Geliefde ‘ankerman’ Hugo van der Linde sterf aan hartaanval

’n Johannesburgse dominee moet vandeesweek ’n roudiens vir sy kollega hou ná dié met die aanvang van sy langverlof aan ’n hartaanval gesterf het. 

Ds Deon Holtzhausen van die NG Gemeente Bonaeropark in Kemptonpark sal die roudiens lei vir dr Hugo van der Linde wat in die ouderdom van 57 in Durban dood is. 

Van der Linde sou op ’n plesierbootreis saam met sy vrou Charlotte vertrek het toe hy Sondag oorlede is. 

Die paartjie was 34 jaar getroud en het twee kinders, Henko en Charmé, volgens Holtzhausen, wat Van der Linde meer as twee dekades gelede op Potchefstroom ontmoet het, waar albei leraars vroeër gewerk het. 

Van der Linde het in Welkom in die Vrystaat grootgeword en ’n doktorsgraad in missiologie behaal. Sy kollega by Bonaeropark was vol lof vir Van der Linde se veelsydigheid. “Van blomme rangskik tot musiekblyspel skryf,” het Holtzhausen vir Van der Linde as iets van ’n allrounder beskryf. “Met ’n oop hart.” 

Hy was ver van die voorpunt van tegnologie – het Holtzhausen geskerts en opgemerk dat Van der Linde nog sy dagstukkies laat tik het eerder as om self op die sleutelborde of slimfoon te rits soos ’n jonger geslag dominees. “Maar met missiologie was hy modern … die vraag was altyd: ‘Waar is ons vandag,’” het Holtzhausen gesê.

Van der Linde het ook buite gemeenteverband ’n leiersrol gespeel. Ná meer as 25 jaar se vriendskap en vier jaar se noue samewerking op NG Sinode Hoëveld het oud-kollega dr André Bartlett, Van der Linde se welwillendheid onthou. “Hy was ’n versoenende soort mens; ruimhartig,” aldus Bartlett wat in Oktober verlede by Van der Linde as voorsitter van dié sinode oorgeneem het. 

Op Bartlett se te-doen-lysie vir 2019 was juis ’n ontmoeting met Van der Linde om by dié ’n paar wenke te kry oor waarvoor ’n mens in die leierspos wat Van der Linde tussen 2014 en 2018 beklee het, moet “versigtig wees”. Nou sal Bartlett saam met talle mede-lidmate, vriende en familie op Donderdag 31 Januarie om 11:00 ’n roudiens by die NG Gemeente Bonaeropark bywoon om van Van der Linde afskeid te neem. 

Ds Nelis Janse van Rensburg het Van der Linde se dood as ’n reuse-verlies beskryf. “Ons hart gaan uit na Charlotte en die kinders. Mag dieselfde Gees wat Hugo so mooi getooi het, julle troos en versterk en aan julle die vrede gee wat anderkant verstaan, lewe gee,” het Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, op Facebook geskryf. “Hy was ’n pastor, begeleier, vertaler van moeilike werklikhede, bringer van perspektief, prediker, leier – in vele opsigte ’n steunpilaar, rots en ankerman,” luidens Janse van Rensburg se inskrywing.