KYK: Godsdiensleiers moet mekaar reguleer, ‘nes ander sektore’

Indien die staat nie godsdiensgemeenskappe reguleer nie, moet dié ten minste mekaar reguleer, het die voorsitter van ’n Grondwetbevorderingsliggaam Woensdag in Johannesburg gesê.

“Daar moet ’n portuurbeoordelingsmeganisme wees,” het Thoko Mkhwanazi-Xaluva aan joernaliste by die Rhema-kerk gesê waar ’n byeenkoms vir godsdiensleiers plaasgevind het.

“Die kerk, of watter formasie ookal, (moet kan) bymekaarkom en sê optrede is aanvaarbaar (of) hierdie optrede is nie aanvaarbaar nie,” het Mkhwanazi-Xaluva gesê oor die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe se volgehoue poging om wanpraktyke onder godsdiensleiers te verhoed.

Mkhwanazi-Xaluva, as voorsitter van die kommissie, het reeds in 2017 voorstelle by die parlement ingedien om kommersialisering van godsdienste in Suid-Afrika fyner dop te hou en te reguleer. Sy is deur onder meer die NG Kerk gekritiseer omdat die voorstelle volgens teenstanders na staatsregulering van godsdiens geklink het. – Kerkbode