Dominee Tienie – “Wie is ek? Wie is ons?”

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Johan Raubenheimer van die NG gemeente Potchefstroom-Noord skryf:

Dit was nogals ’n konfronterende ervaring gewees om na hierdie fliek te kyk. Die eerste vraag wat by my opgekom het was: “Is dit hoe mense my sien en hoor? Is dit hoe ek klink? Ek hoop darem ek lyk en kom nie so karikatuuragtig, afgeleef en lewensmoeg oor by mense nie? Is dit regtig mense se prentjie van die kerk?

Aan die eenkant was daar by my die besef dat ten minste meeste tradisoneel Afrikaanse  kerke en gemeentes (met Reformatoriese  wortels)  op een of ander manier deur die Apostoliese Geloofsbelydenis as gemene deler sal moet erken dat ons almal (die drie susterkerke, AGS en Volle Evangelie Gemeentes, Afrikaanse Vernuwings-Gemeentes, en vele andere waarvan ons in ’n dorp of stad nie eens weet nie) gekonfronteer word met die wesensvraag van ds Tienie, naamlik : “Wie is ek? Wie is ons? Waarmee moet ons onsself besig hou?” Die geykte vraag wat meeste dominees seker al in ’n preek gevra het: “As hierdie gemeente sy deure sou toemaak, wie in ons woonbuurt, omgewing of stad gaan ons mis?” Wat maak van die gemeente op die hoek ’n onmisbare en nodige plek?

 Aan die ander kant was daar min van Dominee Tienie se worstelinge wat predikante en pastore nie al moes ervaar het nie. Die druk van “invloedrykes”, die ondersteuning vanuit onverwagse oorde in jou gemeente en gemeenskap, randfigure en verworpenes (verwysend na die gay-huwelik in die kerkgebou van die Moedergemeente en die boemelaar se eie soeke na sin) wat deur meeste “kerkmense“ met agterdog bejeën word. Maar dan is daar ook baie sake en ervaringe van predikante waarvan kerkrade eintlik min tot niks weet nie – nie omdat dit geheim gehou of agterbaks van die leraar is om dit weg te steek nie. Nee, dis bloot omdat dit vertroulikheid tussen mense bevorder – en waar leraars en hulle gesinne baie maal van die mees geïsoleerde en eensame gesinne in ’n dorp, woonbuurt of gemeenskap is. Met wie moet dominee gaan praat as dit met hom of haar nie meer so punt-in-die-wind gaan nie? Niemand verwag mos dat Dominee ook deur swaar tye gaan nie! Ek praat nou nie van die dominees wat hard daaraan werk om by mense aanvaarding te kry of almal “se pêl” te wees nie. Dominees word soms beskou as volksbesit, maar Goddank het tye darem ook al ’n bietjie verander. Nogtans wil ek sê: Die mees soekende en eensame mens in die erediens op ’n Sondag is baie maal die man of vrou op die kansel! Die een wat sê: “So spreek die Here, Here”!

Natuurlik moet ons nie die verwysing in die fliek Dominee Tienie na die “Moedergemeente” mis-luister nie. Meeste moedergemeentes in stede en dorpe gaan bloot gebuk onder geografiese verskuiwings wat maak dat hierdie gemeentes (met dikwels die mees indrukwekkende kerkgeboue en duur om te onderhou) al jare in ’n oorlewingsstryd gewikkel is. Dit plaas geweldige druk op leraars en leierskap en verander geestelike leiers baie maal in voltydse fondsinsamelaars ter wille van ’n salaristjek aan die einde van die maand! Dink maar aan die basaars, golfdae, fiets-wedrenne, allerhande netjies uitgedinkte markte in die kerksaal, konserte en vele meer. En as ’n gemeente eers begin ontvolk en die dominee nie week na week die “haas uit die hoed kan ruk” met ’n ontwerpersdas, uitstekende oratoriese vermoëns en ’n liggaamstaal wat spreek van energie en passie vir die Here nie, dan sal jy vining agterkom hoeveel “swaeltjie-Christene” daar in die kerk is. Hulle swerf soos swaeltjies van een somer na die ander – van een gemeente na die ander, om ook maar net te ontdek dat die gras nie altyd groener is aan die anderkant van die draad nie. En die kollekte-bordjies kreun ook nie meer onder die rande nie!

Die werklikheid is natuurlik dat die kerk van die Here Jesus veronderstel is om ’n gemeenskap te wees wie se deure oopstaan vir een en elk. Dat ons nie links en regs altyd sal oordeel en beoordeel nie, maar dat ons eerder ’n gesindheid sal aanleer van “leef en laat leef!” Dit vra dikwels ’n “Dominee Tienie”  om die gemeente uit te lei soos ’n wafferse herder “na groener weivelde”. Plekke waar ons weer voel ons kom nie net Sondae ons geestelikes tenkies volmaak nie, maar die gemeente word die lanseer-basis terug na God se stukkende wêreld! Ons moenie dink dat as gemeentes skielik ’n herlewing beleef in sending en evangelisasie of haweloses, dat alle lidmate nou vuur en vlam vir dié saak is nie. “Kerkwees” is harde werk. Dis ’n daaglikse wandel met God.

Maar ou Zero, die swart werker op die kerkgronde by Dominee Tienie se Moedergemeente is ironies genoeg as stille waarnemer heeltemal in die kol as hy eendag vir Dominee Tienie sê: “You can’t save everybody, Maruthi!”

Aan die einde van die dag is Dominee Tienie net ’n boodskapper. Hy is nie volmaak nie. Hy is net mens – met ’n vrou en kinders vir wie hy ook drome het. Besig met sy dagtaak – met die voorreg om vir baie mense van hulp te wees, maar wie ook sy eie beperkinge en tekortkominge langsamerhand ontdek. Ook Dominie Tienie verlang daarna om soms terug te kyk na sy werk en gemeente (en in baie gemeentes is daar deesdae ook vroue-predikante) en ook vervuld te voel en te hoor hoe die groot Leermeester Sy hand op hulle skouers plaas en sê : “Ek is stil tevrede met jou lewe”! Ook Moedergemeente behoort aan die Here, en soms is die herontdekking van “Wie is ons?” ’n pynlike ervaring. Maar vanuit die pyn word iets nuuts gebore – ’n nuwe gemeenskap van mense wat ietwat anders mag lyk en doen as 30 jaar terug, en tog begeer ons almal net om Coram Deo te lewe – “voor die aangesig van Here”!