel. Ons verbeel ons soms dat ons as spesie so onafhanklik is. En dan word ons terug aarde toe geruk.

Ook is ek intens bewus van die VaderSeunGees se uitnodiging om na Hom te kom: “almal wat moeg en oorlaai is.” Sy omhelsing bring troos en vrede te midde van die “vure” van die lewe. My kindskap van hierdie liefdevolle Vader vrywaar my nie van die “brande” van die lewe nie. Maar een ding weet ek te midde van die lewenstorms: Hy is Immanuel, God met ons, God met my.

Die sáámwerk van almal om te help waar hulle kan en die ondersteuning en aanmoediging van die brandbestryders en hulpverleners, bemoedig my. Ons kan oor alle grense saamstaan as ’n gemeenskap.