As pappa in die moederskamer moet wag

As ’n soektog op Google min resultate lewer om oor ’n bepaalde onderwerp inligting te verskaf, dan moet jy weet jy sit met ’n onderwerp waaroor nog nie baie nagedink is nie. Ons het beslis nie hierdie tema in enige module op kweekskool behandel nie. Na gesprekke met ’n paar vroulike kollegas en my eie ervaring wil ek graag ’n paar goed op die tafel sit.

Die getroude vrouepredikant se omstandighede lyk heelwat anders na die geboorte van kinders. Skielik word jou man wat tussen die lidmate in die banke gesit het en ondersteunend na jou gekyk het en wie se gesigs­uitdrukking dikwels ’n aanduiding was van hoe hy dink die diens verloop, nou na die moeders­kamer verban. Gewoonlik sal my oë dadelik syne opsoek wanneer die diens begin op ’n Sondag, want daar­die vriendelike gesig van die persoon wat jou ondersteun sê vir jou “Ek is lief vir jou, jy doen ’n great werk, hou so aan!”. Maar nou is hy weg. In jou agterkop terwyl jy in die verloop van die liturgie is wonder jy, cope hy vandag? Is die kinders da­rem rustig? Het die liewe tannies in die gemeente my baba dalk geannekseer en in wie se arms is sy nou?

Die vrouepredikant se man bevind homself nou in die moederskamer. Nie omdat die gemeente nie ruimte maak vir kinders in die erediens nie, maar omdat mamma dominee of die res van die gemeente nie kan konsentreer as hulle die heeltyd “mamma” uitroepe kan verder ignoreer nie en keer dat hulle nie na jou moet hardloop nie. Daar probeer hy babadoeke ruil want baie gemeentes het nog nie ’n omruiltafel in die mansbadkamer toegevoeg nie.

Saam met al die mammas wat somtyds fronsend toekyk na hierdie onhandige man wat twee babas probeer rustig hou vir ’n hele uur lank, bevind hy hom­self in die moederskamer. Vir ’n oomblik wens hy, sy vrou kan vinniger preek. Iemand moet die kleingoed oppas terwyl mamma preek. Daar is baie vredeliewende tannies wat aanbied om die babas oor te neem vir ’n rukkie … maar die babas en kinders is ook maar skaam.

Dikwels hoor hy nie veel van die boodskap nie want die moederskamer is mos maar bekend vir die rumoe­righeid en hoë opgewondenheidvlakke daarbinne. Daarom lees hy my preek die vorige aand – hy is ook geestelik honger. Tensy julle as predikantspaar julleself in die bevoorregte posisie vind dat daar meer as een prediker is en dat dit nie elke Sondag jou vrou is wat met elke erediens preek nie.

Hy kan nie in die week die oggendbybelstudie bywoon nie want hy het ’n voltydse werk. Hy kan nie in die aand die geestelike toerustings­geleenthede bywoon nie want of sy vrou, die predikant, bied dit aan of sy moet ’n vergadering bywoon of huisbesoek doen en iemand moet die kinders oppas. Hy kan nie op die kerkraad dien nie, want wie kyk dan na die baba? Om selgroep toe te gaan met kleintjies in die baba- of peuterfase, lê soos ’n berg voor ma en pa!

Daarom … saam met die kinders s’n verhit hy die kos wat sy vrou vroeër vanmiddag al voorberei het voor sy weg is na die kerkvergadering of selgroep of besoek. Saam met die kinders kyk hy televisie en vertel hulle van sy dag, want hy het ook nodig om dit met iemand te deel. Probeer hy ook so bietjie tussen-in ontspan, want sy dag met al die sperdatums en eise en verkeer, eis ook sy tol op hom.

In een van die min artikels wat ek raakgelees het oor die vrouepredikant se man, vertel die skrywer van die artikel, dat hy besef het “jy kan haar nie beskerm nie”. Die vrouepredikant se man sal haar ook wil beskerm en voor haar intree om die aanslae van die bediening af te weer … maar jy kan nie, want jy moet haar toelaat om haar werk as die predikant te doen. “He might not be her shield, but he’s got her back.”

Baie mense sal sê die hooftaak van die vrouepredikant se man is om haar te ondersteun in haar roeping as predikant. Wat ek uiteindelik probeer uitlig is dat die vrouepredikant se man ook ondersteuning nodig het. Die hooftaak van die gemeente is om beide die predikant en sy/haar gade te ondersteun.

Ds Natalie Strydom is leraar by die NG-gemeente Alberton-Suid.