Skool leer kinders met geloofsbril kyk

PRETORIA. – ʼn NG gemeente se droom vir ʼn veilige omgewing vir hulle lidmate se kleuters het vlerke gekry.

Die NG gemeente Skuilkrans in Pretoria se kleuterskool, met aanvanklik slegs 12 kleuters, is nou ʼn volwaardige laerskool met 500 leerders, 60 personeellede en 1000 ouers.

So vertel Janetta van Niekerk, die skoolhoof van Die Krans Laerskool wat ook die skool in 2004 gestig het. Ds Freek Swanepoel, een van die NG Kerk se voormalige moderators, het haar destyds met die idee genader toe haar man André ʼn leraar by die gemeente was.

“In my hart het ek in daardie stadium lankal ʼn droom gekoester om ʼn grondslagfase-skool te begin. Ek het gevoel die druk in skole vir jong kinders is net te groot. Dié belangrike vormingsjare moet met groot sorg, begrip en kennis van ʼn kind in hierdie ouderdom (0-9) bedryf word,” sê sy.

Sy het die geleentheid aangegryp en saam met ʼn paar gemeentelede, wat haar visie gedeel het, die skool se deure geopen.

Dit was gou duidelik dat die skool nie net by ʼn kleuterskool gaan bly nie.

“Ons het al hoe meer uitgebrei omdat ons ʼn behoefte aangespreek het en omdat ouers ingekoop het op ons etos, hart en visie vir die skool. Later het die ouers ook toenemend druk op ons geplaas om ʼn volwaardige laerskool te wees,” sê Janetta.

Sy verduidelik die skool is ook nou ʼn nie-winsgewende organisasie waarvan die ouers wat skoolfonds betaal, lid is van die maatskappy wat die skool bedryf.

Maar sy meen 15 jaar later met heelwat uitbreiding het die hart van die skool steeds nie verander nie. “Die Krans Laerskool is steeds die plaasskooltjie in die stad. In die Westerse wêreld is mense deesdae so prestasiegedrewe dat ek glo die kern van kinderopvoeding gaan verlore. Ons is nie ʼn ‘vertoonvensterskool’nie. Daar is baie ander skole wat baie mooier is. Maar jy gaan ver soek om ʼn ‘hart’ soos ons skool te kry,” het Janetta in ʼn onlangse potgooi van Sondagjoernaal, ʼn Christelike leefstylprogram op RSG, gesê.

Volgens Janetta is drie dinge veral belangrik by Die Krans Laerskool. “Ons roeping is eerstens om ʼn veilige hawe vir kinders te wees waar hulle net hulleself kan wees. Tweedens voel ons hulle mag foute maak en hulle hoef nie die beste te wees nie!”

“Ons leer hulle ook om met ʼn geloofsbril na die lewe te kyk. Om met deernis en hoop deur die lewe te stap.” Luister hier na die potgooi waar Janetta onlangs tydens ʼn Sondagjoernaal-opname gesels.