Die aardse Jesus nooi mense om Hom te volg

Dr Willem Nicol se jongste boek – Genooi om te volg – gaan oor Jesus van Nasaret. Dit het pas by Bybel-Media verskyn. Neels Jackson het met hom daaroor gesels.


Ons diepste verlange is na kontak met God. Soms beleef ’n mens iets daarvan in die groots­heid van die natuur, in die weerkaatsings van God wat ons in sy skepping sien. Maar Jesus is die helderste beeld van God wat ons het. En hy word daardeur aangetrek.

So verduidelik dr Willem Nicol waarom sy jongste boek oor Jesus gaan. En as hy vertel hoe Jesus jou tel­kens terugtrek na Hom toe, dan hoor ’n mens iets mee­sleurends daarin.

Maar die boek gaan nie maar net oor Jesus nie. Op die voorblad staan baie spesifiek: “Ervaar die lewe van die aardse Jesus.”

En dít, die aardsheid en mensheid van Jesus, is vir Willem belangrik. Hy beklemtoon dat Jesus vlees geword het. Hy het nie maar net gelyk na ’n mens nie. Hy het mens gewórd. En dit is anders as wat in die ander godsdienste gebeur. Die Hindoes het ook verhale, maar dis legendes sonder ’n historiese basis. Die Boeddhiste praat oor Gautama, maar histories gesproke weet hulle omtrent níks van hom af nie.

Met Jesus het God egter in die geskiedenis ingekom. As Christene oor Jesus praat, praat hulle oor werklike gebeure, gebeure wat Lukas, die evangelis, sê dat hy dit goed nagegaan het.

Willem wil sy leser na hierdie werklikheid toe neem. En hy gebruik ’n interessante tegniek. In elke hoofstuk is daar ’n gedeelte onder die opskrif: “Ons leef ons in”. In die eerste hoofstuk begin dit só: “Jy staan halflyf met ’n kaal bolyf en ’n nat broek in die water van die meer van Galilea. Jy voel klein golfies klap teen jou vel. Onder jou voete voel jy die seesand.”

Daarmee plaas Willem sy leser in die posisie van die eerste dissipels. Hy vertel hoe jy deur ’n vreemdeling geroep word om Hom te volg, hoe jy en jou broer die nette los en agter Hom aanstap.

En dan word die los van die nette ’n beeld. Die leser word opgeroep om die skewe voorstellings van Jesus soos nette te los ten einde Jesus te volg soos Hy inderdaad as mens op aarde geleef het.

Hy noem van die skewe voorstellings van Jesus wat in mense se gedagtes leef. Dis iets soos dat Jesus bloot gekom het om ons skuld te betaal. Dis waar, sê Willem, maar dis ’n reduksie. Dis ’n verskraling van Jesus. Jesus is baie meer as net die betaalmeester.

In die tweede hoofstuk se inleefstuk, neem Willem jou na Jesus toe. En wat jy sien verbaas jou: “Hy lyk dan soos ’n boemelaar. Hy het iets soos ’n lang T-hemp onder aan, en dit rafel uit by die kante. Daaroor het Hy iets soos ’n lang hemp aan, vol stof en duidelik al jare gedra.Verslete klere van ’n arm man. Ou sandale wat al afgeleef is. Skraal soos iemand wat min eet. Bruin, donkerder as baie van jou mense, soos iemand wat baie in die son en buitelug lewe.”

Daar is aanduidings van Jesus se armoede in die Bybel, maar ons lees dit mis, sê Willem. Hy verwys na die keer in Markus 2 dat die dissipels op die sabbat die koringkorrels uit die are uitgevryf het. Dit was omdat hulle honger was. Oor die vyeboom wat deur Jesus vervloek is, sê hy dat Jesus daarin na vrugte gesoek het omdat Hy honger was. By die vermeerdering van die brood en vis, was dit nie ’n geval dat die skare maar net vergeet het om hul piekniekmandjies te pak en kos saam te bring nie. Daar was nie kos in hulle huise nie.

En dis belangrik om te verstaan dat Jesus arm was, sê Willem. Hy is tereggestel omdat die owerhede nie gehou het daarvan dat Hy Hom so by die armes skaar nie. Daar was potensiaal vir opstand. En as die skares by sy intog in Jerusalem Hosannas sing, moet ’n mens verstaan dat “hosanna” beteken: “Verlos ons.” Dis ’n vryheidslied, sê Willem.

So help Willem sy lesers om verskillende kante van die mens Jesus beter te leer ken. Daar is hoofstukke met titels soos “Met oop arms” en “’n Nuwe wêreld van moontlikheid”, maar ook hoofstukke wat heet “Amptelik was Jesus ’n ketter” en “Amptelik was Jesus skuldig aan hoogverraad”.

Dis hierdie Jesus wat mense nooi om te volg, soos die titel van die boek sê.

En “volg” beteken meer as om net ’n paar stellings oor jou eie sondigheid en die betekenis van die kruis daarvoor te aanvaar. Dit gaan oor ’n lewenswyse wat vir gelowiges die model word.

Willem gebruik ’n aanhaling van CK Chesterton om iets daarvan duidelik te maak. Chesterton het gesê: “For St Francis his religion was not a thing like a theory, but a thing like a love affair.”