Moet op Facebook alleen nie vertrou nie

Facebook het pas 15 geword, wat beteken daar’s tieners in ons midde wat nooit ’n wêreld sonder die LIKE-knoppie geken het nie.

NG-gemeentes het hulself oor die jare met oorgawe gewerp in die arms van Mark Zuckerberg se skepping en die kerk het waarskynlik veel nut daaruit geput en goeie werk daardeur vermag. ’n Klein steekproef op www.kaapkerk.co.za se “Gemeentes”-indeks wys dat uit die 233 inskrywings, waarvan 141 gemeentes hoegenaamd webwerwe gelys het, sowat 31 eenvoudig Facebook-blaaie het.

Hoe verstandig, volhoubaar en teologies is so digitale strategie?

  1. Verstandig? Gestel ’n algemene oorweging onder daardie 22% van gemeentes wat besluit het om hul digitale tuiste op sosiale media te bou, was finansieel: Dis goedkoper (en vinniger) om als net op Facebook te gaan laai as om die koster se laaitie te kry om ’n website te bou. Is daar iets fout daarmee? Andrew Lewis se bekende aanhaling is dalk ’n goeie antwoord hierop: “If you are not paying for it, you’re not the customer; your the product being sold.”
  2. Volhoubaar? In die gange van bestuurskole sal mens dikwels die aanmaning hoor: Moenie strategie bou op goed wat kan verander nie. Kan die oorheersing wat Facebook in die eerste plek so aanloklike en alles-vervangende digitale tuiste vir jou gemeentesake gemaak het, ooit “verander” en sy status afstaan teen ’n ander sosiale media-platform? Hoor bietjie by jou 13-jarige en sy / haar vriende?
  3. Teologies? Hoe moet ’n gelowige dink oor “echo chambers”? Die risiko daaraan verbonde om jouself uit te lewer aan algoritmes wat jou eie voorkeure van vriende, kommentare en stories op die web slaafs aanteken en aan jou terugvoer, terugvoer, terugvoer. Dis seker nie die dood van Katryn nie, mits jy darem ook af en toe jou foon neersit en gaan leef in die regte wêreld. Maar vir ’n gemeente in ’n kerk met ’n geskiedenis van afsondering wat steeds om van die kansels eggo, is daardie risiko heelwat hoër. Komaan, bou jou eie webwerf (daar is puik voorbeelde onder NG gemeentes) en rig dit in met die liturgiese sorg en teologiese aanvoeling waarmee jy jou aanbiddingsplek benader. Al deel jy dan ook die webskakels via Facebook om ’n alle voete soontoe uit te nooi!