Oor hospitaalbesoek 1

Amanda Lotz van Potchefstroom skryf:

Ek skryf na aanleiding van prof Johan van der Merwe se berig in Kerkbode, 2 November: “Lesse uit die ontvangkant van hospitaalbesoek.

Vyf-en-twintig jaar gelede het ons seun tragies gesterf aan sy eie hand. Bekendes en onbekendes het ons kom besoek en elkeen het gegee wat hy/sy gehad het om te gee. Sommige gedagtes was bietjie vreemd maar tog goed bedoel.

Talle Skrifgedeeltes wat ons ontvang het, is in my geheue ingegraveer, want die Woord van God is mos lewend en kragtig (Hebr 4:12). Ek het daaraan vasgeklou soos ’n drenkeling!

Heelparty van die troosgedagtes het ek sinvol gebruik om andere te vertroos in my boek Deur water en vuur na oorvloed, ’n troosboek vir geliefdes van mense wat tragies gesterf het.

Ons het elke besoek ten diepste waardeer, want ons het geweet dat dit baie moed geverg het van besoekers – van wie die meeste geen kennis gehad het van ons spesifieke trauma nie – maar ons nogtans kom besoek het. So was daar sekerlik ook besoekers wat baie moed bymekaar moes skraap om ’n professor (teoloog?) soos professor Van der Merwe te besoek.

Elke mens lewe net ’n bepaalde tyd op aarde. Ons besoekers het van hulle kosbare tyd – ’n stukkie van hulle lewe – vir ons gegee.

Met alles in die lewe kan ’n mens fout vind. Jesus is uitgeskel vir ’n vraat en ’n wynsuiper.

Baie dankie, Here, vir al u kinders wat U na ons gestuur het om ons leë hande en hart te vul. Hulle is die geseëndes wat U uitgesonder het in Matteus 25:40: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

“O, Here! Bewaar my van ’n kritiese gees!”