Kopskuif vir Geloftedag

Anna Engelbrecht van Bellville skryf:

Waarom het ons so teësinnig geword om Geloftedag te herdenk, om ons geloftes te betaal? As Christene weet ons ons moet ons geloftes betaal en is dit so baie gevra om een dag in die jaar die Heer te dank dat hy ons volk deur nog ’n krisisjaar gelei en bewaar het? Ons bou in elk geval vir Hom ’n kerk waar dit Hom behaag, nie ’n geboutjie in Pietermaritzburg of Kato of Bellville nie.

Of is dit die “soos ’n Sondag” wat ons pla? Daar is dan al reeds 52 van hulle in die jaar. Ek het nuus vir u: As die hou van ’n Sondag vir u so ’n las is, is daar fout met die manier waarop u die Sondag vier. Die Sondag is ’n genade van God aan die mens. Ons kan nie daarsonder leef nie. ’n Dag wat ons anders deurbring sodat ons ons gedagtes op God kan rig. Ons bied ons lof aan God maar Hy het dit nie nodig nie, ons het wel.

Wat is verkeerd met ons herdenking van 16 Desember?

Eers het ons “Dingaansdag” gevier. Heeltemal verkeerd. Ons juig nie oor die dood van ’n wrede man wat God nie geken het nie.

Toe word dit “Geloftedag”. ’n Bietjie beter. Maar nog nie reg nie. Ons gedenk ook nie die handjie vol dapper manne wat in hul benoudheid op hul knieë gegaan het en tot God gesmeek het om uitkoms nie. Dit is wel ’n goeie voorbeeld om na te volg. Boonop het die politici die geleentheid misbruik om vir hulle stemme te werf.

Wat gedenk ons dan? Ons gedenk dat die groot, almagtige, ewige God bereid was om na die nietige bedreigde Afrikanervolkie te luister en vir hulle ’n wonderwerk te bewerk, of ontken u dat dit ’n wonderwerk was? Dit is nie ons wat ’n gelofte gemaak het nie, dit is God wat met ons ’n verbond gesluit het. Wil u nou sê dat Hy nie die reg daartoe gehad het nie?

Ek dank God dat ek aan ’n volk kan behoort wat die beskerming van God kan geniet maar as ons na alles nog Hom verwerp, sal Hy Hom van ons onttrek.