Wat gebeur as die kerk se dak inval?

DS JOHAN KOEN, leraar by NG gemeente Burgersfort het die volgende getuienis met Kerkbode gedeel nadat ʼn verwoestende reënstorm en rukwind hulle kerk se dak laat inval het.


Op Sondag 26 Januarie 2019 het ons die kerk vroegoggend oopgesluit met die verwagting om saam met die lofprysingspan al die liedere deur te oefen en gereed te maak vir die erediens. Miskien moes die feit dat sewe bome op die terrein ontwortel of afgebreek was, sowel as die feit dat die alarms deur die nag afgegaan het, ons gewaarsku het. Maar niks het ons voorberei op die skok om in die kerkgebou in te stap en alles in totale wanorde aan te tref nie. Die plafonne het geval en het in stukke op die grond gelê, die kerkbanke was vol water en die matte ’n modder- en watergevulde moeras.

Teen die tyd dat ons van die ergste skok herstel en die skade besigtig het, was daar slegs ’n uur oor voordat die erediens sou begin. Om alles te kroon het die plafonne van ’n klomp van die kategeseklasse ook uitgeval en sou daar dus ook nie kategese kon plaasvind nie. Die saal moes vinnig voorberei word en almal wat reeds daar was én hulle wat opgedaag het, het ingespring en begin help om stoele uit te pak, klank aan te lê en seker te maak dat die erediens kon voortgaan. Die dataprojektor in die saal se dak was nou net ’n waterbak en ook onbruikbaar.

Maar om 08:30, presies op tyd, het die erediens begin en kon ons as gemeente die Here Jesus eer en prys vir wonderlike reën en die seën van sy goedheid in ons lewe. Een na die ander het die nuus ingekom van huise, tuine, geboue en die laerskool wat beskadig is en ons kon saam bid en God dank – daar was geen berigte van lewensverliese nie.

Na die erediens het helpers ingespring met grawe, kruiwaens, harke, besems en selfs met  hulle hande. Die ergste rommel in die kerkgebou is opgeruim en opgedroog.

In terugblik is die groot vraag: Hoe het dit ons geraak? Wat gebeur as die kerk se dak inval? Dit was die vraag wat in baie se harte geleef het. Behalwe vir die groot skok dat die totale skade ongeveer een miljoen rand beloop het, het ons ’n baie groter ontdekking gemaak. Die antwoord op die vrae was eintlik te sien in dit wat op daardie pragtige Sondag plaasgevind het – die kerk het aangehou om kerk te wees! Ons het saam gesing, saam gebid, saam geluister na God se Woord en ook saam ingespring om ’n hand by te sit om mekaar te ondersteun en te help waar ons kon. Toe iemand vra wat ons sou doen as die saal se dak ook beskadig was, was die antwoord eintlik maklik: dan het ons die erediens onder die bome gehou – dié wat nog regop was.

Die kerk van Jesus Christus is nie die gebou nie, hoe mooi en na aan ons harte dit ook al mag wees. Die kerk is die mense wat in Jesus Christus glo en wat ’n roeping het om te gee, te ondersteun en Jesus se hande vir mekaar te wees.

Vir die eerste keer sedert 1961 toe die kerkgebou ingewy is, was die erediens weer in ’n saal. Maar ook dit het niks verander in ons kerkwees en roeping nie. Op dieselfde dag na die storm is mense wat nie kos het nie gehelp, daar is saam gebid vir ’n seun in die gemeente wat op sterwe was, baie het hulp kom aanbied en baie het getuig oor God se beskerming in die storm. Daar is al intussen ’n doopdiens, die roudiens van die 13-jarige Kenan en eerskomende Sondag ook ’n nagmaaldiens in die saal gehou.

Ek dank die Here vir sy goedheid en vir ’n geestelike familie soos dié by Burgersfort-gemeente. Aan God kom toe al die eer tot in ewigheid.