Die evangelie vat grond op ’n plék

Hartsplek is die titel van prof Nelus Niemandt se jongste boek. Neels Jackson het by hom gaan hoor hoekom dié boek, en wat het plek met geloof te doen.


Niemandt sê daar was drie waarnemings wat aanleiding gegee het tot die skryf van die boek.

In die eerste plek het hy onder die indruk gekom van lidmate se stories oor hoe ’n groot rol plek­ke in hulle lewe speel. Hy noem byvoorbeeld mense wat in Gauteng bly en werk, maar wat in hulle hart steeds Kapenaars is. ’n Mens sien dié soort verbondenheid in die boeke van skrywers soos Karel Schoeman en PJ Schoeman, maar ook in die gronddebat wat nou in Suid-Afrika gevoer word. Daar is ’n diep verbondenheid van mense aan plekke, maar daar word gods­dienstig min daaroor nagedink.

In die tweede plek het die missionale teologie hom laat besef hoe gemeentes geanker is in hulle plekke. Dit, merk hy terloops op, is waarom virtuele kerke nie werk nie. ’n Gemeente is geanker in ’n dorp of ’n voorstad of ’n omgewing en dit mis virtuele kerke. Maar toe hy meer wou lees oor ’n teologie van plek, besef hy daar is nie so iets nie.

Een van die haltes langs ’n staptoer van aanbiddingsplek­ke in Pretoria se middestad is die ou Capitol-teater naby Kerkplein wat deesdae as motorhawe gebruik word. Hierdie toer, wat dr Nico de Klerk van StreetBiz Foundation op ad hoc-grondslag lei, sluit talle kerke in en is vol voorbeelde van hoe die evangelie op ’n wyse eie aan die midde­stad grondvat.

Derdens het die studente in sy finalejaarsklas gevra wat dit beteken om te “wandel in die wêreld”. Hulle wou verder daaroor gaan lees, maar daar was niks waarna hy hulle kon verwys nie.

Dit alles het hom aan die dink en toe ook aan die skryf gesit oor geloof en plek.

’n Mens moet onthou dat al die Bybelverhale geanker is in plekke, sê Niemandt. Hy verwys na die verhaal van Jakob se droom wat hom vir altyd verbind aan Bet-El, die plek waar dit gebeur het.

En as jy in die Nuwe Testament die stories van gemeentes gaan lees, dan is elkeen verbind aan ’n plek. Dit is die gemeente in Efese, die gemeente in Korinte, of die gemeente in Rome.

Dié verankering aan ’n plek, bring Niemandt in verband met God se koms aarde toe in die Persoon van Jesus Christus. Hy het op ’n spesifieke tyd en en in ’n spesifieke omgewing – die Palestina van twee millennia gelede – mens geword en op die aarde tussen mense kom woon en werk.

Net so behoort gemeentes veranker te wees in ’n plek. Hulle moet die evangelie op daardie plek laat grondvat. En dit sal anders gebeur in ’n middestads­omgewing waar die mense gekonfronteer word met vraagstukke soos armoede, werkloosheid en haweloosheid, as in ’n plattelandse gemeenskap waar die mense boer en die groot kwessie vir hulle droogte is. Dis dieselfde evangelie, maar die manier waarop dit grondvat, verskil.

En omdat dit so belangrik is dat ’n gemeente gean­ker is in sy plek, is dit ’n goeie ding dat gemeentes name het wat hulle verbind aan die plek waar hulle die evangelie moet leef. Name soos Kemptonpark-Noord of Middelburg-Wes of Wellington.

Dit is hoe dr De Klerk met mense in gesprek tree in die strate van Pretoria. Foto’s: Le Roux Schoeman

Niemandt onderskei ook ’n reeks ander soorte plek­ke. Daar is mooi plekke. Mense beleef dit veral in die natuur waar hulle iets van God se grootheid raaksien.

Maar daar is ook lelike plekke, plekke wat deur die mens verniel is. Op sulke plekke is dit belangrik om te verstaan dat God oral teenwoordig is, ook daar waar dit moeilik is om God se teenwoordigheid raak te sien.

Op sulke plekke is dit gelowiges se taak om so te gaan lewe dat mense se oë oopgaan vir God se teenwoordigheid ook daar – juis daar waar dit lelik is. Daarom skryf Niemandt ook oor plekke van genesing, plekke waar mense kan heel word, waar wonde genees word.

Dieselfde soort uitdaging geld gelowiges op vreemde plekke. Niemandt verwys na Israel in ballingskap. Hulle moes besef dat God ook daar teenwoordig is, en hulle moes daar leef met dié wete.

En as ’n mens deur die Bybel blaai, is daar baie verhale, reisverhale waar God mense na vreemde plekke toe neem. Dit wissel van Abraham wat moes trek, tot by Paulus, wat duisende kilometers gestap het juis om op vreemde plekke God se teenwoordigheid te laat sigbaar word.

Niemand skryf oor die belang van stil plekke, en verwys onder meer na retraitesentrums waar ’n mens kan stil word. Hy verwys ook na heilige plekke “waar die membraan tussen die heilige en die gewone baie dun is”. Dít, sê hy, is waarom mense pelgrimstogte onderneem na plekke waar daar ’n verwagting is dat hulle naby God sal kom.

God is eenvoudig op party plekke anders teenwoordig as op ander. Daarom dat die inrigting van plekke van aanbidding belangrik is. ’n Christuskers help mense byvoorbeeld om bewus te wees dat God teenwoordig is.

Die hele gedagte van plek is ook ter sprake in die debat oor grondhervorming. Christene bely immers die hele aarde behoort aan die Here.

Deur dit alles loop die gedagte dat die evangelie moet grondvat. Die kerk hou haarself nie besig met pienkwolkieteologie nie, sê Niemandt. Die evangelie moet ruik en smaak soos die plek waar dit grondvat.

Hartsplek word uitgegee deur Bybel-Media.