Einde in sig vir kerkdiens wat langer as drie maande duur

Die einde is in sig vir ’n merkwaardige poging deur meer as 800 predikante, priesters en evangeliste wat mekaar al maande lank aflos sodat ’n erediens in Den Haag, Nederland permanent aanhou en sodoende asiel aan ’n Christelike Armeense gesin verleen. LEOPOLD SCHOLTZ doen verslag.


In ’n onopvallende kerkgeboutjie in ’n onopvallende straat in Den Haag is tans ’n kerkdiens aan die gang wat wêreldwyd aandag trek. Die diens duur nou al meer as drie maande, onophoudelik, 24 uur per dag, 7 dae per week.

Dit is hier waar die Protestantse Kerk in Nederland (PKN), susterskerk van die NG Kerk, asiel verleen aan die Christelike Armeense gesin Tamrazyan, om te keer dat die owerheid hulle uitlewer aan Armenië, waar vader Tamrazyan aktief in die opposisiepolitiek is. Aangesien menseregte-organisasies – die Amerikaanse Freedom House is ’n voorbeeld – Armenië as slegs “gedeeltelik vry” (met ’n punt van 45 uit 100) beskryf, word geoordeel dat Tamrazyan in akute gevaar is as hy sou teruggaan.

Hy, sy vrou, twee dogters en een seun woon al die tyd al in die kosterswoonstel bo-op die kerkie. Die Nederlandse wet bepaal dat die polisie ’n kerkgebou nie mag binnegaan terwyl ’n erediens aan die gang is nie. Om te keer dat die gesin aangehou word, los meer as 800 predikante, priesters en evangeliste mekaar af sodat die erediens permanent aanhou.

Vandeesweek breek ’n daar toe ’n wending in hierdie sage aan. Die PKN het pas aangekondig dat die voortdurende kerkdiens gestaak word en dat die gesin die kerk mag verlaat. Dit sal ’n hoofstuk vir die kerk afsluit en vir die gesin ’n nuwe een inlei. Maar wat was die dryfkrag agter hierdie mobilisasie van predikers? wonder ’n mens steeds.

Toe ek volgens afspraak onlangs op ’n yskoue wintersoggend die voordeurklokkie lui – voor enige sprake dat die gesin die kerk mag verlaat – kom maak ’n vriendelike vrywilliger oop. “Hartlik welkom,” sê hy, “kan ek jou koffie aanbied?”

Hy stap na ’n saaltjie waar drie vroue aan ’n tafel sit en gesels, en skink die koffie in. Ek sluk die koffie haastig af en loop in die gebedsruimte in, waar ’n vroulike predikant agter ’n kateder staan en preek vir ’n gemeente van twee, plus nog ’n vrou voor ’n klavier.

Die dominee preek oor God se genade en sy grenslose liefde vir elke individu. Ná ’n paar minute kom ’n man en nog twee vroue ook en luister.

Die koster kom roep my. Die kerkwoordvoerder, met wie ek die afspraak het, het aangekom.

Ons gaan sit in ’n sysaaltjie. Hy is dr Theo Hettema, voorsitter van die algemene kerkraad van die PKN in Den Haag, maar hy werk ook as beleidsmedewerker by die hoofkwartier van die PKN in Utrecht, en as dosent aan die Protestantse Universiteit in Amsterdam.

Hettema praat rustig, vra grappenderwys ekskuus dat hy ’n lesing gee. Maar die opregtheid straal uit hom uit.

Waar begin die verhaal? vra ek.

Sonder aarseling begin hy by Jakob wat wanhopig vir sy broer Esau in die woestyn vlug en dan ’n visioen van God kry. Hy noem die plek Beth-El – Huis van God – ’n plek waar jy veilig voel. Dít is ook die Bethel-kerk in Den Haag.

Hy vertel dat kerkasiel vir mense wat geen ander heenkome het nie, al sedert 1982 ’n tradisie in Nederland geword het. In 1999 is die kwessie in ’n beleidsgeskrif van die Nederlandse Raad van Kerke behandel, en toe is riglyne neergelê oor wanneer dit verantwoord is.

