God is soos Christus

My eerste kennismaking met die werk van die Russiese skilder Alexei Jawlenski (1864-1941) was in 2001 toe ek tydens ’n studiebesoek aan Oxford die boek The Christlike God van John V Taylor aangeskaf het. Nie net die titel van die boek nie, maar ook die treffende afdruk van ’n skildery op die voorblad het onmiddellik my aandag getrek en my as ’t ware oorrompel om die boek te koop.

Die skildery op die voorblad van die boek is een van ’n reeks van byna ’n duisend klein skilderytjies wat Jawlenski tussen 1934 en 1937 geskilder het en wat as reeks bekend staan as Meditasies. Al die skilderye in hierdie reeks is in ’n abstrakte styl en het dieselfde basiese struktuur: ’n swart vertikale lyn wat ’n neus suggereer, twee horisontale lyne (ook in swart) wat oë en ’n mond voorstel en ’n agtergrond van vertikale kwashale in ’n verskeidenheid van kleure.

Die titel Meditasies suggereer reeds dat die kuns­tenaar ’n religieuse bedoeling met die reeks skilderye gehad het. Dit word bevestig deur ’n uitspraak soos die volgende wat hy oor sy kuns gemaak het: “Great art can only be painted with religious feeling … I understand that the artist must express through his art, in forms and colours, the divine in him. Therefore a work of art is God made visible and art is a longing for God.”

Oor sy portretstudies laat Jawlenski hom soos volg uit: “For three years I painted these small heads like a man possessed” en: “ I am obsessed day and night by the vision of faces and colours. And the spiritual vision is my mystical world.”

Wanneer ’n mens hierdie uitsprake in ag neem, asook die feit dat Jawlenski sy lewe lank ’n toegewyde lidmaat van die Russies-Ortodokse Kerk was, word dit meteens duidelik dat die gesigte wat in die Meditasies uitgebeeld word sterk herinner aan die geykte uitbeel­ding van die Christus-gesig in die Ortodokse tradisie en dat dit dus as ’n reeks Christus-ikone beskou kan word. In die woorde van John V Taylor: “As in all Jawlenski’s ‘meditations’, the face, or presence, that gives its structure to the work is, in the conventions of icono­graphy, unmistakably Christlike.”

Wat my verder tref, is dat elkeen van die skilderye ook soos ’n venster lyk waardeur ’n mens na ’n werklikheid agter die gesig op die voorgrond kyk. Die im­pli­kasie sou dan wees dat die uitbeelding van Christus ’n venster bied waardeur ’n mens na die dieper werklikheid van God kyk. Of soos Jesus self in Johannes 14 sê: “Wie My sien, sien die Vader.”

Die feit dat hierdie dieper werklikheid in elkeen van die skilderye in ’n verskeidenheid van kleure uitgebeeld word, het heel moontlik die bedoeling om iets te sê oor die onuitputlike veelkleurigheid van die wyse waarop God aan die mens geopenbaar word. In party van die skilderye is die kleurgebruik meer somber, terwyl daar in ander, soos in die Groot Meditasie wat by hierdie artikel afgedruk is, van meer helder kleure gebruik gemaak word. God word nie net in die vreugdevolle oomblikke van die lewe ontdek nie, maar ook in die donker tye van swaarkry.

Dit is opvallend dat die vertikale en horisontale in elkeen van die skilderye ’n duidelike kruis vorm. Christus bied dus nie net op algemene wyse ’n ‘venster’ op God nie, maar vir Jawlenski is dit veral as ge­kruisigde dat Hy vir ons ’n blik gee op die wesensaard van God. Juis die pyn en lyding wat Christus deurgemaak het, getuig van die solidariteit van ’n God wat Hom vereenselwig met die ellende.

Wat hierdie reeks veral aangrypend maak, is dat dit geskilder is in ’n tyd van swaarkry in Jawlenski se persoonlike lewe: Sy werk is nie net deur die owerhede in Nazi-Duitsland verbode verklaar nie, maar hy is ook toenemend gekortwiek deur die pynlik-verlammende artritis waaraan hy gely het. Toe hy die Meditasies geskilder het, moes hy albei sy hande gebruik om sy kwas vas te hou. Teen die einde van sy lewe kon hy glad nie meer skilder nie.

Dit bring ons terug by die boek van Taylor waarvan die titel ontleen is aan ’n opmerking van Michael Ramsey, die toenmalige aartsbiskop van Canterbury, wat by geleentheid gesê het: “God is Christlike, and in him is no un-Christlikeness at all.” In sy boek handel Taylor met die kwessie van die kenbaarheid/onkenbaarheid van God en skryf onder andere: “Thinking about God and loving God, thinking further and loving more, is a pendulum of wonder and incomprehension, illumination and darkness, loss and possession, abasement and bliss which, once started, must continue for ever as we move on into the infinity of God.” In hierdie voortgaande proses staan een ding vas: Wat ons bo alles van God kan weet, is dat Hy soos Christus is.

▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.