Oor hospitaalbesoek 2

Dorothy-Anne Howitson van Kimberley skryf:

Die artikel “Lesse uit die ontvangkant van hospitaalbesoek” (Kerkbode, 2 November 2018) slaan die spyker op die kop.

Prof Johan vd Merwe getuig van die werklike stortvloed “omgee” wat besoekers bring. As gevolg van polio in 1957, het ek oor die jare gereeld in die hospitaal beland. En, ek dink, hoe ouer ek word, hoe meer bewus is ek hoe irriterend menige besoeker is (al bedoel hulle dit goed?):

“Haai, hoekom het jy jou arm gebreek … jy moet meer versigtig wees” – “Nee, sien, ek het aspris uit my rolstoel gespring, want ek wou sien wat gebeur.”

“Nou wat is dié keer verkeerd? Mens, hoeveel operasies het jy al gehad … +20” – “Ek is mal oor narkose … dit laat my so lekker opgooi.”

“Ai, Irma, ek en jy sien mekaar net wanneer jy in die hospitaal is … en hoe gaan dit met jou familie … was goed om jou te sien … ons moet regtig teedrink … Tata … en ek loop nou, word tog gou gesond” – (in my gedagte dink ek, wie het vir wie kom kuier?)

“Het jy al die grap gehoor …” – “nee, ek wil ook nie … loop asb.”

Prof Van der Merwe, baie sterkte en mag sy nabyheid jou vrede bring.

En ja! Wanneer dit weer goed gaan, dan skryf u asseblief ’n boek wat elke hospitaalbesoeker verplig word om te lees.