Bettysbaai: Vlamme verteer wonings, motors én kerk

Soos in die geval van Knysna, Wupperthal en soveel townships wat die afgelope tyd onder verwoestende brande deurgeloop het, neem ’n mens se emosies, nes die veld, tyd om te genees, skryf Braam Hanekom.


Suid-Afrika is die afgelope dae vir die soveelste keer getref deur ’n reeks brande wat mense verslae, getraumatiseer en in rou gedompel het as gevolg van die verliese. Brande is natuurlik niks nuuts nie en soveel van ons dorpe en townships het al deurgeloop.

Dit was my onbenydenswaardige voorreg om die afgelope naweek in die Overberg te wees. Ek was Vrydag­aand in Bettysbaai net na die padblokkade gelig is, maar terwyl van die huise steeds gebrand het. Vriende van ons se huis is reg langs die Harold Porter-natuurreservaat en toe ek hom aanvanklik bel om te hoor of hulle wel is sê hy dat hy in die padblokkade by Kleinmond vassit terwyl sy vrou met hul honde op die rotse by die see sit. Ironies genoeg in gietende reën. Die reën was genade-reën, maar dit het ’n hele ruk geneem voor dit ’n bedarende uitwerking op die brand gelaat het. Die brand het letterlik in ’n strook vanaf die berg tot teen die rotse by die see gewoed.

Só lyk die tonele van verwoesting vandeesweek op Bettysbaai, ’n kusdorp sowat 90 km buite Kaapstad. Foto’s: Braam Hanekom

In ’n ander geval het ek ’n kennis raakgeloop wat in Swaziland woon. Hy het Vrydagmiddag ’n oproep van sy vrou en klein dogtertjies gehad waar ook hulle op die rotse skuiling gesoek het terwyl hy reeds terug in Swaziland was vir werk. Ek het hom Saterdag op Bettysbaai raakgeloop. Hulle was ongeskonde maar erg getraumatiseer. Ek is seker dat mense regoor die land sulke verhale van ook ander brande kan vertel.

Die verwoesting slaan ’n mens op die krop van jou maag, wanneer jy dit aanskou. Soos in die geval van Knysna, Wupperthal, talle ander dorpe, sovele townships en plantasies wat die afgelope tyd deurgeloop het, neem jou emosies, soos die veld, tyd om te genees.

Van al die huise wat afgebrand het, was vier permanent deur lidmate van die NG Kerk bewoon. Hulle word almal nou deur medelidmate gehuisves. Volgens ds Steven Sass van die NG Kerk op Kleinmond het die kerk ook lesse tydens die Knysnabrande geleer oor hoe en waar om te help – wat ingesamel moet word en waarvan jy dalk op die ou end te veel gaan hê. Spe­sifieke oproepe vir baie spesifieke skenkings is Sondag gemaak om nie net inwoners te ondersteun nie, maar ook brandbestryders.

Tog dwing die brande ons ook om anders te dink oor ’n hele paar dinge:

  • ’n Mens word opnuut gekonfronteer met jou eie nietigheid en die verganklikheid van dinge.

Ons het almal in mindere of meerdere mate opgaarders en versamelaars geword wat vasklou aan aardse dinge. Dit kan en gaan eendag weggeneem word. Dit besef jy wanneer jy langs huise staan waarin alles in ’n oogwink vernietig is. Ons hart gaan uit na almal wat verliese gehad en intieme persoonlike besittings verloor het. Die vraag bly egter hoe ons ’n ba­lans kan vind tussen besittings wat mooi en kosbaar is en terselfdertyd al ligter kan reis.

  • Ons sal anders en meer intens oor vuur, bewaring en die kerk se rol hierin moet dink.

