Frederick se pad met God en sy kerk

Dr Frederick Marais is ’n pelgrim wie se geloofspad hom al by verskeie bakens uitgebring het. Hy het vir NEELS JACKSON daarvan vertel.


“’n Kerk wat almal verwelkom, is in ons bloed,” vertel Frederick Marais oor sy gesin. Dis ’n ge­dag­te waarmee hy grootgeword het.

Eintlik kom dit al van voor sy geboorte af, want die gesinsverhaal wat dié boodskap dra, gaan oor sy ouer suster, Huibrie. Hulle pa was predikant op Williston in die Noord-Kaap toe Huibrie gebore is.

Sy is vroeg deur dokters in die Kaap gediagnoseer met Down-sindroom. Dit was in ’n tydvak toe dit nog ’n ope vraag was hoe die gemeenskap so ’n kind sou aanvaar. Haar pa het egter die Sondag van die kansel af vir die gemeente gesê hy wil haar in die gemeente doop.

Dít het ’n beginsel neergelê wat ook deel van Frede­rick se lewe geword het: In die kerk is almal welkom, ongeag hulle andersheid.

Dat Frederick vroeg al gedink het die kerk het ’n belangrike rol om te speel, blyk uit ’n ander staaltjie. Frederick sê sy pa het vertel dat die klein Frederick een Sondagaand in sy graad 2-jaar by sy pa in die studeerkamer gekom het en vir hom gesê het: “Pa, jy weet en ek weet dat die gemeente nie so kan aangaan nie. Dinge moet verander.”

Min het hy toe geweet dat hy later, deur die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes, betrokke sou wees by honderde gemeentes se prosesse om te ver­ander.

Dit was ’n paar jaar later, toe hy in standerd 4 was, dat hy ’n belangrike les geleer het oor ’n sleutelaspek van dié veranderingsprosesse: geloofsonderskeiding.

Sy pa is die pos aangebied van bestuurder van ’n sentrum vir gestremdes. In sy soeke na ’n antwoord of hy dit moes aanvaar of nie, het hy Matteus 25 gelees – dié deel oor die laaste oordeel waar Jesus sê: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het jul­le dit aan my gedoen.”

Dit was vir sy pa ’n antwoord, en die rol wat die Bybel gespeel het in dié geloofsonderskeiding, het ’n indruk op Frederick gemaak.

In sy hoërskooljare het Frederick gewonder of hy dominee moet word of nie. Hy wou dit nie doen net omdat sy pa ’n dominee is nie. Daarby het hy ook nie die sekerheid verstaan waarmee dominees gepraat het nie.

Toe, een Sondagaand, sê hulle predikant van die kansel af dat hy oor ’n teks gaan preek, maar dat hy nie seker is dat hy dit verstaan nie. Vir Frederick het dié opmerking ’n deur geopen. As ’n dominee kon sê hy is nie seker hy verstaan nie, dan kon hy ook ’n predikant word.

Dit is vandag nog deel van sy mondering, sê Frede­rick. En dit is nie dat hy twyfel nie. Dit is bloot dat hy altyd bewus is dat daar ook ’n ander perspektief is op ’n saak, dat mense wat anders dink, se siening ook legitiem is, en dat ’n mens daardie ander perspektiewe nodig het om te verstaan.

Hy is tuis in die gereformeerde tradisie, sê Frede­rick. Die tradisie is belangrik. Maar hy dink nie sy tradisie het die waarheid beter beet as ander tradisies nie. En as jy ander tradisies diskrediteer, dan verloor jy hom.

Maar hy het ook standpunt ingeneem. As student het hy by prof Willie Esterhuyse filosofie gekry. Dit was in die tyd van Esterhuyse se boek Afskeid van apartheid. Sy politieke ontwaking, vertel Frederick, was vanuit sy geloof.

Dit het daartoe gelei dat hy en twee ander studente ’n memorandum vir hulle dosente opgestel het. Daarin het hulle daarop aangedring dat die dosente téén apartheid moes klasgee.

Ds Ockie Raubenheimer, destyds die skriba van die kuratorium, het hom ingeroep en vir hom gesê hy sal nooit ’n beroep in die NG Kerk kry nie. Frederick glimlag as hy opmerk dat hy nou die werk doen wat ds Ockie destyds gedoen het. Hy is nou die skriba van die kuratorium.

Dit is vir hom interessant dat dieselfde kerk waarin hy apartheid geleer is, ook die kerk is waarin hy geleer het apartheid is verkeerd.

Op die vraag waar die kerk nou is, sê Frederick dit herinner om aan die spanning van die middel 1980’s. Die NG Kerk is ’n veelkantige kerk en spanning laat mense na die pole toe beweeg.

Self vind hy homself meer tuis in ’n relasionele kennisleer as in dogmas.

“Ek glo in Christus. Ek is in ’n verhouding met die lewende God. Dogmas help my, maar dis nie die doel nie. Dit moet die lewende verhouding met Christus voed,” sê hy.

As die kerk die openheid het dat die lewende Christus sy volgelinge sal help om nuut en vars te verstaan wat hulle nie verstaan nie, dan sal die kerk totaal ander vergaderings en eredienste hê, sê Frederick.

En die hele beweging van missionale kerkwees sluit hierby aan.

Dit werk met die Godsbegrip van die Een wat Homself gee, soos ons dit in Filippense 2 lees.

“Ons leer hoe lyk ’n kerk wat dien, en wat in navolging van Christus selfopofferend leef, en nie selfhandhawend nie,” sê Frederick.