Opgehefde hande van ­gebrokenes wys hul engel-skap

Die uur van die engel deur Karel Schoeman

Die uur van die engel is ’n boek wat die leser, in die woorde van Karel Schoeman self, op ’n inwaartse reis neem, skryf Cas Wepener.

Toe ek die boek die eerste keer gelees het, was ek ’n proponent in die Karoo. Ek was vars uit die Kweekskool, bloedjonk en heeltemal uit my diepte wanneer ek in die stof langs ’n ses voet klipbankgraf, son­der ’n teken van lewe in sig, moes voorgaan oor ‘die opstanding van die dooies’, of wanneer ek swy­gend in die siekeboeg met ’n sterwende mens se hand in myne sit en skuldig voel omdat ek aanvoel dat woorde nou onvanpas is, maar vermoed ek word besoldig om ten minste iets kwyt te raak. Dis in daardie tyd wat een ka­rak­ter in Die uur van die engel, ds Theophilus Heyns, my getroos het. Hy was ook pas uit die Kweekskool, bevestig as leraar in ’n plattelandse gemeente in die Suid-Vry­staat, en moes dieselfde soort take verrig as dié waarmee ek besig was. Sy vrou het gedink hy is ’n mislukking, hy kon moderator van die Vry­staat geword het, maar nee, hy hang uit by armes in die onderdorp, versorg sterwendes en hou hom op met die versorging van ’n uitgawe van ’n vergete Griekwaskaapwagtertjie se versies. Heyns se roepingsvers wat hom gerig het, was die geknakte riet wat nie moet afbreek en die lamppit wat nie moet doof nie. Hy was so 33 toe is hy dood. Op sy graf in die roman staan ’n mar­merengel met die hand opgehef – ’n stil getuie­nis dat iets gebeur het, dat die uur van die engel aangebreek het, voor hom en ook na hom. En regdeur die roman is daar op­ge­hefde hande van gebrokenes as tekens van hulle engel-skap, tekens dat in die gebroke bedienings en gebrokenheid van mense soos Theophilus Heyns, die uur van die engel steeds aanbreek.

Prof Cas Wepener is hoof van die Departement Praktiese Teologie by Tukkies.