’n Boek onder die Kersboom

As jy nie van die vorige uitgawes van die Leefstyl-Bybel vir vroue het nie, dan moet jy onge­twyfeld hierdie rondte een aanskaf (Lux Verbi, 2018)! Onder redaksie van Christina Landman bied hierdie Bybel jou die teologiese insig en refleksie van mense soos Julie Claassens, Yolanda Dreyer, Stephan Joubert, Nico Koopman, Elna Mouton, Piet Naudé, Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, Jan van der Watt – om maar net enkele van die uitmuntende bydraers te noem. Dis ’n omvattende kommentaar met ’n spesifieke fokus op vroue en hul geloofservaring. Met stewige respek vir Skrifgesag én Bybelwetenskappe, het elke Bybelboek ’n inleiding met agtergrondinligting. ’n Agtergrond-rubriek gee toeligting uit Bybelse tye. Vroueportrette belig spesifieke Bybelse vroue. Verder word daar ook gekyk na mites oor vroue, lewenskwessies en geloofswaarhede. Hierdie Bybel is onmisbaar op elke teoloog en predikant se rak. Vir gewone gelowiges breek dit die Bybel en teologie op ’n toeganklike, verstaanbare manier oop. Vroue word nuut in hul geloofsbron ingenooi. Ook mans sal hierdie teologies uitnemende, omvattende bron inspirerend en verhelderend vind.

In Uit ’n ouerhart (Christelike Uitgewersmaatskappy, 2018) deel Norma Rossouw “50 waarhede vir elke kind se lewensreis”. Die boek praat met ouers oor ’n lewe voor en met God. Op eenvoudige dog praktiese wyse word daar gefokus op waardes soos diens­baarheid, respek, selfsug, leuens, ens. Die boek is vol wyshede soos: “Rykdom is wat jy in jou hart het en nie wat in jou beursie is nie”, of “Ware liefde maak altyd ’n draai by die kruis”. Elke gedeelte begin met ’n kort oorsig, gevolg deur ’n toepassing. In die kunstig verpakte boek word daar na elke gedeelte riglyne en spasie gegee vir nadenke, toepassing met jou kind en ’n plek waar julle ’n lofgebed kan skryf. ’n Inspirerende boek wat ouers inneem op ’n reis wat bevestig: “Dit gaan nie oor hoeveel keer jy deur die Bybel is nie, maar hoeveel keer die Bybel deur jou is.”

In Lewe in sy oorwinning (heruitgawe van ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde, Christelike Uitge­wers­maatskappy, 2018) neem Ewald van Rensburg die leser op ’n gemaklike, toeganklike speurtog deur die boek Openbaring. Met 365 dagstukkies word die le­ser deur die hele boek Openbaring begelei. Vir elke gedeelte is daar “speurleidrade”, Ou-Testamentiese verwysings of ander agtergrond wat die betekenis verhelder. Daarna is daar ’n “oplossing”, dikwels in die vorm van ’n storie, wat die boodskap van die gedeelte vir vandag uitlig, gevolg deur “vars spore” – iets om te doen of te oordink. Die krag van die boek is Van Rensburg se vermoë om deurgaans op die evangelie te fokus. Selfs waar daar omstredenheid oor interpretasie bestaan, word hierdie omstredenheid bloot genoem, terwyl die evangelie steeds voorop gehou word. Saam met die skrywer se vars skryfstyl, bly Openbaring deurgaans Goeie Nuus wat op ’n besondere manier oopgebreek én toegepas word vir vandag se leser.

In Die groot aanhalingsboek (Lux Verbi, 2018) vind jy “wyse woorde vir die Christelike lewe”. Temas word alfabeties gelys van aanbidding, deur fanatici (“’n Fanatikus is iemand wat nie van gedagte wil verander nie en nog minder die onderwerp wil verander” – Winston Churchill) en satan (“Waar God ’n kerk bou, bou die duiwel die konsistorie” – Martin Luther) tot by ywer. ’n Handige afdeling is die spesiale aanhalings vir spesiale geleenthede, soos verjaarsdae, romanse (“Sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my en val die geil reëns sonder doel” – DJ Opperman) en heildronke. Daar is selfs ’n vrolike heildronk op ’n ekonoom! Danksy die afdeling “Spreuke uit verskillende lande”, weet ek nou saam met die Nederlanders dat ’n klein potjie maklik kook. Hierdie boek is ’n oulike Kersgeskenk, maar onthou: “Hulle wat Kersfees nie in die hart het nie, soek dit tevergeefs toegedraai in geskenkpapier onder ’n Kersboom,” aldus Roy L Smith.

Met pragtige, lewendige illustrasies en ’n kin­dervriendelike lettertipe vertel Cor en Letitia Uys van Oom Karoolus en Lente se ­Jesus-avonture vir kaalvoeters (Christian Art Kids, 2018). Elke storie is ’n avontuur wat Oom Karoolus gebruik om op ’n praktiese, vermaaklike manier vir Lente iets te leer van geloof. Na elke storie is daar ’n vertel-aktiwiteit, ’n nuwe woord wat kinders kan neerskryf en ’n doen-aktiwiteit, asook ’n kort gebed. Persoonlik sal dit vir my seer wees om in die pragtige boek te skryf, soos wat die aktiwiteite kinders aanmoedig! Kinders sal dit egter, saam met die stories, illustrasies en CD met liedjies, baie geniet.

Jimi le Roux se Hou vas aan die hoop (Christelike Uitgewersmaatskappy, 2018) is ’n pragtige kuns­werkie. Le Roux bied die dagstukkies binne ’n groter raamwerk van geestelike dissiplines aan en besweer so die huiwering rondom dagstukkies. Hy moedig lesers aan om dit deel te maak van ’n groter proses van Skrifmeditasie, waar Skriflesing Skrif-oordenking word – deur die hele dag heen. In ’n eenvoudige, gemaklike skryfstyl werk hy deur die Psalms, elke dag met ’n kort refleksie van net twee paragrawe. Die kunswerk van Amylee Weeks is verweef in die teks, sodat die boekie beeldskoon is. ’n Mens hoop dat die skoonheid van die blad nie die mark sal beperk nie. Hierdie is ’n aan­trek­like reis deur die Psalms en die le­we, gemik op alle gelowiges.