Hoe praat ons met mekaar?

Wanneer ek so op ons huis se stoep sit en lees, dink ek aan “iemand” wat ook ie­wers op sy of haar stoep sit en lekker lees in al die koerante en tydskrifte.

Dan sien ek in my geestesoog die Kerkbode ook tussen al die verskillende tydskrifte. Ek sien die Rapport, die Burger (vir die Kapenaars) en die Beeld lê ook daar.

Dan wonder ek wat dink die “iemand” daar op die stoep van ons geliefde NG Kerk as hy of sy nie ’n lidmaat is nie.

Ek wonder selfs wat dink ons eie lidmate van ons kerk as hulle al die verskillende tydskrifte en koeran­te lees.

Sien, ek sit nie net op die stoep nie, want ek het die voorreg om soms bietjie in die binnekringe te be­weeg en dikwels die liefde te ervaar wat ons as broers en susters uitstraal teenoor mekaar in verga­de­ringe. Ons hou dan selfs saam nagmaal by die ASM-vergaderings.

Ek hoor ook dikwels die goeie nuus en mooi verhale tydens rondvra-sessies en raak saam opgewonde oor al die mooi dinge wat orals in ons kerk aan die gebeur is.

As ek op die stoep sit en lees dan gebeur daar ’n paar dinge met my waarvan ek nie hou nie. Soms word ek briesend kwaad maar meermale word ek sommer net hartseer en is ek diep teleurgesteld. Hoor net die taal wat ons gebruik. Hoor net hoe ons mekaar beskuldig van liefdeloosheid en ongevoeligheid. Ek glo met my hele hart dat mense aan beide kante van ’n debat in die kerk tog seker almal lief is vir die Here en net die beste wil hê vir die kerk en vir ons lidmate. Hoekom gebruik ons dan soveel negatiewe woorde teenoor mekaar?

Ek dink so by myself, as ons ’n besigheid was wat onsself in die wêreld moes bemark, sou daar nie veel van ons gekom het nie. Wat moet iemand dink wat die koerant oopmaak en daar staan: “Kan daar iets goeds uit die NG Kerk kom?” Die berig bevat op die ou end mooi positiewe waarhede. Wat moet buitestanders egter dink as ’n kerk oor homself sulke vrae begin vra, en dit is maar net een berig. Dit klink vir my te veel na “Gaan die Bulle weer die Curriebeker wen?”. Dít was nadat hulle die swemgala teen die WP op Loftus sleg verloor het …

Intussen is dit lekker om te vertel dat daar baaaaiiie gemeentes in die NG Kerk is waarmee dit baie goed gaan en wat baie mooi dinge in die koninkryk doen en wat mooi met mekaar praat.

Kan ons nie maar almal in die kerk mooier met mekaar begin praat sodat ek nie bang is dat my gemeente die koerante lees en soos ek seerkry as hulle die taal hoor nie?

In Goudland-sinode het ons ’n besluit geneem om mooi taal met mekaar te praat en om liefdevol mekaar tereg te wys wanneer iemand negatief begin praat oor ons kerk.

Ds Johan Brink is voorsitter van Sinode Goudland.