Gemeenskap kniel in droë Karoo

Gelowiges in die droogte-geteisterde Karoo het vandeesmaand saam voor die kansel van die NG gemeente op Prins Albert gekniel vir ’n buitengewone diens. KERKBODE het dr Gerdrie van der Merwe, wat die diens gelei het, ʼn paar vrae gevra.


Kerkbode (KB): Sit die leser net so ʼn bietjie op die toneel – wie het in die kerkbanke voor jou gesit toe julle op Vrydag 11 Januarie kerk gehou het?

In die historiese kerkgebou aan die voet van die Swartberge met sy besondere toring wat na Bo wys, het boere, bestaansboere, dorpsbewoners en mense uit die breë gemeenskap van Prins Albert, hulle toevlug in gebed geneem tot die Hemelse Vader. Dit was ʼn aangrypende belewenis om mense wat ons reënboognasie verteenwoordig, biddend en roepend tot God te sien kniel voor die kansel.

Die atmosfeer in die kerkgebou het ʼn kinderlike vertroue, dat die Here sal sorg, uitgestraal. Tog was die broosheid van mense sigbaar, want ongeloof, moedeloosheid, opstand, bitterheid en onbeantwoorde vrae in die gemoed, bly deel van gelowiges se aardse bestaan.

KB: Meeste plattelandse kerkgangers – veral daar in die Karoo waar jy tans aflos – sal vertroud wees met die idee van ’n biddag vir reën. Maar jy praat van ’n “verootmoedigingsdiens”. Wat beteken dit?

Verootmoediging is ʼn Bybelse opdrag: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle”. (1 Pet 5:6-7). So ʼn diens laat dinamiese geestelike krag in ʼn krisistyd loskom, mense ontmoet die Here op hulle knieë en ʼn hele gemeenskap kry nuwe moed, word in hulle geloof versterk en leer om mekaar se laste te dra. Dis nie ’n teken dat God se arm gedraai word om te gee wat ons dringend soek nie, dis ’n erkenning dat God deur reën en droogte, voorspoed en teëspoed, in alles die Een is wat volle beheer het.

KB: Jy is dominee, maar ook boer. Hoe beïnvloed die twee mekaar?

As predikant op Smithfield, Kuruman en Bethulie, kon ek deur God se genade as boerseun die harte en lewens van mense aanraak met die Blye Evangelie. Boerdery is ʼn beroep wat alles van jou vra. Jou drome kan maklik vertrap word, soos sand deur jou vingers gly. Daar is tye dat die lag in jou oë en die vreugde in jou stem, in ʼn oomblik gerysmier word deur omstandighede waaraan jy niks kan doen nie.

Op voetsoolvlak het ek as dominee-boer op my plaas Donkerpoort in die distrik Trompsburg, beleef hoe ʼn persoonlike verhouding met die Here ʼn mens in staat stel om ʼn kopskuif te maak. ʼn Boer het ʼn keuse: Jy kan bly lê of jy kan opstaan en die vonk van oorwinning benut in Christus. Daar is wisselwerking, want deur jou unieke talente te gebruik, kan die Here verandering bring: Hy verander ʼn stuk droë grond in ʼn florerende tuin. Hy verander droefheid in vreugde, nood in uitkoms. (Jer 31:12-13).

KB: Weens ons land se politieke geskiedenis bestaan daar steeds wantroue tussen rasse – ook in klein plattelandse gemeenskappe waar boerdery tot ’n groot mate ’n wedersydse afhanklikheid kweek. Het die Kerk ’n rol te speel om mense nader aan mekaar te bring?

As kerkhistorikus van die NG Kerk en leraar wat landswyd in die platteland preek, is my ervaring dat boere oor die algemeen ʼn uitstekende verhouding met hulle werksmense handhaaf. Die nuwe landboubeleid skep die unieke geleentheid aan boere oor grense heen, om hulle kennis, ervaring en vaardighede met nuwe kleinboere te deel, tot voordeel van mekaar. Daar is reeds genoeg bewyse op voetsoolvlak, dat ʼn wen-wen situasie onstaan wat nie net voedselsekerheid help waarborg nie, maar menseverhoudinge verbeter.

Die Kerk se rol is enorm groot en vra daadwerklik optrede en deurlopende beplanning. Deur die Woord word hemelse kunsmis van verdraagsaamheid, vergifnis en onderlinge vertroue gesaai, wat groeikrag en wasdom bring en ʼn goeie oes verseker. Sulke geleenthede bevestig dat te midde van baie verskillende Christelike kerke, ons ’n onvervreembare eenheid in Christus het.

KB: Wat het jy wys geword uit jou aflosbeurt op Prins Albert en spesifiek jou interaksie met die landbougemeenskap daar wat met ’n droogte te make het wat vir vele eenvoudig ongekend is?

Hier is ʼn diep gelowige landbougemeenskap wat met geloofsmoed en krag leef. Wanneer boere en hulle werkers beroof voel van lewenskrag en vitaliteit, kan ’n dominee se bemoedigende Bybelteks, gesprek en gebed ʼn kragtige uitwerking in die harte en lewe van mense meebring.

KB: In jou preek sê jy dit voel asof “alles verkeerd loop” in Suid-Afrika? Jy sê dat moedeloosheid mense se geloof “rysmier”. Hoe laat dit jou voel oor jou roeping?

Daar is boere wat voel dat alles verkeerd loop in Suid-Afrika. Hulle voel hulle veg teen die natuur, teen beleidsrigtings van die regering, plaasmoorde en stygende boerdery-insette. Dan is daar die swaard van grondonteining sonder vergoeding, wat nie onderskat moet word nie. Boere se vrolike drome word gerysmier en hulle voel magteloos wanneer hulle om finansiële oorlewing moet veg. Predikante as bedienaars van die Goddelike Woord, word deur die Heilige Gees bemagtig, om in rugbreektye die kruis van Jesus Christus aan mense nie net voor te hou nie maar te plant. Ons moet vasklou aan die Here God, Hy wat ons styf vashou, beskerm, bewaar en met sy Vaderhand versorg. Hoe voel ek dan oor my roeping? Dit is juis sulke dinge wat my roeping verdiep en my hoop laat toeneem.