’n Nuwe perspektief op ‘vissers van mense’

Ek is nie ’n visserman nie, maar op die oewer van die Loskopdam het ek nuwe waardering gekry vir die keer toe Jesus in Markus 1 vir Simon en Andreas gesê het dat Hy hulle vissers van mense sal maak.

As iemand wat nie visvang nie, was dit vir my moeilik om dié belofte vir myself toe te eien. Dit het egter langs die viswaters verander.

Terwyl ek nie ’n visserman is nie, is my boetie wel, en dít in murg en been. Hier staan ons knie-diep in die water, met vier visstokke en ’n viskas vol proviand. ’n Klipgooi van ons is nog ’n visserman. Hierdie jong mannetjie vang egter nie vir die lekker soos ons nie. Hy en sy gesin se aandete hang daarvan af.
In ’n stadium sien ek my boetie pad af stap met ’n sakkie in sy hand. Na ’n rukkie is hy terug, besig om in sy viskas te grou.

Toe ek vra waarna hy so naarstigtelik soek, kom daar ’n verrassende antwoord. Nee, sê hy, hy het vir die jong visserman ’n paar sakkies kuns­aas gevat, omdat hy net een ou verflenterde plastiekwurmpie in sy besit het. “Dit is wonderlik,” sê ek uit die veld geslaan. Oor jare heen het ek geleer hoe heilig hy is op sy kuns­aas.

“Maar hoekom grou jy nou so?” wou ek weet. “Sy vislyn is ook gedaan,” antwoord hy met ’n tolletjie lyn en ’n katrol in sy hand. “En hierdie katrol het ek buitendien by iemand gekry,” sê hy en stap weer pad af.
Voordat ons ry, kom sê die jong vissertjie dankie. “Mag die Here jou seën,” sê hy skaam voordat hy omdraai om weer met nuwe hoop ’n lyn in die water te kry.

“Mag die Here jou seën,” dink ek toe hy wegstap. Die Here hét ons sopas geseën. Ons het pas iets van God se hart beleef. Iewers in die gee en die ontvang was ’n heilige misterie.

Skielik het almal genoeg. Skielik is die angs van honger slaap weg, want daar is weer soveel nuwe hoop en moontlikhede.

Is dit nie hoe God se koninkryk ook werk nie?

Het elkeen van ons nie ook soms iets om met die wêreld te deel nie? Iets wat ons verniet gekry het? Iets wat ons ook kan uitdeel?

Mag ons, as die liggaam van Christus, ons hande oopmaak en gee wat aan ons gegee is. Mag ons die seën wat ons so mildelik ontvang, ewe mildelik uitdeel. Mag ons ook vissers van mense wees.

▶ Prop Lourens van Deventer het vanjaar sy gemeentejaar by die NG gemeente Witrivier gedoen.