Die kerk in ’n land wat brand

Die Sentrum vir Publieke Getuienis is ’n paar jaar gelede deur die Sinode van Wes-Kaapland gestig om namens die kerk aan van die brandende kwessies op die land se markpleine aandag te gee. BRAAM HANEKOM is die huidige direkteur. Hier gee hy sy perspek­tief op van die grootste krisisse in die land en wat die kerk se konstruktiewe bydrae kan wees.


Op ’n helder sonskyndag in Augustus stap ek die munisipale geboue op Hermanus binne. Om ’n tafel is die raadslede van die township Zwelihle saamgebondel. Hulle is verjaag uit die woonbuurt en woon nou in ’n gastehuis in ’n veiliger deel van die dorp. Hulle wag angstig op nuus uit Zwelihle waar minister Bekhi Cele besig is om met die oproermakers te onderhandel. Kerkleiers en sakelui staan onseker en wag. Die minute word ure en ek besluit om self na Zwelihle te ry.

Verby die polisieblokkades verander die landskap dramaties en jy word begroet met iets wat lyk asof dit uit ’n oorlogrolprent kom. Oral is afgebrande strukture. Die paaie is besaai met klippe en rommel wat dae laas verwyder is. Enkele mense drentel rond. Na wat verneem word, is R40 miljoen se skade aangerig. Ek wonder intuïtief: Hoe het ons hier gekom?

’n Gesprek in Port Elizabeth. Dr Braam Hanekom sit in die middel aan die oorkant van die tafel.

’n Paar dae later sit ek saam met ’n paar gelowige sakemanne by die gholfklub. Ons is nie daar vir gholf nie, maar is bymekaar om te kyk of daar nie tog ’n beter manier is om die gemeenskap vorentoe te neem nie. Dit is duidelik dat hier heelwat ervaring in pro­bleemoplossing om die tafel is. 

Die skreiende kontras tussen Zwelihle en die welvarende deel van Hermanus, word bespreek. Onder andere die feit dat ’n deel van die dorp juis so mooi is omdat daar so baie goedkoop arbeid beskikbaar is, maar ook dat die ekonomie hier broos is. Sakelui het die laaste maande honderdduisende rande verloor. Dit neem nie lank om te besef dat daar veel beter gesprekke tussen al die gemeenskappe van Hermanus sal moet plaasvind nie. Antwoorde is nie eenvoudig nie, maar gesprekke waar mense werklik as gelyke vennote na mekaar luister, kan nie langer vermy word nie.

Die Sentrum vir Publieke Getuienis het die afge­lo­pe paar maande 25 dorpe en stede in verskillende provinsies besoek. In die proses is multisektorale en inklu­siewe gesprekke gefasiliteer. Die basis hiervan was tel­kens: “Wat is die grootste uitdagings in die streek?” en “Hoe kan ’n nuwe toekoms saam gevisua­liseer word?”

Die groep mense wat by ’n gesprek in Nieuwoudtville betrokke was. Dr Braam Hanekom staan heel links.

Ons deel graag van die perspektiewe wat uit hierdie dialoë gegroei het. Word hierdie agtergrond nie deeglik in ag geneem nie, sou dit maklik kon gebeur dat die kerk op meerderwaardige manier instorm op ’n terrein waarvan hy min verstaan – en skade aanrig eerder as om ’n konstruktiewe bydrae te lewer.

Tien waarnemings oor Suid-Afrika

1. Suid-Afrika is steeds ’n ongelyke en verdeelde land met min sosiale kohesie en sosiale kapitaal. Die wantroue teenoor mekaar is oral te bespeur. In die woorde van ’n mama in Oos-Londen: “We have built a state and not a nation.”

2. Gebroke gesinne en afwesige ouers het ’n mas­siewe impak op ons jeug. 60% van kinders wat gebore word, het nie meer ’n pa se naam op hul geboortesertifikaat nie. In alle gesprekke en in alle gemeenskappe was die bekommernis oor die jeug die een saak waaroor almal saamgestem het. ’n Gebrek aan hoop, gepaardgaande met geen lojaliteit en patriotisme nie, kenmerk ons jeug. Dit is dan ook een van die redes waarom eiendom (soos skole) so maklik vernietig word. Op die platteland is die situasie kritiek.

3. Dit is duidelik dat dwelms en drankmisbruik besig is om van ons gemeenskappe te vernietig.

4. Daar is oral frustrasie met plaaslike regerings wat al meer en meer as ’n polities-geïnfekteerde en mislukte regeringstelsel beskou word.

5. Daar is ’n afwesigheid van bekwame leierskap in die burgerlike samelewing. Swart en bruin leiers is in die staatsdiens ingetrek en wit leiers het teruggetrek.

6. Alle gemeenskappe (swart, bruin en wit) is om verskillende redes getraumatiseer. Daar is nie slegs iets soos posttraumatiese stres nie, maar ook iets soos voortgaande traumatiese stres. Konsepte soos postapartheid- en postkoloniale sindroom is ook bepreek. In ’n gesprek op die Kaapse Vlakte sê iemand: “(Traumatised) men do cry, but they cry bullets.”

Raadslede van Zwelihle wag angstig op nuus oor die onderhandelinge tussen minister Bheki Cele en leiers van die protesgroep.

7. Kritiek teen die kerk (nie net die NG Kerk nie) word oral uitgespreek. Die kerk word as afwesig ervaar en daar is bekommernis oor die beheptheid met materialisme en ego-gedrewe leierskap. Missiona­le kerkwees het ’n mooi woord geword wat nie in geweldgeteisterde areas ervaar word nie.

8. Na 1994 deel ons al meer mekaar se lewe in die werkplek, maar verstaan nog nie mekaar se hart en vrese nie. Ons deel nie mekaar se lewe nie. Ons verstaan nie mekaar se nood nie.

