Brief uit Ysterplaat: Jesus sou hier uithang

“Ek is ’n dominee in Ysterplaat!” “Skuus dat ek nou vra, maar waar is dit nouweer presies”? “Presies in die middel van die Waterfront en Canalwalk langs die N1 in die Kaap.” Vir baie ooms lui dit nog ’n klokkie as die plek waar hulle hul lugmag-dae spandeer het. “Maar oom, dinge lyk nou anders daar.”

Mens is baie goed daarin om te jaag van die een vergadering na die volgende om agendas te bespreek met geen uitkoms nie. Ons is so gewoond om agter hoë mure en sterk heinings te skuil, dat ons blind geraak het vir mekaar.

Ons probeer met nuwe oë kyk in Ysterplaat!

Deesdae gons Ysterplaat as ’n gemeenskap waar ek nogals dink Jesus sou uithang – divers en kompleks. Op die hoeke staan prositute, dwelmhandelaars en verslaafdes, kinders wat bedel, gangsters, arm bejaardes wat sukkel van maand-tot-maand, en weerlose kinders wat kop-bo-water moet hou in moeilike omstandighede. In die hartjie van hierdie gemeenskap is ons kerk, met die moskee om die hoek. Hier slaap mense van verskillende gelowe in die Echohuis – gebou op die verhoog van die kerksaal – en Christene koop kos by die plaaslike Indiese mark.

Om relevant te probeer wees as NG Kerk in so ’n diverse gemeenskap soos Ysterplaat vat meer as bloot dieselfde dominee wat elke Sondag preek oor God se liefde. Die oomblik toe ons gemeente ophou vergader met lang agendas oor wat die toekoms mag inhou en besef het die antwoord is meer as ’n duisend jaar oud, het dinge meer in plek begin val. Ons probeer doelgerig en intensioneel lewe in gemeenskap: Ons eet saam, draf saam, bid saam, lag saam, treur saam en ons verdeel verantwoordelikhede volgens elkeen se gawes. Dis nie perfek nie, maar ons probeer.

Tannie Madge het eendag opgedaag by die kerk met ’n papier wat haar opleiding bevestig, en met ’n hart en hande vol bereidwilligheid om te help. Sy is 77 jaar oud en sorg nou dat 15 kinders elke dag ’n ordentlike en gesonde middagete by die kerk eet – iets wat sommige van hulle vir die eerste keer ooit kry, en ek mees­t­al vanselfsprekend aanvaar het.

Jean-Jacques van die Kongo kan nie ’n woord Afrikaans praat nie, maar speel klawerbord in ons dienste en sing uit volle bors saam. Ons oefen darem nou al ’n paar Engelse liedere ook. Oom Barney kweek groente op ’n klein stukkie grond buite die kerk wat help dat die kinders vars groente kry om te eet. Ek dink niemand ken die grond van die aarde soos hy nie.

Ek leer meer by hierdie mense en hulle stories oor wat dit beteken om te dien as wat ek ooit vir hulle kan leer – met my 6 jaar se studies en al.

Om met nuwe oë te kyk na wat van ons as Christene verwag word, moet ons dalk toelaat dat die mense met wie Jesus gesels en geleef het naby aan ons ook kom. Jesus was nog altyd soveel groter as ons idees oor hom. As ons regtig onsself volgelinge van Jesus noem, sal ons met nuwe oë moet begin kyk na die mense om ons en bereid wees om te luister na stories wat buite ons gemaklike verwysingsraamwerke val.

Die Handelinge-kerk (Handelinge 2 en 4) het met nuwe oë gekyk na mense en gedeel wat hulle het. Ons moet dalk ons Handelinge-oë oopmaak, en deel word van gemeenskappe waar ons in ons gebrokenheid mekaar kan dien en omarm. Dis soms moeilik, maar só nodig!

Ek het vir lank met God geworstel oor die nood wat ek hier sien en gewonder waar Hy is. Ek het besef Hy was nog altyd daar, maar ons was nie. Ons was nog heeltyd te besig met vergaderings terwyl ons ons ge­stuurheid om na mekaar om te sien gemis het.

“Is dit nie gevaarlik vir jou om in Ysterplaat te werk nie?” “Nee oom. Kom kuier bietjie vir my, dan wys ek jou!”

▶ Ds Scherlize Hayes is die leraar van die NG gemeente Ysterplaat-Suid.