Apartheid: ’n Volgende geslag se soeke na sin

Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd en My father died for this deur Lukhanyo en Abigail Calata
Uitgewer: Albei Tafelberg, 2018
Resensie: Stephan Naudé, Robert-John de Kock


Die boeke Bloedbande: ’n Donker tuiskoms deur Wilhelm Verwoerd en My father died for this deur Lukhanyo en Abigail Calata, gee twee verskillende perspektiewe op ’n donker tyd in Suid-Afrika se geskiedenis. Beide van hierdie boeke vertel inspirerende verhale van hoe Suid-Afrikaners bly soek en worstel na geregtigheid en versoening in die diep­gewortelde, apartheid-verskeurde land.

In die boek Bloedbande vertel Wilhelm Verwoerd die verhaal van ’n vloekwoord-familienaam en sy eie strewe na versoening. Hy begin deur ’n brief te skryf aan sy oupa, Hendrik Verwoerd. Hierin skets hy sy worsteling met sy aandeel aan apartheid en sy oupa “Verwoerd, die argitek van apartheid”.

In die res van die boek reflekteer Verwoerd op sy aandeel, ervaring en uiteindelike versoening met die verlede as ’n wit Suid-Afrikaanse “stryder vir Jesus”. Hy bou die basis van sy verhale rondom sy worsteling as student, tussen sy bloedbande aan die een kant en empatie vir die verpletterende skade van apartheid aan mede-Christene aan die ander kant.

In die boek My father died for this vertel Lukha­nyo Calata saam met sy vrou Abigail die roerende en inspi­rerende verhaal van sy besonderse familie en hul waag­moedige stryd teen apartheid en onderdrukking.

Dit is inspirerend hoe verskeie karakters opgestaan het teen ongeregtigheid. Verskeie mense het hulle le­we op die spel geplaas vir geregtigheid en bevryding in Suid-Afri­ka. Hulle was dapper en het volhard, al was die pad gedurig gevul met geweld en onderdrukking. Vir die volgehoue soeke na geregtigheid en vryheid is die Cradock Vier tragies gemartel en doodgemaak. Hulle is Fort Calata (Lukhanyo se pa), Matthew Goniwe, Sparro Mkonto en Sicelo Mhlawuli.

Hierdie twee boeke kan in gesprek met mekaar gelees word, juis omdat dit uit verskillende perspektiewe vertel hoe apartheid ’n lewensreis na versoening en gereg­tigheid inspireer. Die verhale van Verwoerd inspireer ons as jongmense om voort te bou op ge­regtigheid en versoening in Suid-Afrika. Dit stel ons bloot aan ons eie “witwees” en inspireer ons om dieper te worstel met versoening en ge­regtigheid. Hierteen­oor kweek die verhaal van die Calata-familie nie net empatie vir die “ander” nie, maar dit beklemtoon ook hoe mense wat saamstaan dapperheid kan koester, sodat veran­dering bewerkstellig kan word. Beide hierdie boeke word aanbeveel vir mense wat ’n passie het om die ongeregtigheid in Suid-Afrika te ver­ander.

Ds Robert-John de Kock is predikant by die NGK Nooit­gedacht en ds Stephan Naudé by NGK Newtonpark, albei in Port Elizabeth.