Saam afhanklik, saam gelowig

SOWETO. Meer as 100 000 mense van 33 kerke en geloofsgroepe het in same­werking met die Motsepe-stigting op 25 November 2018 van oral oor die land saamgekom in die ENB-stadion in Johannesburg om te bid vir ons land, skryf ds Dirkie van der Spuy, waar­ne­mende voorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderatuur.

“Daar is ernstig ingetree vir eenheid tussen alle rasse en vrede in ons land. Gebede het gefokus op armoede, werkskepping, korrupsie, roof en diefstal. Daar is ook ingetree vir die komende verkiesing en dat die Here die land se leiers sal aanwys en lei,” het Van der Spuy by navraag aan Kerkbode oor hierdie massasaamtrek gesê.

“Selfs die reën kon nie die entoesiasme demp nie en niemand het die stadion verlaat nie. Eintlik was die reën ’n bevestiging van God se seën vir Suid-Afrika,” meen hy.

Van der Spuy het namens die NG Kerk opgetree en is glo deur die sake­reus Patrice Motsepe versoek om ook in Afrikaans te bid. “Dit was ’n voorreg om op hierdie forum te kon praat oor nuwe harte wat gereinig is en gevul is met Christus se liefde, want as dit nie ver­ander nie, sal niks in ons land blywend verander nie,” meen Van der Spuy. “Ek het so bewus geraak dat ons as blankes maar ’n klein deeltjie van die bevolking is en dat daar in die ander bevolkingsgroepe baie toegewyde gelowiges is. Elk­een was net weereens bewus dat ons eintlik so afhanklik is van die Here en dat Hy alleen die land en die toekoms kan verander.”