9. Daar is ’n massiewe beweging van die platteland na die stad aan die gang. (Globaal 1,3 miljoen mense per week!) Die een woord wat arm gemeenskappe op die platteland beskryf, is hooploosheid. Verlamming het ingetree. Duisende gaan na die stad in die hoop om iets beter te kry. Ons het nou sosiale innovasie en die herverbeelding van ons samelewing, dorpe en gemeenskappe nodig op ’n skaal wat ons nog nie voorheen gesien het nie. Die vraag is of die kerk deel is van die gesprek en of instandhoudingsdenke steeds domineer. Woorde soos “restorative justice” en “spatial justice” kom algemeen in die gesprekke voor. Om te sê dat die NG Kerk steeds ’n “wit eggo-kamer” is, klink kras, maar is ’n reële gevaar, gegewe ons konteks.

10. Die protes, geweld en moorde skep ongemak en trauma op verskillende vlakke in verskillende gemeenskappe. Vir sommige is dit ’n lastigheid. Hulle kry dit egter reg om hulle grotendeels daarteen te beskerm. Vir ander is dit ’n daaglikse werklikheid en ’n bestaanskrisis. Die land word tans gekonfronteer met areas van anargie. Maar so herinner ’n swart vriend in een van die gesprekke my: “Remember, poverty is violent!”

Praktiese lesse geleer

1. Eerlike dialoog bly steeds een van ons vernaamste instrumente op die pad na môre. Daar is nie kits­antwoorde en -oplossings beskikbaar nie. Vir my was die kosbaarste ervarings die gesprekke self, waar jy ervaar het hoe vinnig en openlik mense regtig na mekaar kan en wil luister as daar ’n gesamentlike droom op die tafel is. Die gesprek mag nooit as ’n goedkoop manier gebruik word om gemoedere te paai nie. Eerlike, konkrete uitkomste moet die doel van die gesprek wees. Onthou ook dat daar ’n verskil tussen barmhartigheid en herstellende geregtigheid is.

2. Kry die regte mense om die tafel. Jy hoef nie met honderde mense te vergader nie, maar die regte leiers wat verteenwoordigend van verskillende gemeenskap­pe en sektore is, kan die ding doen.

3. Betrek die plaaslike regering. Wees versigtig vir raadslede wat ’n eie (politieke) agenda het, maar betrek die plaaslike regering. As jy dit nie doen nie, kan jou inisiatief maklik as kompetisie en ’n bedreiging gesien word.

4. Verstaan die kerk se bydrae reg. In al die gesprekke het ek opnuut bewus geword van my eie en die NG Kerk se massiewe bevoorregting, maar ook unieke geleentheid. Die kerk is nie altyd goed met implementering van groot projekte nie, maar al sê mense wát, word kerke in baie ander gemeenskappe steeds gesien as ’n morele kompas wat ’n unieke fasiliteringsrol kan en moet speel. Moet jouself nie as die Messias sien nie. Bou verhoudinge. Bel die munisipale bestuurder en gaan drink koffie. Bring die regte mense in kontak met mekaar, maar verwag bowenal dat God ook deel is van die gesprekke en dit ryklik kan seën.

’n Gesprek in Oos-Londen waarby die Eastern Cape NGO Coalition betrokke was. Links voor sit ds Nico Bezuidenhout.

Hoopvolle stories

Vir my was die mees hoopvolle ervaring die dialoog self. Die passie en eerlikheid waarmee mense met mekaar kon praat as hulle ’n gesamentlike doel voor oë het, het geïnspireer. Die waarhede en insigte wat gewo­ne mense op die tafel gesit het, was gewoon verstom­mend.

Die klein eilande van hoop wat elke dag in ons land gebou word, is oral te sien en Kerkbode vertel gereeld daarvan. Miskien vat die volgende storie dit saam:

Op Kleinmond woon daar ’n werknemer van die gholfklub wat al 15 jaar daar werk en hoop vir ’n huis. Hy woon in ’n sinkhuisie. Hy was een van die voorbokke in die protesopstande. Na die baie gesprekke loop hy my nou die dag raak en sê: “I pray that you will play good golf, Mr Braam!”

Sy gebed het nie gewerk nie, maar sy glimlaggende gesig sal ek nie vergeet nie. Onlangs skryf hy ’n hart­roerende brief in die plaaslike koerant om aan die kerke en gemeenskap van Kleinmond dankie te sê vir hul hulp nadat van die hutte afgebrand het. Noodwendig vra ’n mens die vraag oor wat die verandering meegebring het. Ook hierdie antwoord is nie eenvou­dig nie, maar as ek iets moes waag, dan sou dit die talle ge­sprek­ke wees wat Kleinmonders met mekaar op veler­lei vlakke begin voer het.

Daar is ’n uitdrukking wat sê dat “vuur nou die twaalfde amptelike landstaal van Suid-Afrika geword het”. Mense praat deur vuur omdat hulle meen dat dit die enigste manier is waarop hulle enigsins werklik gehoor sal word.

My blootstelling aan die onbeskryflike, hooplose armoede in landelike gebiede, maar ook die bitterheid en frustrasie van so baie jongmense, laat ’n mens soms wanhopig. Na alles behoort dit duidelik te wees: Ons staan voor ’n massiewe sosiaal-maatskaplike en geestelike uitdaging in Suid-Afrika. Dit is te groot om alleen te hanteer.

Mag ons op ons knieë dié God weer ontdek wat saam met ons bekommerd is, maar ook gereed staan om die opstandingskrag van Jesus Christus in ons dag en tyd ’n werklikheid te maak. Tel nog vandag die telefoon op, bel iemand en begin die gesprek, ook op jou dorp.