Meer as gewone brood en wyn

Gebrandskilderde glasvensters is waarskynlik die vorm van religieuse kuns waaraan gewone kerkmense die grootste blootstelling het. Dit is toenemend ook waar van Gereformeerdes wat vir eeue lank weerstand teen enige vorm van kerklike kuns gehad het en eers in die laaste dekades in kerkgeboue vir hierdie besonderse kunsvorm plek ingeruim het.

Oor die algemeen word Bybelse of ander religieuse taferele in hierdie soort glasvensters uitgebeeld en word daar van ’n meer realistiese styl gebruik gemaak. Simboliese betekenis word meermale deur middel van kleurgebruik uitgebeeld of ook deur die wyse waar­op verskillende motiewe in samehang met mekaar geplaas word. Van die meer bekende voorbeelde van hierdie figuratiewe benadering is die beroemde roosvensters van katedrale soos dié van Chartres, Reims en die Notre Dame in Parys.

Die ver­an­de­ring van water in wyn by Kana.

’n Ander benadering wat oor die laaste tyd al meer veld gewen het, is glasvensters in ’n meer emblematiese styl waar daar sterk gefokus word op die simboliese bete­kenis van spesifieke elemente van ’n tema wat uitge­beeld word. ’n Voorbeeld van hierdie benadering is ’n reeks glasvensters wat die Franse skilder Fernand Leger (1881-1955) vir die Katolieke St Germain-ker­kie in die Switserse dorp Courfaivre ontwerp het.

Die kerkie self dateer uit die vroeë agtiende eeu, maar is aan die begin van die 1950’s gerestoureer en vergroot. As deel van hierdie restourasieprojek is die reeks van twaalf glasvensters as opdragwerk geskep en in die liturgiese ruimte aangebring.

Tien van die vensters is in ’n sterk horisontale lyn vyf elk aan weerskante van die sentrale ruimte/skip van die kerkgebou aangebring, met onderwerpe wat grootliks op die Credo gebaseer is: skepping, aankondiging aan Maria, geboorte van Christus, kruisiging, opstanding, laaste oordeel, Pinkster, oorhandiging van die sleutels aan Petrus (tipies Katoliek), die kroning van Maria en die ewige lewe.

Voor in die kerkgebou, weerskante van die altaar, is die twee vensters wat by hierdie artikel afgedruk word, onderskeidelik ’n afbeelding van die vermeerdering van die brode en van die verandering van water in wyn by Kana. Beide dié vensters is, anders as die ander tien, vertikaal.

In albei vensters word daar op emblematiese wyse gekonsentreer op enkele van die sentrale elemente, feitlik geheel en al losgemaak van die verhaalgebeure waarbinne dit in die Bybelse vertelling funk­sioneer. Dit op sigself dui reeds daarop dat die simboliese betekenis van hierdie elemente op die voorgrond geskuif word.

In die voorstelling van die vermeerde­ring van die brood is daar twee hande wat die brood en vis as hemel­­se geskenk van bo af aangee. Die vis is heel moontlik ook bedoel as toespeling op die vroeg-kerklike gebruik van die vis as verwysing na Christus (op grond van die Griekse woord ichthus wat as geheime kode beskou is vir die belydenis “Jesus Christus is die Seun van God en Verlosser”.

Die simboliese betekenis van die elemente word versterk deur die kleurgebruik: ’n Vertikale blou strook dui op die hemelse/Goddelike aard van die gebeure, terwyl die geel strook en die oran­je vreugde en lewensenergie verteenwoordig, en die groen sirkel groei en lewensvernuwing simboliseer.

Die vermeerdering van die brode.

Die voorstelling van die verandering van water in wyn word op die voorgrond oorheers deur drie groot kruike, met ’n tros druiwe voor dit en die gesig van Christus met ’n stralekrans daaragter. Die plasing van die kruike wek op ’n manier die indruk dat dit as ’t ware die liggaam van die Christusfi­guur vorm. Die vertikale rooi baan is die kleur van bloed en dui moontlik op sowel die lyding van Christus as op die lewenskrag wat deur Hom bemiddel word. Die geel verteenwoordig weer vreugde en energie en die groen groei en vernuwing, terwyl die wyse waarop die kleure naas mekaar gestel word, ’n kruispatroon suggereer.

Dit is duidelik die bedoeling van die kunstenaar om in albei voorstellings ’n dieper betekenis te ontsluit: in die een geval lewegewende brood uit die hemel wat vreugde en vernuwing bewerk, en in die ander geval lewe en vreugde wat deur lyding en dood heen tot stand gebring word.

Dit is egter nie net die emblematiese voorstellings­wyse wat die simboliese oogmerk van die kunstenaar versterk nie, maar ook die plasing van die twee glasvensters weerskante van die altaar en in samehang met ’n indrukwekkende tapisserie bokant die altaar waarin die Lam van God uitgebeeld word.

Deur hierdie naasmekaarstelling word ’n simboliese interpretasie wat moontlik impli­siet deur die twee Bybelverhale gesug­ge­reer word, op só ’n wyse aan­ge­bied dat die brood en die wyn eks­plisiet op die nagmaal betrek word: nie meer net gewone brood wat ver­meerder word nie, en ook nie meer net water wat in gewone wyn ver­ander word nie, maar die liggaam en die bloed van die Lam van God.

So gesien is dit asof Christus by die vermeerdering van die brood sê: “Dit is my liggaam; dit is vir jul­le.” En by die bruilof te Kana: “Hier­die beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is.” En ons dan ook met hierdie ver­hale uitnooi: “Gebruik dit tot my ge­dagtenis.”