Kerkbode op 170: Statig én hups

In haar 170ste jaar is Kerkbode vanjaar steeds ’n trotse papierproduk, met getroue intekenaars wat ons logistieke span behoorlik laat myle opsit om afleweraars betyds in stede en dorpe landwyd te kry – van Wellington tot Musina, van Port Elizabeth tot Pretoria, van Richardsbaai tot so ver as Mariental en Okahandja in Namibië.

Maar ons praat ook vlot digitaal by kerkbode.co.za waar ons vanjaar hard sal werk om lesers op die hoogte te hou. Ons wil ook na die sterkpunte van daardie meer interaktiewe medium speel deur die gebruik van veral video, podcasts en intydse lesers­kommentaar om berigte aan te vul.

So wat was die groot stories van 2018, soos bepaal deur die artikels waarop digitale lesers die meeste gekliek het, mag jy wonder?

Die top drie:

  • Die NG Kerk en grondhervorming
  • NG Kerk teoloë reageer (So lui die berig se inleiding: Die gesprek in die NG Kerk oor verhou­dings tussen mense van dieselfde geslag het volgens ’n groep akademiese teoloë wat NG lidmate is, by ’n kruispad gekom. Daarom het hulle die volgende verklaring uitgereik).
  • Die Kerk se gesprek oor seksualiteit

Die “gay-debat”, wat eintlik snelskrif is vir die breër onderwerp van Skrifgebruik, weerspieël ’n verskeidenheid stand­punte waar Kerkbode, naas ’n verslaggewingsfunksie, ook ’n kuratorfunksie het, naamlik om die spektrum van lesersbydraes te boekstaaf.

Soos vele lesers uit hul eie leefwêreld – hetsy boer­dery, e-handel, bemarking of talle ander velde – sal weet, is data ’n onontbeerlike stuk besluitnemingsgereedskap. In ons geval: Wie lees wat, wan­neer en waar in die wêreld bevind die leser hom/haarself? Hierbo is ’n infografika oor Kerkbode se aanlynlesers. Watter afleidings maak ons hier in die redaksiekantoor oor hierdie syfers?

Ons wil be­troubaar wees – en werklik kerklik. Waar ons ver­al wil groei, is die reeds gesonde statistiek wat wys dat ons lesers léés … iets wat voor die hand liggend mag klink, maar in ’n era waarin daar ge-“skim” word deur berig na berig en die selfoonduime maar al te gereed is om deur te rol na die volgende brokkie, wys die data dat Kerkbode wel inhoud bied wat lesers enduit boei. Daarin lê vir ons ’n uitdaging en aanmoediging. Die bydrae wat ek by Kerkbode sou wou maak, is om ’n betroubare multiplatform (papier en digitaal) nuusdiens uit te bou wat meer lig as hitte verskaf. – Redakteur.