Ja vir God beteken ja vir die kerk

Prof Nelus Niemandt skryf uit Princeton in die VSA:

Dit voel baie dae of enigiemand wat nog sê dat hy of sy aan die kerk behoort, netsowel ’n teiken op die rug kan plak en die skote afwag. Eintlik het baie mense die kerk afgeskryf. Jean Oosthuisen skryf n boek Die opkoms en ondergang van die NG Kerk. Kobus Kok vang iets van die tydsgees op in sy boek met die titel Ja vir God en nee vir die kerk.

Ek skryf hierdie stuk vanuit die VSA. Die politieke verdeeldheid en stryd oor selfdegeslagverhoudings het die kerk hier diep in die moeilikheid. In die ou bekende Westerse lande verloor die kerk derduisende lidmate en is daar weinig groei. Die vraag hang swaar in die lug: Gaan ons die einde van die kerk sien?

Hier in die VSA moes ek weer kyk na die werke van Lesslie Newbigin, een van die invloedryke teoloë van die vorige eeu. Hy was eintlik ’n profeet wat al baie lank terug gewaarsku het dat die kerk in die tradisionele Westerse lande baie groot uitdagings in die oë staar. Na sy sendingwerk in Indië keer hy terug na Engeland en ontdek die sendingveld het nou tuis gekom.

Newbigin is baie bewus van die kritiek teen die kerk. Hy erken dat kerklidmate deur die eeue vreeslike foute gemaak het en die Evangelie baie skade aangedoen het. Maar dit beteken nie dat mens die kerk sommer so kan afskryf nie.

Hy skryf in The open secret dat Jesus Christus baie seker gemaak het om ’n gemeenskap van mans en vroue tot stand te bring aan wie hy die goeie nuus toevertrou het. Die goeie nuus is in die eerste instansie aan die kerk toevertrou.  Jesus het niks op skrif nagelaat nie, maar wel die gemeenskap van gelowiges aan die wêreld gegee. Jesus se nuwe bedeling weerklink deur die geskiedenis in die vorm van ’n gemeenskap, nie in die vorm van ’n boek nie. Daarom word die kerk die liggaam van Christus genoem. Die lewe van die kerk verteenwoordig iets van die lewe van Jesus Christus.

Vir Newbigin is die kerk ’n teken en voorsmaak van God se koninkryk.  Jesus gee die kerk aan die wêreld  om God se geskenk van vrede te wees. Die kerk vertel nie net van die koninkryk nie. Die kerk dra iets van die koninkryk die wêreld in. Die kerk vertel die goeie nuus en ís die goeie nuus.

Ja, dit mag soms swaar gaan met die kerk. In die gewese Sowjet-Unie was dit net ou mense wat nog die Ortodokse liturgie gevier en vir byna tagtig jaar lank die tradisies en boodskap voortgedra het. In China het gelowiges vir dekades lank in die geheim en in stilte saam gebid. In beide gevalle is daar nuwe lewe en tekens van geweldige groei.

Ons het baie foute gemaak. Ek wens ek kon baie dinge anders gedoen en beter gedoen het. Ek huil oor die verdeeldheid en die stryery. Ek is saam met Kobus Kok ontsteld dat mense kan dink jy kan já sê vir God en néé sê vir die kerk. Maar die Gees van God werk steeds. Ons bely dat ons glo in die heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van heiliges.

Al is ons swak en kry ons swaar, werk die lewende Here juis daar waar jy dit die minste verwag. Newbigin skryf dat die grootste oomblikke vir die Evangelie deurgebreek het waar die kerk swak en eenkant toe geskuif was. Ek dink nie ons sien die ondergang van die NG Kerk nie.  Ek dink nie mense kan glo sonder ander mense nie. Ja vir God beteken ja vir die kerk.