Dis rof in die kerk, sê Frank oor dominee-wees

Akteur kry agting vir ‘belangrike job’

Die kerk het Frank Opperman al in sy dienspligdae “verloor”. So hoe voel dit om die rol van ’n dominee te vertolk, wou Conette le Roux by hom hoor.


Die NG Kerk het akteur Frank Opperman “in die army verloor”, vertel hy.

Maar die afgelope ruk was hy sowat 180 keer weer in ’n NG kerkgebou, en meestal aangenaam verras.

Eers vir die eenmanstuk Die klaagliedere van Dominee Tienie Benade, wat geskryf is deur sy vriend Dana Snyman. En nou is die toneelstuk ook deur Sallas de Jager tot ’n draaiboek verwerk en pryk Dominee Tienie op die grootskerm.

Beide gaan oor die storie van ds Tienie wat reeds 16 jaar dominee is van “die Moedergemeente”. Hy word skielik gekonfronteer deur dalende lidmaatgetalle en die moderne samelewing wat vinnig verander.

Sallas sê: “Die kern van die storie vir my gaan oor ’n moderne Afrikaanse man wat sy selfvertroue terugkry in ’n tyd wat die wêreld om hom teen ’n verbysterende spoed verander het.”

Frank gesels met sy rokerige stem vanuit Johannesburg oor die ervaring wat hom destyds van die NG Kerk vervreem het. “In ’n militêre basis het die NG Kerk my as jongman verloor. As ’n ou in die kerk aan die slaap geraak het, het die dominee hulle teen die kop geklap.”

Maar die afgelope paar jaar, sê hy, het “wonderlike NG dominees” oor sy pad gekom. Frank het landwyd gereis om die toneelstuk veral in NG kerke op te voer.

Hy dink terug: “Van die sinodes wat ek vir opvoe­rings besoek het, was ongelooflik. Ander was weer ’n ander religious experience met hulle eng standpunte.”

In die toneelstuk en fliek word die vraag gevra of daar nog ’n plek vir die kerk en ’n dominee in die samelewing is.

Frank dink wel so. “Dominees het ’n baie belang­rike job. Ek dink kerke en dominees is baie nodig op sosiale vlak. Dit bring mense bymekaar.”

“Die NG Kerk het my teleurgestel met die hele gay-storie. Daarom was dit vir my lekker om die waarheid te kon praat op ’n entertaining manier. Dana se briljante en sensitiewe woorde het regtig iets belangrik om te sê.”

Volgens Sallas is dit vir elke Suid-Afrikaner belang­rik om die fliek te kyk “omdat ons te dikwels probeer om ons wêreld van buite af binne toe te verander. Vir ds Tienie om te weet wie hy is en waar hy inpas in hier­die nuwe wêreldorde is dit nodig dat hy van binne af buite toe moet verander. En dit begin by homself en dan sy rol binne sy gesin en van daar af kring dit uit. Slegs dán kan hy ’n werklike, eerlike verskil probeer maak binne sy gemeenskap.”

Frank sê dominee Tienie het hóm geleer jy moet jouself oopmaak vir verandering. “Ons moet pasop want ’n eng mens gaan dikwels eng dood. Selfs ou dominee Tienie kon verander.”

Na ’n insident met ’n sterwende hawelose kom dominee Tienie voor ’n kruispad. Hy twyfel of hy nog ’n doel dien. Maar sy onsekerheid word in hoop omgeskakel en hy glo uiteindelik weer dat hy wel ge­roep is. En dat ’n gemeente hulle deure vir almal moet oopgooi.

Vir hom het die tonele saam met Henrietta Gryffenberg (wat die rol van sy vrou Ester vertolk) en Deon Lotz (dominee Johan) vir hom uitgestaan omdat hulle sulke goeie akteurs is.

Frank het nou goeie oefening op die kansel gehad. Dink hy hy sou ’n toga kon aantrek en ’n herder vir ’n gemeente kon wees?

“Dis rof! Ek besef ek sou beslis nie altyd ’n dominee wou wees nie. Jy moet geroepe wees.”
Gelukkig het hy die afgelope ruk baie ander geroe­penes ontmoet wat regtig toegerus is vir dié taak, lag Frank.


