Foto’s: Hugo van der Linde in Kemptonpark gegroet

Hartseer-dankbaar. Só was die gevoel onder lidmate wat vandeesweek tydens ’n roudiens in Kemptonpark van dr Hugo van der Linde afskeid geneem het.

“Dit was nie ’n gewone begrafnisdiens nie, daar was lofsang,” het ds Deon Holtzhausen gesê oor die diens wat hy op 31 Januarie voor 650 kerkgangers asook 700 regstreekse Facebook-videokykers gelei het.

In ’n stampvol NG Gemeente Bonaeropark het familie, vriende en kollegas die lewe van Van der Linde gevier.

Van der Linde is die vorige naweek met die aanvang van sy langverlof in Durban aan ’n hartaanval oorlede. Hy was op die punt om op ’n plesierbootvaart te vertrek met sy vrou Charlotte. Hy was 57.

Tydens die middel-van-die-week-diens het Holtzhausen ’n vroeëre video-opname gespeel waarin Van der Linde ’n teksgedeelte oor die roeping van Jesaja bespreek, met die oorledene se weduwee en kinders, Henko en Charmé, wat sodoende saam met ander lidmate ’n laaste maal die leraar hoor preek het in die kerk waar hy jare lank gewerk en waarvandaan hy ook die NG Kerk op sinodale vlak as voorsitter van NG Sinode Hoëveld tot einde 2018 gedien het.

Charlotte van der Linde, die weduwee, word getroos tydens die roudiens vir haar man, Hugo. Foto’s: Herman Verwey vir Kerkbode

In blou T-hemde geklee in die kerkbanke was verteenwoordigers van Oos-Rand Beskermde Werkplek. Dis ’n projek waarby die gemeente en veral Van der Linde reeds jare betrokke was om verstandelik gestremde lede van die gemeenskap te help versorg. Die groep het ook as koor opgetree tydens die diens wat om 11 vm begin het.

“Wanneer ek weg is, moet julle tog na (Oos-Rand Beskermde Werkplek) omsien,” het Van der Linde net onlangs volgens Holtzhausen aan hom gesê – met verwysing na Van der Linde se beplande aftrede oor ’n paar jaar. Min het enige van die twee leraars op daardie punt geweet dat die totsiens soveel vroeër en so onverwags sou kom.