Proponent Charlotte dans van vreugde

Lofliedere in Afrika-idioom het ná die legimasieplegtigheid deur die kerkgebou van die NG gemeente Universiteitsoord weergalm.

In die liturgiese ruimte het proponent Charlotte Sibanyoni saam met haar ma en die tannies van die gemeente Lux Mundi (waar sy betrokke is) se Sotho-bediening gedans.

“Ek was só bly,” sê Charlotte ’n paar dae later.

Dit was geskiedenis wat daar gemaak is: dié bril­jante, jong, swart vrou wat as student van die NG Kerk by Tukkies teologie gestudeer het en by dié legitmasieplegtigheid tot die bediening in die NG Kerk toegelaat is.

Maar dit was ook ’n lang pad vir Charlotte vandat sy as sewejarige saam met haar ma in ’n bediendeka­mer in Pretoria se Moot gebly het. Later het haar ma Mamelodi toe getrek en het sy eers by vriende, toe in ’n plek van veiligheid en toe in die Louis Botha-­kinderhuis gebly.

In haar graad 11-jaar – sy was in die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria – het sy op haar eie in ’n bediendekamer gebly en by plekke soos ’n pizza­winkel en sekuriteitsonderneming gewerk om te oorleef.

En toe gaan sy en ’n maat na die NG gemeente Concordia toe en daar leer sy vir ds Johan van Niekerk ken. Hy en sy vrou Rina het haar genooi om by hulle te kom bly en vir Charlotte het hy die pa geword wat sy nooit gehad het nie. Sy het ook belydenis van geloof in Concordia afgelê.

In haar matriekjaar verras die radiostasie Jacaranda FM haar met ’n beurs van ’n weldoener vir haar universiteitstudie. En toe haar dominee-pa vir haar vra wat sy wil gaan studeer, sê sy vir hom: “Ek wil doen wat jy doen. Ek wil ’n dominee in die NG Kerk word.”

Nou lag sy as sy vertel hoe verskriklik broekskeur dit aanvanklik gegaan het. Sy het Grieks en Hebreeus en ander vakke gedruip. Daar was hereksamens. En uiteindelik het sy haar eerste jaar deurgeskuur.

Maar in haar tweede jaar het haar punte opgeskiet tot in die sewentigs. En daarna was dit onderskeidings. Sy het haar BTh-graad en later ook die MDiv-graad met lof behaal. Sy gee nou klas in Hebreeus.

Dit was ook nie net met die akademie wat dit aanvanklik gehaak het nie. Ook met van haar klasmaats het dit soms gesukkel. Sy was vurig, vertel Charlotte. En soms kon van die klasmaats sulke onsensitiewe dinge sê. En dan het sy gereageer.

Maar mettertyd het ook dít beter gegaan. Sy het rustiger geword en geleer om te luister. Sy het begrip ontwikkel vir waar ander mense vandaan kom, vir die agtergrond wat hulle gevorm het om te dink soos hulle dink.

En nou praat sy van “ons”. Die NG Kerk is haar familie. Dit was NG mense wat haar studies betaal het. Dit was NG mense wat gesorg het dat sy blyplek het en wat vir haar ’n kar gegee het. Dit was NG mense wat haar op soveel maniere gehelp het.

Sy sien uit daarna om saam met die NG Kerk die toekoms in te stap. Sy sal aanhou klas gee, sê sy. En sy het ingeskryf vir haar doktorsgraad oor ’n aantal psalms.

Sy sou graag in ’n gemeente wou help. Sy sou met die jeug wou werk, oor hoe hulle na Suid-Afrika kyk. Sy kan in Afrikaans preek, maar sal graag help met ’n Engelse bediening. Sy wil diversiteit bevorder.

Want proponent Charlotte Sibanyoni droom oor ’n groter toekoms vir die NG Kerk.