In Vuurvas kom teologie en letterkunde saam

VUURVAS
Deur Carel Antonissen
Naledi, 2017
Resensie deur Cas Wepener


Vuurvas is Carel Antonissen se debuutdigbundel, alhoewel enkele van sy gedigte al voorheen gepubliseer is. Die roerende gedig getiteld “Die pad na Klipfontein” was op die langlys vir die Sol Plaatjie-toekenning, die bundel op die kortlys vir die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys 2018.

Vuurvas is ’n bundel wat getuig van lewenswysheid en ’n bewuste lewensingesteldheid, én van die vaardigheid om iets daarvan met poëtiese taal weer te gee. Die bundel is keurig uitgegee en die blom teen die roetkleurige agtergrond op die voorblad is betekenisvol. Die flapteks gee onder meer die volgende inligting aangaande die voorblad: “Die brandlelie verskyn gewoonlik nege dae na ’n veldbrand. Dit is die eerste teken van lewe wat soos ’n feniks uit die as verrys. Hierna bly dit periodiek groei, dikwels tot vyftien jaar.”

Vuurvas is ’n debuutbundel, ook nie ’n uitsonderlike dik bundel nie, maar dit is ’n gewigtige bundel, want dit is tot barstens toe vol lewenswysheid. Die bundel het vier afdelings, elkeen met ’n mooi titel wat aan ’n gedig in die betrokke afdeling ontleen is.

Die eerste afdeling is getiteld “Bont krale en ’n rok wat sing” en is propvol vroue waaroor gedig word. In deel twee, getiteld “Om die binne­luike oop te stoot”, kyk die digter terug oor sy grootwordjare en besoek die landskap van sy jeug, te wete die wêreld van Calvinia. Landskap en plek is deurgaans ’n tema wat in noue verband met die binneluike staan. “Die verskriklike tamboeryn” verwys na die tamboeryn in die verhaal van Jefta se dogter (Rig 11) en in hierdie deel kom ’n sterk sosio-politiese betrokke en kritiese stem na vore. “Kordaat met vuur” is die laaste afdeling waarin die digter speel met die uitdrukking “om met vuur te speel”.

In Vuurvas kom teologie en letterkunde dig bymekaar. Nie alleen baat die Afrikaanse poësie in hierdie bundel by Antonissen se teologie nie, maar ek glo dat die teologie ook ruimskoots by sy poësie baat. Wat teologie wil sê kan nouliks in menslike woorde uitgedruk word, maar wanneer dit gedoen word, glo ek, is die woorde van die digkuns, veral gelouterde vuurvaste woorde soos dié van Antonissen, ’n goeie keuse.

▶ Prof Cas Wepener is hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria.