“Meer lig as hitte” nuwe redakteur se pad met Kerkbode

LE ROUX SCHOEMAN is onlangs aangestel as Kerkbode se nuwe redakteur en neem die leisels in Januarie 2019 oor. Sy oë blink wanneer hy oor sy werk praat. Schoeman wil lesers boei en innooi eerder as wegstoot of verveel. Dit verg vir hom meer lig as hitte. Wie is Le Roux en hoe sien hy Kerkbode se pad vorentoe? DANIE MOUTON het hom ’n paar vrae gevra.


Danie: Jy is pas aangestel as redakteur van die oudste Afrikaanse koerant in die land. As mens aan jou voorganger dink, het jy groot skoene om te vul. Wat is die bydrae wat jy graag deur Kerkbode wil maak?

Le Roux: My voorganger, Neels Jackson, is ’n talentvolle skrywer en baie ervare joernalis – eintlik iets van ’n instelling as jy mooi daaroor dink. Soort van die Riaan Cruywagen van kerksake, kan jy maar sê. Ek is dankbaar dat hy ingestem het om op vryskutgrondslag deel van die redaksionele span te bly want ek vind groot baat by sy kennis en aanvoeling.

Die langtermynbydrae wat ek by Kerkbode sou wou maak, is om ’n betroubare multiplatform (papier en digitaal) nuusdiens te skep wat meer lig as hitte verskaf. Met ander woorde: Inhoud wat lesers boei en intrek eerder as verveel of wegstoot.

Danie: Kan Kerkbode al die NG Kerk se lidmate dien en almal se koerant wees?

Le Roux: Ek dink ’n kortpad na teleurstelling is om te verwag dat enige publikasie en die standpunte van alle bydraers daarin 100% met my eie voorkeure gaan oorvleuel. Hoewel toenemend aggressiewe verpersoonlikingsalgoritmes poog om ten minste ’n digitale leeswêreld te skep waar die subteks is: “You liked, so you would also like…” is dit (dalk genadiglik) nog nie ’n volslae werklikheid nie.

Soms glip ander se opinies deur die mure van ons eggo-kamers en ons moet eenvoudig verduur om herinner te word daaraan dat die lewe kompleks en standpunte veelvuldig is.

Ek dink ook ons moet versigtig wees om te uniek te voel met die verskynsel van polarisasie. Pres. Trump het die Amerikaanse nuusmedia tot ’n ongekende mate verdeel en stel hoë eise aan die idee van joernalistieke onpartydigheid.

Die Oxford-woordeboek se woord van die jaar vir 2018 was boonop “toxic” – dalk ’n verdere aanduiding van die feit dat publieke diskoers deesdae dikwels kwetsend en pleinweg uitputtend is.

Nietemin dink ek Kerkbode moet streef om die joernalistieke gees van nuuskierige verdraagsaamheid en balans konsekwent te handhaaf. Meer lig as hitte klink vir my na ’n waardige ideaal.

Danie: Vertel ons iets meer van Le Roux, die jong student wat teologie gaan studeer, maar toe in die wêreld van joernalistiek geëindig het? Waar kom jy vandaan en waar gaan jy as mens heen?

Le Roux: Ek is ’n privaat mens. Ek het ’n kreatiewe kant. Ek het blindekolle. Daar is plekke wat ek nog wil sien: binne en buite ons land. Ek dink visueel. Ek het ’n pad gestap sedert my Kweekskooldae en ’n verwondering vir wat op aarde die Bybel is – hoe dit binne ’n mens werk – het gelukkig oorleef.

As nuusbestuurder is my “strydkreet” die joernalistieke beginsel van “simple stories well told”. Dis die taamlik eenvoudige vlak waarop die beroep vir my funksioneer.

Ek het in Durban grootgeword, na die Kaap verhuis en ná my studies vir drie jaar oorsee gewoon (Suid-Korea en Londen) asook Johannesburg vir ’n ruk voor die Kaap my teruggeroep het.

Danie: Watter blootstelling as joernalis het die grootste impak op jou loopbaan gehad?

Le Roux: Ek het by Media24 die oorgang van ’n papier-eerste na digitaal-eerste werkvloei beleef en het ’n gesonde waardering vir hoe veeleisend en uitdagend daardie proses is omdat jy te make kry met mense se diepgewortelde werks- en denkpatrone. Maar ek het ook gesien hoe noodsaaklik dit is vir ’n publikasie – veral een met ’n trotse geskiedenis – om soms te laat gaan van sommige kernsekerhede.

Danie: Kerkbode het so twee, drie jaar gelede ’n digitale baadjie aangetrek met inhoud wat gratis beskikbaar gestel word. Papierkoerante gaan wêreldwyd deur ’n krisis met volhoubare digitale sakemodelle wat sukkel om van die grond te kom. Hoe sien jy die toekoms van joernalistiek en die koerantwese?

Le Roux: Jy vat dit raak met die term “volhoubare sakemodel”. Dis wat ons soek. In die media-wêreld praat hulle dikwels daarvan dat jy platform-agnosties moet wees. Jy moet in die eerste plek Kerkbode wees: ’n Sterk joernalistieke span en uitnemende medewerkers wat vars en nuttige inhoud skep of dit nou op papier, iPad, app of een of ander medium is wat ons nog nie eens ontwerp het nie. Dis als orrelpype. Maar die orrel self is die redaksie wat die hele proses dryf en die lesersgemeenskap wat rondom die inhoud ontwikkel.

Die geskiedenis leer ons koerante moes nog altyd inval by lesers se gedragspatrone. In die 1850’s het dit beteken De Kerkbode moes op ’n Saterdag afgelewer word sodat hy Sondag sy teikengroep kon bereik. Nou leef ons in ’n tyd waar die selfoon alomteenwoordig is en daardie medium dikteer weer, byvoorbeeld, dat daar multimedia- en meer interaktiewe inhoud naas die geskrewe woord moet wees. So ons moet die konteks, gedrag en behoeftes van die potensiële leser ernstig opneem en dit so bes moontlik dien.

Sal die gedrukte Kerkbode oorleef? Kom ons wees eerlik, hy lê in die Hoësorg-eenheid saam met baie ander gedrukte publikasies wat sukkel om hul advertensiemodel aan te pas van ’n suiwer oplaag-gebonde waardeproposisie na ’n data-gedrewe segmentering binne die aandag-ekonomie.

Le Roux Schoeman neem in Januarie 2019 die leisels oor as redakteur van Kerkbode.

So, die eenvoudige en eerlike antwoord vir die gedrukte Kerkbode se kans op oorlewing is myns insiens die volgende: Dit hang af van hoe duidelik, oortuigend en vinnig ons die waarde-proposisie van die gedrukte Kerkbode kan onderskei van ons digitale aanbod. Nie net onder intekenare nie, maar onder adverteerders wat verstaan dat ons as nispublikasie ’n smal maar baie diep gehoorsegement verteenwoordig.

In gedrukte formaat sal ons moet kyk na idees soos – byvoorbeeld – gedrukte kategese-hulpmiddels vir gemeentes, die terugbring van papier-eie goed soos ’n Bybelblokraaisel, ’n puik boekeblad wat jy voor jou kan oopsprei op ’n ontbyttafel en resensies van boeke lees wat in hoofstroommedia afgeskeep word.

Daai goed moet als help om die argument te maak teenoor die man of vrou wat die gemeente se beursie dra dat ons lidmate sal baat by ook die gedrukte formaat van Kerkbode. Vir ons as redaksie is die vraag dus: Hoe swel ons die groot-intekenaar-gemeentes wie se steun ons reeds geniet na selfs nog groter intekenaargetalle? En hoe kry ons die byna helfte van die Kerk se gemeentes, wat ’n Kerkbode-subskripsie as lae prioriteit eenkant skuif met begrotingstyd, om anders te dink oor ons nut en ons nuus? Dis nog als papier-sake.

Aan digitale kant is daar selfs ’n groter uitdaging: hoe, met ’n piepklein redaksie, hou jy ’n honger nuusplatform se maag stil vir twee weke tussen gedrukte verskyning? En veral, hoe differensieer ons onsself sinvol van ander plekke op die web? Dis tog mal om teen Facebook in die kryt te klim deur te probeer die Nommer Een Tuiste van Bekgevegte te wees. Maar hoe kan ons sinvolle gesprek en lesersdeelname tog ’n groter deel van ons digitale leesstof maak?

Nog ’n groot vraag: Hoe bring ons meer streeknuus vanuit gemeentes na die oppervlak? Die antwoord hier, waaroor ons heelwat meer in Kerkbode self sal praat, is dat ons die uitnodiging na medewerking met lidmate wil heruitreik. Dis interessant om te dink dat, met die toemaak van meeste tradisionele kleindorpse buitekantore, sit hoofstroomnuuskantore met die situasie dat hulle die stelsel – die redaksionele werkvloei – het om ’n wonderlike verskeidenheid nuusstories te kan skryf en publiseer, maar nie die “voetspoor” buite die groot sakekerne het nie. Hulle het eenvoudig nie verslaggewers op Bela-Bela, Newscaslte, of Burgersfort nie.

Ek vra myself of die Kerk se uitdaging nie presies die teenoorgestelde is nie: Ons het, in die gestaltes van dominees en lidmate, ’n reuse-voetspoor regoor die land. Kan ons ’n werkvloei skep en instandhou waar die nuuswaardigste en interessantste stories uit presies daardie dele van die land een van Kerkbode se sterkste inhoudspilare word? Onthou, streeksnuus het nie minder belangrik geword nie; dis slegs streeksnuuspublikasies wie se sakemodelle vasgedraai het.

Danie: Wie is jou gunsteling teoloë? Wat tref jou van hul teologie?

Le Roux: As student het prof. Dirkie Smit se Sistematiese Teologie-klasse ’n wêreld vir my ontsluit. Ook sy toeganklike skryfstyl en meedoënlose leergierigheid soos wat al die jare uit sy Geestelike Waardes-rubriek geblyk het, is vir my ’n toonbeeld van hoe teologie kan (dalk moet) funksioneer.

Maar as ek een teoloog moet uitsonder vir persoonlike impak op my lewe sou dit Richard Rohr wees. ’n Priester in die deelstaat Nieu-Meksiko wat ’n holte vir my voet gemaak het. Hy bedryf die Center for Action and Contemplation in die VSA en as mense hom vra: Nou watter van daai woorde is belangriker: “Action” of “Contemplation”? Dan sê hy die woord “and”. Sy paradigma van “Yes, and…” het krag.

Danie: Jy het onlangs gesê God is in jou belewingswêreld soms nader as elke asemteug, en soms voel God weer vêr weg. Wie is God vir jou en watter rol speel geloof in jou lewe?

Le Roux: Die agtergrond tot daai opmerking is as volg: Ek het vroeër vanjaar na ’n Moslem-leier sit en luister by ’n perskonferensie in die hartjie van Sandton en hy het gepraat oor die gelowige wat soms wonder: Is God ver, so ver dat mens moet skreeu? Of is Hy naby, so naby dat jy net hoef te fluister? Hy haal toe ’n vers uit die Koran aan waar God beskryf word as nader aan die mens as dié se “jugular vein”.

God met ons, basies. God kruip nie weg nie.

Danie: Wie is Jesus vir jou?

Le Roux: God se Seun, in ons menslike taal. Dis ’n ryke misterie.

Danie: Wat gee jou hoop vir die toekoms van die NG Kerk? Vir die toekoms van Suider-Afrika?

Le Roux: Alle voorbeelde van vergifnis, geloof en nederigheid.

Danie: Van jou spore lê in die Tankwa en jy het onlangs jou 40ste verjaardag langs die Weskus gaan vier. Wie is Le Roux Schoeman as jy die kantoordeur toetrek en jou skoene uitskop?

Le Roux: Dalk net twee goed. Ek is lief vir die natuur en ek het kernvriendskappe in my lewe. Op hierdie ouderdom begin ek werklik die waarde van vriendskap op ’n hele nuwe manier beleef en waardeer.

Veelsydige Vakmanskap

Verskeie joernalistieke toekennings getuig van Le Roux Schoeman se veelsydige vakmanskap. Hy is vaardig met woorde ‘en beelde. Hy is ook oortuig gewone mense is veel belangriker as wat hulle dink. Hier is ’n kort dokumentêr wat hy oor Boetie Fanie Tredoux (76), visserman van Velddrif, vir Netwerk24 gemaak het: