Brugramp: ‘Energie van omgee’ help ook beraders

VANDERBIJLPARK. – “Ek het so onbekwaam gevoel. Só gestroop. Wat sê jy nou vir ʼn kind wat so iets beleef het?”

So vertel ds André Schmidt, leraar by NG gemeente Driehoek, nadat hy Maandag (4 Februarie) reeds van vroeg-oggend by die berading van die leerders van Hoërskool Driehoek saam met ander geestelike leiers betrokke was.

Vier leerders van die skool is dood en talle beseer nadat ʼn sementblok van ʼn loopbrug, wat twee geboue op die skoolterrein verbind, Vrydag (1 Februarie) neergestort het, het Netwerk24 berig.

ʼn Pastoor van die River of Life-kerk in die omgewing het glo vroeër die skoolhoof Hein Knoetze gekontak en so het die gedagte van berading vanaf die kerke in die omgewing onstaan.

Volgens André is almal van die gemeenskap in ʼn “staat van skok” en het die leerders by die skool se gebrokenheid hom sonder woorde gelaat.

“Een seun met wie ek vanoggend gesels het was daar tydens die ramp en het sy medeleerlinge probeer help. Maar die sement was te swaar en hy kon dit nie oplig nie. Hy het gesê hy wil nie weer daar waar die ramp plaasgevind het kom nie.”

Maar, sê André, die “enorme energie van omgee te midde van die verslaentheid” was verstommend.

“Grense het totaal verdwyn. Predikante en pastore van alle denominasies het vanoggend opgedaag om leerders te probeer bemoedig. Almal het kom meeleef. Baie gelowiges het ook kom bid. Oral het mense in sirkels gesit en hande vashou. Die Here se liggaam het waarlik hande en voete gekry.”

Donderdagoggend vanaf 7:30 sal daar weer berading by die hoërskool plaasvind, het André gesê.