Hoe kan grondhervorming help om menswaardigheid te herstel?

Tydens een van die eerste groot byeenkomste van gematigde mense wat oor grondhervor­ming en onteiening in 2018 besin het, het een ouerige dame van die diep platteland ’n opmerking gemaak wat my ekonomiese argumente in hulle spore gestuit het. Dit het my geestelike ore oopgemaak. Haar argument was: Dit is goed as ons grond kan kry, maar dit gaan min aan ons menswaardigheid doen as ons dit nie behoorlik kan gebruik en onsself en ander kan versorg nie. Ek het onmiddellik besef dat hier meer as net grondhervorming ter sprake is. Baie nuwe boere het grond gekry, maar nooit die besitreg nie. Hulle is dus bloot plakkers op staatsgrond. Só kan dit nie menswaardigheid terugbring nie.

Ek het deur al 2018 se debatte moes leer om mooi te luister en veral klaar te luis­ter. Selfs agter die frustrasies, beskuldigings en beledigings te luis­ter om by die emosie uit te kom en dan daar te begin reageer en nie net te verdedig en verduidelik nie. Is dit dan nie wat Jesus ook gedoen het nie? Deel van Graan SA se werk is om elke boer te help om ’n kommersiële opbrengs te kry, on­geag die hoeveelheid grond wat hulle het. Ons leer mense in hulle eie taal en idioom die nuutste landboupraktyke. ’n Arm huishouding in die diep platteland het 1 ton mielies per jaar nodig om te oorleef. Hulle kry dit nie met ou praktyke en ou saad nie. Sodra ons hulle nuwe tegnologie leer, kry hulle maklik 5 ton uit hulle een hektaar. Ek wens julle kan daardie trots sien as hulle sulke opbrengste kry! Met die surplus koop hulle beddens, yskaste en skoolklere wat hulle nog nooit gehad het nie. Dit is hoe ons menswaardigheid herstel. Die dankbaarheid is ook groot. Dis soos die dankbaarheid teenoor Jesus van dié wat baie sonde het. ’n Groot deel van die herstel lê juis daarin dat hierdie arm mense ook self finansieel moet bydra tot die koste, selfs al is dit hoe swaar. Dit is juis daai swaarverdiende geld wat maak dat hulle nou die beeste uit hul eie groen mielielande jaag.

Die wantroue tussen rasse in Suid-Afrika is ’n groot gaping wat ons moet oorkom. Dit vat baie vir ’n arm een-hektaar-boer om al hulle spaargeldjies in ons bankrekening in te betaal en te vertrou dat ons sy saad, kunsmis en chemie sal kom aflewer. Wanneer dit dan kom, vind daar herstel in vertroue plaas. ’n Ander voorbeeld uit my eie lewe is om nie dadelik al die antwoorde te gee as daar ’n probleem op die tafel kom nie. My geaardheid is probleem-oplossend. ’n Menswaardige styl is om te leer en te begelei om self by oplossings te kom al vat dit langer. My laaste storie oor menswaardigheid is om alle mense behoorlik te groet, in die oë te kyk en eers te hoor hoe dit gaan voor jy met die werk wegspring. Dit mag dalk na ‘Maniere 101’ klink wat jou ma jou geleer het, maar ons kyk so maklik die tollenaar, sekuri­teits­wag of persoon by die vulstasie mis. Hulle kry ook warm of loop ook deur onder misdaad by hulle huise.

Daar is dus vir my baie meer ter sprake as net iets soos grondhervorming. Die herstel van mens­waardigheid is ’n veel groter doel en dra meer waarde as ek die Woord reg verstaan.

Jannie de Villiers is ’n lidmaat by Moreletapark Gemeente in Pretoria en Uitvoerende Hoofbestuurder van Graan SA.