Wie ore het om te hoor

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Mark Zuckerberg se Facebook, Google se YouTube, Steve Jobs se iPhone en Jan Koum se WhatsApp het die wêreld van gister in die niet laat verdwyn. In een oomblik kan jy nou jouself laat hoor reg oor die wêreld. En met een beweging van jou wysvinger kan jy kies om te hoor wat ander sê. En die generasie wat in hierdie era grootword, leef in die hede. Oor die verlede Google ons as dit nodig is. Oor die toekoms leer ons scenario’s verstaan en bestudeer ons patrone … die weer, bevolkingsaanwas, ekonomie. Maar vandag is eintlik dominant. Maar om dίt te weet is ook ou nuus.

Ek onthou toe tafelrekenaars in die tagtigerjare nuut was. Jy moes toe nog met die ou MS Dos-programme werk. Ek het net geweet hier kom ’n nuwe era. Hoe gouer ek leer werk met rekenaars, hoe beter. Ek is net te jonk. As ek nie hierdie era betree nie, gaan ek op die kantlyn van die samelewing beland.

Ons is reeds in die era van digitale kommunikasie. Hoewel Kerkbode elke 14 dae verskyn, het ons ook nou ’n digitale weergawe. Ons kan nou vinniger nuus breek en lang tydspanne verkort met vars inligting. Sinodale nuusbriewe wat weekliks verskyn, speel ’n belangrike rol om nuus te deel. Maar dié tydspan van ’n week, raak in die digitale era baie lank.

Maar laat daar by niemand enige illusie wees nie. Ten spyte van talle blitsige kommunikasiemediums is kwaliteit kommunikasie tussen mense en goeie verhoudings nie hiermee gewaarborg nie. Inteendeel, huwelike verbrokkel meer en meer, ouer-kind-verhou­dings is toenemend onder druk en sosialisering in gemeenskappe het op baie plekke ’n laagtepunt bereik. Emosionele kommunikasie tussen mense, en dus intimiteit, word nie noodwendig deur digitale kommunikasie bevorder nie. Dit is juis in die bevordering van deernis en intimiteit wat die kerk moet uitblink, sou ’n mens wil sê. Die oog tot oog en hand tot hand deel van harte en omgee is immers liefde in aksie soos Jesus ons geleer het. Natuurlik!

Die feit dat digitale kommunikasie nie grense eer­biedig nie en mense kan bereik waar hulle is, bied egter ook opwindende moontlikhede. Dat jy as gelowige aktief kan saamleef binne die kultuur van die tyd, is eie aan ons gereformeerde aard. In hierdie wêreld woon ons. Dis ’n vinnige wêreld. Dit is ook ’n klipharde wêreld. Dink maar aan facebook, hoe hard en verne­derend die gesprekke daar kan wees. Dis daar waar ons sout en lig moet wees. Die kerk moet in beide modusse kan funksioneer. In die deernisvolle wêreld en in die vinnige wêreld. Dit kan versoen word met mekaar. Dis nie ’n teenstrydigheid nie. Dis moontlik, maar veral vir mense wat outentiek omgee en volgelinge is van Christus. Wie ore het om te hoor, moet hoor.

Ons gaan as kerk in 2019 die digitale era met meer doelgerigtheid moet betree. Anders gaan ons in die dekades wat kom meer en meer geïsoleerd raak. Dit gaan egter ons deernis en omgee toets. Die een ding wat die kerk immers in die digitale era sal laat uitstaan is die warmte en deernis tussen sy lede. Hoe ons dit gaan leef met Instagram, Twitter en wat ookal kom, is die vraag.

Ons is aan Neels Jackson baie dank verskuldig. Hy het oor die afgelope jare nie net daarin geslaag om die nuwe elektroniese Kerkbode baie effektief in die geloofsgemeenskap en wêreld te laat praat nie. Hy het ook van Kerkbode ’n tuiste gemaak van die beste stories van deernis en diensbaarheid. Honderde stories is in Kerkbode gedeel wat iets vertel het van die wyse waarop gelowiges ander se lewe verryk en verruim. Neels het ook die Kerkbode benut om die mees intense gesprekke in die kerk van die afgelope jare daarin te laat gebeur. Die strekking daarvan was soms fel en verdelend, ’n weerspieëling van die werklikheid in die kerk. Die koerant was ook vol inligting en artikels wat veel van die diepe nadenke oor geloofsake in ons kerk aan die orde gestel en verklank het. Ons kan ons amper nie ’n sinode indink sonder Neels se teenwoordigheid nie. Ek sê dankie aan Neels wat as joernalis, met ’n diepgaande kennis van die teologie, groot bydraes gelewer het. My gebed is dat die aftrede wat wag vir hom en Louise ’n wonderlike nuwe era sal inlui van nuwe ervarings van God se goedheid en trou.

Aan die einde van die jaar is my gebed vir elke lidmaat dat die liefde en vrede waarvan Kersfees getuig, regtig elkeen se lewe diepgaande en omvattend sal verryk. Mag dié Kerstyd ’n tyd wees waarin ons ons hart opnuut kalibreer op die hart van Christus, die Here.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.