Zim se mense: Wonderlik, maar gekneus en getraumatiseer’ – kerkleiers

Die gevoel onder Zimbabwiërs kan tans as ’n mengsel van woede en vrees beskryf word, volgens kerkleiers van die NG Kerk en VG Kerk wat pas teruggekeer het van ’n besoek aan die buurland.

Hier volg die verklaring wat dr Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuieni, en dr Llewellyn MacMaster, moderator van die VGK in Kaapland, met hul teruggekeer van Zimbabwe uitegreik het.

Die afvaardiging het met onder meer regsgeleerdes, NRO’s soos Zimbabwe Lawyers for Human Rights (ZLFHR), die Counselling Services Unit (CSU), akademici, oudparlementslede en kerklui (insluitend pastoor Evan Mawarire) gepraat het.

Die verklaring lui:


  1. Dit is duidelik dat Zimbabwe ’n verslegtende ekonomiese en politieke situasie in die gesig staar.
  2. Alle aanduidings is daar dat die land de facto in die hande van ’n militêre regering is.
  3. Dit gaan gepaard met menseregtevergrype. ZLFHR rapporteer dat daar die afgelope maand meer as 900 politieke gevangenes deur hulle ondersteun moes word.
  4. CSU rapporteer van 359 slagoffers van mishandeling wat deur hulle behandel is. Dit sluit slagoffers in wat geslaan is met stokke, ysterstawe en geweerkolwe, of verkrag is.
  5. Die Zimbabwe Human Rights Forum rapporteer 15 nie-geregtelike moorde en 26 ontvoerings (waarvan sommiges weer vrygelaat is). Getuienis van vroue wat in die rug geskiet is, is beskikbaar.
  6. Dit is baie duidelik dat Zimbabwe vasgevang is in ’n kultuur van geweld en intimidasie wat reeds sover terugstrek soos die Gukurahundi moorde op die Ndebeles in 1983. Alle aanduidings is daar dat die huidige president, Emmerson Mnangagwa en die visepresident, Constantino Chiwenga, asook ander huidige militêre en regeringsleiers daarby betrokke was. Alhoewel van die junior range in die polisie en weermag nie noodwendig met alles saamgaan nie, het senior offisiere steeds ’n reusehouvas op die land. Hierdie kultuur van geweld en intimidasie het endemies geword aan die optrede van die weermag en die polisie.
  7. Aanduidings is beslis daar dat daar tans ernstige konflik binne ZANU PF bestaan asook besliste ideologiese en ander verskille tussen die ouer en ’n nuwe geslag Zimbabwiërs.
  8. Aanduidings is daar (in die woorde van mense met wie ons gepraat het) dat “ZANU PF die volk verloor het”.
  9. Die ekonomies verslegtende situasie moet grootliks toegeskryf word aan die klein groepie politieke en militêre elite wat steeds op massiewe skaal met selfverryking besig is. Selfs jong offisiere in die sogenaamde G40 groep baat hierby en woon in van die luuksste wonings denkbaar.
  10. Daar bestaan tans ook toenemend ’n interne stryd oor die beheer van reserwe kontant (insluitend die Zimbabwiese “bonds” en Amerikaanse dollars) en kommoditeite soos goud, diamante, platinum en die invoer en beheer van petroleum en olie. Groot ongelukkigheid heers onder Zimbabwiërs oor die verswakkende situasie van die “Bonds” wat petrolpryse en broodpryse die hoogte in gestuur het. Ellelange petroltoue is reeds weer sigbaar.
  11. Onder diegene met wie onderhoude gevoer is, bestaan daar grootliks die volgende konsensus oor die pad vorentoe:
    • Ekonomiese stabiliteit is noodsaaklik en ’n reddingsboei van nagenoeg vyfbiljoen US dollars wat onder streng voorwaardes en internasionale monitering aangewend moet word, kan help.
    • ’n Nuwe Nasionale Oorgangsgesag (National Transitional Authority) word bepleit. Zanu PF is in die moeilikheid en sal om verskeie redes nie gretig wees hiervoor nie, maar die toksiese verhouding tussen elemente in die weermag en ZANU PF is nie volhoubaar nie. Zimbabwe is reeds vir dekades nie meer ’n demokrasie nie. Meer en meer regsgeleerdes praat van misdade teen die mensdom wat sover teruggaan as 1983. Die grondwet wat in 2013 deur 90% van die bevolking aanvaar is, is nog nie naastenby geïmplementeer nie, maar is dringend noodsaaklik.
    • Amnestie en versekering dat die ICC nie sal toeslaan op senior regeringslui nie, is van belang. Anders is ’n scenario van “veg tot die einde” beslis op die tafel.
    • Internasionale mediasie en druk is nodig. Ons gevoel is dat Brittanje besef dat die kans wat Mnangagwa ontvang het, nie gewerk het nie.
  12. Die konflik binne ZANU PF is hewig, met honderde soldate wat die wonings van opponerende leiers bewaak. Almal is baie onseker oor hul veiligheid en toekoms.
  13. Die gevoel onder Zimbabwiërs kan beskyf word as ’n mengsel van woede en vrees. Die gesprek met Ewan Mawariri was aangrypend. Sy familie is om veiligheidsredes in die buiteland. Hyself is tans nie heeltemal gesond nie en is duidelik getraumatiseer na sy tyd in die tronk en (in eie woorde) sy kontak met gevangenes wie se families tuis aangerand is na hul inhegtenisname. Hy vertel van waarskuwings om geen kos in die tronk te eet nie buiten dit wat deur besoekers gebring word. Vergiftiging van persone is tans ’n algemene gerug in Zimbabwe (insluitend Constantino Chiwenga wat tans blykbaar ernstig siek in Suid-Afrika is).
  14. Op hierdie stadium pleit ons vir ingrype deur instansies soos die kantoor van die Aartsbiskop in Kaapstad, die SACC, die National Church Leaders Consultation , die Suid-Afrikaanse regering en die internasionale regering. Druk alleen sal egter nie werk nie omdat jy met ’n militêre situasie te doen het wat eintlik net een taal ken. Beïnvloeding deur mense wat nie noodwendig ’n regering omver wil werp nie, maar nugterheid en ’n wen-wen situasie kan skep, is nou dringend noodsaaklik.
  15. Tradisionele opposisiepolitiek gaan nie nou werk nie. Die nuus dat Emmerson Mnangagwa bereid is om met Nelson Chamisa van die MDC te praat moet verwelkom word.
  16. Zimbabwe se toekoms gaan Suid-Afrika se toekoms daadwerklik raak, maar kan dit ook positief beïnvloed.
  17. Suid-Afrika moet nou lesse leer uit Zimbabwe se situasie en dit gaan oor veel meer as grond en plase. (Ons het ook gehoor dat Mugabe die grondkwessie gebruik het om sy kwynende politieke steun te herwin, wat baie soortgelyk is aan die situasie in Suid-Afrika.)
  18. Na allles is ons opnuut getref deur die mense van Zimbabwe. Wonderlik, maar gekneus en getraumatiseer. Zimbabwe is ’n mengsel van hoop en wanhoop. Mag genade ons toeval. 

* Hierdie storie is op 7 Februarie deur die skrywers aangepas.