’n Persoonlike storie

Ds Johannes Mouton van die NG gem Tableview skryf:

En toe gebeur dit met ons ook. Sommer so terwyl ons braai: “Pa, ma, ek wil vir julle iets sê – ek is gay.” Ons het altyd ’n vae vermoede gehad – veral ’n ma weet mos. So, dit was nie ’n skok nie, maar niks kon my voorberei vir die ontsettende liefde en deernis wat ek in daardie oomblik vir my 17-jarige kind gevoel het nie.

“My naaste vriende weet al, want ek wil nie meer wegsteek nie.” Ek hoor die verligting in sy stem en ek weet, vanaand is ons as ’n gesin saam met jou uit die kas uit. Nooit weer sal jy hoef weg te steek nie. Ons sal jou liefhê, beskerm en ondersteun met alles wat in ons is. Want dit gaan nie altyd maklik wees nie, ironies genoeg, veral nie in die kerk nie.

Wat myself betref: Ek is dankbaar, want die Here het ons voorberei. Gelukkig is gemeentes nie die sinode nie, want hy is in ’n gemeente waar hy homself kan wees. Maar ek is van voor af kwaad oor die 2016-besluit wat sê hy mag homself nie volledig uitleef nie. Intussen hou ek aan bid dat die kerk waarvoor ek lief is, tog anders sal begin dink. 

En ek bid vir jou, my wonderlike, talentvolle, liefdevolle kind. Ek bid dat jy die onvoorwaardelik liefde en genade van Jesus al meer sal beleef. Ek bid dat jy in die toekoms gemeentes sal vind waar jy jouself volledig sal kan uitleef; dat jy ­nooit weer enigiets hoef weg te steek nie; dat jy die stampe en stote wat sal kom met humor en begrip sal hanteer.

Ek bid vir ’n lewensmaat wat vir jou sal lief wees, en wat die kinders wat jy so graag wil hê, saam met jou sal grootmaak. En ek dank die Here dat Hy jou vir ons gegee het en vir die mense in ons lewe wat vir jou onvoorwaardelik lief is.