Gemeenskap skrum saam vir ontwikkeling in die Koue Bokkeveld

“Sport het die mag om die wêreld te verander.” Hierdie aanhaling van Nelson Mandela som die aanslag van sport-vir-ontwikkelingsprojekte reg oor die wêreld op wat onder die Laureus Sport for Good-vaandel hulself beywer om gemeenskappe saam te snoer en sosiale kohesie te bevorder. In die hartjie van die Koue Bokkeveld, 45km noord van Ceres in die Witzenbergdistrik, het sowat 250 kinders (tussen die ouderdomme van drie en 16) asook meer as ’n 100 volwassenes op Saterdag 26 Januarie op die Laerskool Koue Bokkeveld, Op-die-Berg, se sportgronde saamgekom om te wys hoe dié aanhaling geleef kan word.

Op die dag het die kinders aan twee Laureus-ondersteunde sport vir ontwikkelingsprogramme deelgeneem: Healthnutz (’n program wat deur die Sportwetenskapinstituut van Suid-Afrika ontwikkel is) en CoolPlay (wat sportafrigting veral in rugby en netbal gebruik om vir kinders sosiale en emosionele vaardighede aan te leer). ’n Derde program, Branched, vorm ook deel van die gesamentlike benadering en fokus op gesonde leefstyle vir kinders en tieners met Jesus Christus as grondslag. Een of meer van dié programme word reeds in die deelnemende skole aangebied of gaan hierdie jaar geimplementeer word.

Drie laerskole (Boplaas Primêr, Kromlin Primêr, Laerskool Koue Bokkeveld), een hoërskool (Skuweberg Sekondêr), drie plaas-bewaarskole (Kleinbegin, Mina Moo en Babbel en Krabbel) asook die Dagsorgsentrum Trappies (wat deur die VG Kerk en NG Kerk se gesamentlike barmhartigheidsaksie, Badisa, bestuur word) het deelgeneem.

Die dag het afgeskop met ’n 5km pretdraf wat deur die boorde van Ceres Remhoogte Boerdery uitgemerk was en ’n jong seun van Boplaas Primêr, Eden Strauss, het die roete in 28 minute en 30 sekondes, kaalvoet, kafgedraf.

“Ons glo werklik dat verhoudings die kern van sosiale impak en ontwikkeling is,” sê Alex Clark, predikant by die NG Gemeente Op-die-Berg. “Om konstruktiewe aktiwiteite vir die jeug te bied waar hulle kan leer van samewerking en karakterbou, terwyl dit ’n gesonde leefstyl bevorder, kan ’n groot verskil maak in hierdie gemeenskap.”

Twee Blitzbokke, Ilunga Mukendi en Ryan Oosthuizen, het saam met die tieners aan die Coolplay en Branched-oefeninge deelgeneem. Die Laerskool Koue Bokkeveld was die gasheer vir die dag met personeel wat ook die pretdraf beman het.