Aanvanklik het die Vrijgemaakte Gereformeerde Kerk in die vissersdorp Katwijk aan hulle asiel verleen. Maar dié gemeente het maar 150 lede en was prakties nie in staat om dit te lank te rek nie, en dus is hulle na die Bethelkerk in Den Haag gebring.

My vrae draai om die gevaar dat die kerkasiel aan die gesin Tamarazyan bloot ’n kwessie van burgerlike ongehoorsaamheid kan wees. Hettema gee ’n breedvoerige teologiese begronding van waarom die kerk dié weg ingeslaan het.

Daar was drie oorwegings wat die deurslag gegee het.

Ten eerste was die vraag: Dien dit die veiligheid van die gesin? Die antwoord was ja – die gesin probeer al jare asiel kry en het tot twee keer toestemming by ’n regter gekry om voorlopig in die land te bly, maar op tegniese gronde is dit uiteindelik afgewys.

Hulle móés dringend beskerming kry, anders sou hulle binne ure op ’n vliegtuig na Armenië geplaas word, waar vader Tamarazyan se lewe nie seker was nie. Hiermee sou hulle ook tyd wen om met die owerheid in gesprek te gaan.

Tweedens was daar die vraag of dit nie willekeurig sou wees om dié gesin te beskerm en ander nié. Daarteenoor staan dat dié gesin ’n modelgeval is van wat tans verkeerd is aan die owerheid se asielbeleid (wat, so lees ’n mens elders in die media, deur talle mense as hardvogtig gesien word).

In die derde plek moes dit ook teologies begrond word. Verskeie Bybelse oorwegings het ’n rol gespeel:

  • In Miga 6:6-8 sê God dat hy nie offers in ’n erediens soek nie: “Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”
  • In Matteus 25:35 sê Jesus aan sy dissipels: “Want ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves.” Dis ’n gebod wat swaar geweeg het, vertel Hettema. In die gesin Tamarzyan word by implikasie onderdak aan Christus self gegee.
  • Nog ’n oorweging was Romeine 13:1, waar Paulus skryf: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” Deur kerkasiel aan die gesin te verskaf, sê Hettema, “eer die kerk die owerheid in die sin dat hy hom herinner aan die taak – om die welsyn van die gemeenskap te reël – wat ook in art 1 van die Nederlandse grondwet vervat is”.
  • Ten slotte: In Handelinge 5:29 sê Petrus in ’n toespraak: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”

Volgens Hettema gaan dit dus uiteindelik om ’n maatskaplik-Bybelse geluid in die rigting van die politiek. “Dis geen aksie waarmee ons ons wil wil deurdryf nie. As dit blyk ons kom nie verder in ons gesprek met die owerheid nie, moet ons ook met die kerkasiel stop, anders word die Bethelkerk ’n soort vrystaat buite die wet, en dit wil ons nie hê nie.”

Politici word weggehou. Hulle mag as gelowiges kom, maar geen politiek bedryf nie. Joernaliste word gevra om nie foto’s te neem nie en om die gesin se privaatheid te respekteer. Die kerk stel self foto’s beskikbaar.

Toe die besluit op 24 Oktober geneem is en die diens begin het, het Hettema self die eerste ure voorgegaan. Kollegas het by hom oorgeneem, maar niemand het geweet wat wag nie.

Dit was ’n geloofsaak. “Soos by Abraham en Izak was dit ’n kwessie van die Here sal voorsien.”

Ek groet.

Uiteindelik het dit ’n groot affêre geword met meer as 800 voorgangers, van wie sommige selfs uit die buiteland kom. Daar is genoeg om die volgende drie maande deur te kom. En daar is altyd mense wat die diens bywoon, al kan jy hulle soms op die vingers van jou een hand tel.

Ten slotte is dit ’n uitstekende voorbeeld van die kerk wat sy maatskaplike taak uitvoer en homself relevant in die samelewing maak.

* Twee dae nadat hierdie onderhoud gevoer is, het die Nederlandse regering ’n nuwe beleid aangekondig insake politieke asiel waarby kinders betrokke is. Dit beteken dat die gesin Tamarzyan in Nederland mag bly. Dus het die PKN aangekondig dat die voortdurende kerkdiens gestaak word en dat die gesin die kerk mag verlaat. – Red.