Christene se vervolging neem toe

Sowat 245 miljoen Christene ervaar wêreldwyd hoë vlakke van vervolging. Die vervol­ging sluit “enige vyandige ervaring as gevolg van identifisering met Christus” in en kan vyandige gesindhede, woorde en aksies insluit.

Dié statistiek is onlangs deur die Christelike organi­sasie Geopende Deure, wat sedert 1955 ver­volg­de Chris­tene ondersteun, met hulle jaarlikse Wêreldwaar­nemingslys (WWL) bekendgestel.

Die lys, wat sedert 1993 saamgestel word, toon die jongste opname van 150 lande om te meet waar dit die moeilikste is om as Christen te leef. Die gevolg­trekking is dat 73 lande uiterste, baie hoë of hoë vlak­ke van vervolging ervaar teenoor 2018 se 58 lande.

Vir die 18de agtereenvolgende jaar staan Noord-Korea boaan die lys. Kort op sy hakke is Afganistan en Somalië. Irak, wat laasjaar in die 8ste plek van onveilige lande was, maak vanjaar plek vir Indië.

Luidens die verslag kom vervolging veral deur ge­lo­wiges se familie, vriende, kollegas, plaaslike re­ge­­­rings­­amptenare asook die polisie.

Volgens Geopende Deure was daar in 2018 sowat 4 136 sterftes wat met die Christelike geloof verband hou met meer as 3 700 daarvan net in Nigerië, wat nommer twaalf op die ranglys is. Die moorde het hoofsaaklik in die noordelike of middelste gedeeltes van die land plaasgevind. Dit is byna dubbeld die getal as die 2 000 wat in 2017 in Nigerië vermoor is deur gewa­pende aanvallers.

In Asië het uiterste vervolging in China en Indië toegeneem. Volgens die organisasie huisves dié twee lande die wêreld se grootste Christenbevolkings. Ook in Suidoos-Asië neem Islamitiese ekstremisme toe met selfmoordbomaanvalle in Indonesië (#30) wat op een dag drie kerke in 2018 geteiken het.

In die Midde-Ooste en Noord-Afrika het uiterste vervolging ook aan die hand van radikale Islamitiese militante in Egipte (#16) en Libië toegeneem.

Onveiligste lande
Noord-Korea, Afganistan, Somalië, Libië, Pakistan, Soedan, Eritrea, Jemen, Iran, Indië.