‘Red ek enige iemand?’ – Silwerdoekdominee

Rolprent: Dominee Tienie (2019)
Gebaseer op Dana Snyman se toneelstuk Klaag­liedere.
Met Frank Opperman, Deon Lotz, Henrietta Gryffenberg
Resensie deur Faani Engelbrecht

Ek het my bedenkinge gehad toe ek die eerste keer ‘Die Klaagliedere van Ds Tienie Benade’ gaan kyk het. Frank Opperman, Ouboet, in die rol van ’n dominee? Soos te verwagte het die eenmantoneelstuk die lagspiere geprikkel … en toe ewe skielik, onverwags, ratte verwissel sodat ek en die res van die gehoor ongemaklik moes rondskuif omdat jy jouself en jou gemeente, tot jou skaamte, herken het in die gesig van Ds Tienie en sý sukkelende gemeente.

Ek het dus met nóg meer bedenkinge na die fliek-weergawe, ‘Dominee Tienie’, gaan kyk. Die oorspronklike teks van Dana Snyman is meesterlik deur Sallas de Jager verwerk tot ’n draaiboek. Sallas het ook die regie behartig.

Hier is geen sprake van kerk ‘bashing’ soos wat ek eintlik te wagte was nie. Die chirurgiese mes sny wel diep en seer – maar die doel is duidelik om te genees, nie te kwets, te bespot of af te breek nie. Ek het wéér myself, my eie gebrokenheid en tekortkominge in die byna patetiese figuur van Dominee Tienie herken.

Elke dominee sal vir Thys (Regardt van der Bergh) en Trudie (Anette Engelbrecht) herken, maar selfs hulle word nie net as blote bose karakters uitgebeeld nie. Wanneer Thys se eie verwonding ontbloot word, kry jy hom jammer – jy kry nie lekker nie.

Trudie se pyn oor haar gay seun en die kerkraad se hante­ring van die gay-verhouding, mag dalk vir sommige aanstoot gee, maar die debat wat tans in die kerk woed word simpatiek uitgebeeld sonder om enige van die partye te kritiseer. Die uitbeelding van die moontlikheid van versoening tussen partye wat hieroor verskil, beeld ’n Bybelse prentjie uit van die gemeenskap van gelowiges waar eensgesindheid nie noodwendig saamstem hoef te beteken nie.

Dominee Tienie se verhouding met sy gesin, sy vrou, sy seun en dogter, die impak wat ’n predikant se bediening op sy of haar gesin het, word realisties uitgebeeld. Die dikwels onrealistiese verwagtinge wat lidmate aan ’n leraar stel om 24/7 beskikbaar te wees én die gevolge daarvan op die onderlinge verhoudinge in die pastorie, is nie uit die duim gesuig nie. Dis asof Dana Snyman ook al in ’n pastorie gewoon het! (Hy het!)

Die ontknoping van Dominee Tienie se verhaal, die genesing waarna hy smag, gebeur wanneer hy weer besef dat hy wel deur God geroep is. Dit is nie net die worsteling van ’n uitgebrande dominee nie – dit is die worsteling van elke gelowige wat soek na God se wil vir hulle lewe. “You cannot save everyone, Moruti,” sê sy vriend, Zero, vir hom. Sy hartseer snik “Yes, but am I saving anyone …?” is die midlife crisis van ’n gelowige wat wonder of sy/haar bediening enigsins ’n verskil maak aan die nood van die wêreld. Dis die kreet van elke gemeente wat soek na nuwe rigting en relevansie.

Uiteindelik, sê Dominee Tienie, lê ons hoop daarin dat ons nie sommer net mure (of palisadeheinings) rondom ons kerkgeboue sal oprig nie, maar dat ons die deure sal oopgooi en met gasvryheid die vreemdelinge, die bedelaars, die siekes, die gebrokenes sal innooi en by sy feesmaal sal laat aansit.

Kan jy jou kinders saamneem? Sal jy die fliek in die kerksaal kan wys? Daar is hier en daar gekruide taal – en veral uit die mond van ‘Mev Dominee Benade’ (gespeel deur Henrie­tta Gryffenberg) wil jy aanvanklik ongemaklik giggel daaroor – totdat jy die pyn agter haar woorde besef. Dalk kon die woorde maar uitgebly het, maar dis net in twee tonele en versteur myns insiens nie die res van die storie nie.

Dis ’n fliek wat elke lidmaat maar kan kyk. Al voel jy jy is klaar in die ‘Noord-gemeente’ – waar alles klaarblyklik goed gaan – gaan kuier by ‘Dominee Tienie’ en kweek ten minste empatie met jou eie predikant en sy of haar gesin.

l Vanaf 25 Januarie in teaters landswyd.

Ds Faani Engelbrecht is predikant by die NG Kerk Goodwoodpark en die bestuurder van Bybel-Media Musiek.