Wie nie besorg oor die plante en diere van God se skepping kan wees nie, gaan sukkel om ’n verskil in die wêreld te maak. Die skade wat aan die flora en fauna in die Kogelberg-bewaringsgebied aangerig is, is moeilik om te bereken. Na berigte is nagenoeg 12 800 ha se fynbos vernietig. Fynbos moet brand, maar beslis nie so dikwels soos die afgelope tyd in die Kogelberg nie. Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat die Kogelberg nie sommer enige gebied is nie. Dit is in 1998 deur die Verenigde Nasies as ’n Unesco-biosfeerreservaat van wêreldbelang erken – en met goeie rede. Die gebied bevat meer as 1 600 plantspesies, een van die planeet se episentrums van biologiese verskeidenheid. Dit oortref selfs die reënwoude van Suid-Amerika in biodiversiteit, lui­dens hulle webblad, www.kbrc.org.za

Terwyl gerugte oor nalatigheid en brand­stigting tans hier die ronde doen, gaan al meer stemme internasio­naal op wat waarsku dat klimaatsverandering tesame met ’n vinnige bevolkingsgroei die risiko vir brande verhoog in enige streek waar daar ruie natuurlike plantegroei is. Voeg daarby politieke onstabiliteit en mense wat deur vuur protes aanteken en jy het moeilikheid.

Daar sal altyd iemand wees wat onverskillig met ’n oop vuur handel, of soos in die geval van Bettysbaai, onnadenkend ’n fakkel die lug in skiet. Brande gaan dus meer voorkom en dit help nie ons kla maar net daaroor of pak al die skuld op die ou wat die fakkel afgeskiet het nie. Hy moet sy straf kry en die strawwe vir brandstigting moet verhoog word.

Prof Ben du Toit van die Departement Bos- en Houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch het myns insiens onlangs die belangrikste vraag gevra: “Wat het geword van pro-aktiewe brandbestryding?” Hy noem voor­sorg­maat­reëls soos om brandbare materiaal te verminder en buffersones te skep waar wegholbrande ge­stuit kan word. “Hierdie beleid word al dekades lank suksesvol toegepas in verskeie lande en voorheen ook in Suid-Afrika onder die destydse departement van bosbou,” sê Du Toit. “Tans word dit duidelik nie meer effektief bedryf nie.”

Skoongemaakte “brandpaaie” rondom informele nedersettings en ander kwesbare areas wat ons weet om verskeie redes vatbaar is vir brande, behoort dus deel van die strategie te wees. Dit sluit ook woongebiede soos Bettysbaai en ander sensitiewe bewa­ringsgebiede in. Die arbeid ís beskikbaar by Working on Fire, maar oënskynlik bestaan die beleidsraamwerk nie om dit voorkomend in te span nie. Dalk moet die kerk hier self inspring.

Die Sentrum vir Publieke Getuienis oorweeg tans ’n indaba waaraan almal kan deelneem om praktiese planne te formuleer. Dit behoort die owerhede, bewaringsinstansies, akademici sowel as gewone na­tuur­liefhebbers (die gewone publiek) in te sluit. Soos met soveel ander kwessies in Suid-Afrika kan die toekoms nie alleen in die staat se hande gelaat word nie. Daar is eenvoudig te veel op die spel.

  • Ons sal almal moet leer om versigtiger te lewe.

Dit is maklik om die vinger te wys na die man wat die fakkel afgeskiet het. Hy moet sy straf kry en strawwe oor brandstigting moet verhoog word. Tog is die groot les wat ons leer dat ’n onnadenkende, onsensitiewe lewe tot skrikwekkende gevolge kan lei. Die skade op die planeet word nie net deur fakkels veroorsaak nie. Ook my en jou onnadenkende handelinge kan onberekenbare skade veroorsaak Dit behoort ons almal te laat dink. Miga 6:8 sê inderdaad: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam (nederig en versigtig) sal lewe voor jou God. Die wêreld het voller en broser geword. Ons sal moet leer om nuut te dink en te leef as ons wil oorleef op die planeet wat God aan ons geskenk het.

l Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.